Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Die Burger verander frekwensie, formaat in die Oos-Kaap

Die Burger se Oos-Kaapse uitgawe gaan vanaf 20 Julie vanjaar net op Vrydae in papierformaat verskyn, en sal volledig as ‘n e-koerant op die ander weekdae beskikbaar wees op Netwerk24, digitale tuiste van Media24 se Afrikaanse publikasies, het Media24 vandag (13 Junie 2018)  bekend gemaak.

Esmaré Weideman, uitvoerende hoof van Media24.

Esmaré Weideman, uitvoerende hoof van Media24, sê dit gaan goed met die meeste van Media24 se koerante, maar in die Oos-Kaap – waar adverteerders toenemend die reikwydte van die maatskapppy se sterk portefeulje gemeenskapskoerante verkies – is dit ongelukkig nie meer volhoubaar om Die Burger se Oos-Kaapse streeksuitgawe met sy betreklik lae sirkulasie in die huidige gedrukte formaat uit te gee en oor so ‘n groot streek te versprei nie.

Sy het beklemtoon dat daar geen planne is om Die Burger aan die Oos-Kaap te onttrek nie. “Ons verbintenis met die Oos-Kaap strek agt dekades terug na 1937 en ons is vasbeslote om dit voort te sit; ter wille ook van die behoud van Afrikaanse gehaltejoernalistiek ten bate van die hele provinsie.”

Die Burger in die Wes-Kaap, Media24 se oudste dagblad wat sedert 1915 verskyn, is finansieel gesond en word glad nie deur die frekwensieverandering van sy susterkoerant geraak nie.

Willem Jordaan, redakteur van Die Burger, sê hierdie oorskakeling – wat nie ewe gemaklik vir lojale Oos-Kaapse lesers sal wees nie – gaan gepaard met ‘n intekenaanbod op ‘n druk- en digitale pakket wat verreweg die beste waarde vir geld bied in Afrikaans.

“As jy vir R99 per maand inteken op Die Burger kry jy op Netwerk24 ook toegang tot 35 Afrikaanse koerante en 11 Afrikaanse tydskrifte. Daar sal ook ‘n skerper streeksfokus wees in die Oos-Kaapse Vrydag-papierkoerant as wat tans die geval is. Ons versterk die nuuskantoor en -dekking in die streek en die Vrydag-koerant kry reeds vanaf 22 Junie ‘n stewige nuwe bylaag, Naweek, by.

Willem Jordaan, redakteur van Die Burger.

“Ewe belangrik is dat al die weeksdag-uitgawes steeds beskikbaar is – presies soos dit tans in papierformaat lyk, met advertensies en al – op ‘n slimfoon, tablet of rekenaar. Ons adverteerders het dus steeds daagliks volle toegang tot ons lesers, met die groter Vrydag-uitgawe wat nuwe geleenthede bied.”

Volgens  Esmaré is dié verandering in pas met Media24 se strategie om hom as Afrika se voorste digitale uitgewer te vestig wat ook suksesvolle drukmedia bedryf.

“Lesers wêreldwyd kry toenemend hul nuus aanlyn en advertensiegeld skuif ook na digitale media. Ons hersien dus gereeld ons portefeulje voorste gedrukte en digitale produkte. Die frekwensieverandering van Die Burger in die Oos-Kaap is nodig om die voortbestaan van Afrikaanse nuusmedia en Die Burger as een van Media24 se sterkste handelsmerke in die streek te verseker.

“As ‘n innoverende en verantwoordelike onderneming gaan ons voort om by verbruikers se behoeftes en voorkeure aan te pas en nuwe geleenthede en formate in druk en digitaal te ondersoek wat ook waarde bied aan ons getroue en nuwe adverteerders.”

Vir R99 per maand kry Oos-Kaapse intekenare hul papierkoerant met sy nuwe Naweek-bylaag op Vrydae afgelewer, al die elektroniese weergawes van die daaglikse koerant op weeksdae, die elektroniese uitgawes van die vier weeklikse Oos-Kaapse gemeenskapskoerante (PE EXpress, UD EXpress, Kouga Express en die Mid-Karoo Express) én volle toegang op Netwerk24 tot 35 Afrikaanse koerante en 11 Afrikaanse tydskrifte.

Die enigste verskil vir bestaande intekenare op die Saterdag-papierkoerant met volle toegang tot Netwerk24, is dat hulle vanaf 20 Julie hul papierkoerant (met die bylaag) op Vrydae sal ontvang.

  • Vir medianavrae kontak Lea-Anne Moses, Media24 hoof van korporatiewe kommunikasie, by 021 406 3413 of by LeaAnne.Moses@media24.com.
  • Vir algemene navrae van die publiek en tegniese ondersteuning, moenie skroom om ons dienssentrum te kontak nie. Bel gerus 087 740 1073 of stuur ’n e-pos aan diens@netwerk24.com.
Meer oor:  Oos-Kaap  |  Esmare Weideman
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.