Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Dorp wat homself gered het

’n Gemeenskap wat saamstaan, kan ’n dorp red.

Pongola staan saam: Stephan Weich, ’n bestuurslid van die sentrale GPF, Sibusiso Mhlongo, burgemeester, June Mbongwa, polisiekantoorbevelvoerder, en VP Khumalo van die plaaslike taxibedryf. Foto: Deon Raath

Dit is wat die mense van Pongola, die landboudorp in die noorde van KwaZulu-Natal, verlede week geleer het toe ’n gesamentlike poging van boere, taxi-organisasies en die twee gemeenskapspolisiëringsforums die dorp van plunderaars gered het.

Terwyl elke dorp in ’n 100 km-ra­dius rondom die dorp op die Eswatini-grens bykans verwoes is, het nie ’n enkele onderneming in Pongola – ’n dorp met sowat 150 000 inwoners – skade gely nie.

Die totale chaos voorverlede week in die provinsie het ’n heeltemal teenoorgestelde uitwerking op die inwoners van Pongola gehad, sê Stephan Weich, ’n bestuurslid van die sentrale plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF).

“Dit het elke inwoner laat besef dit is ons almal se dorp en die gebeure het ons baie nader aan mekaar gebring.”

Weich sê die mense van Pongola het nie net daarin geslaag om elkeen van die ondernemings in die dorp teen plunderaars te beskerm nie, maar gedurende die ergste van die plundertogte in die provinsie het meer as 700 vragmotors buite die dorp skuiling gesoek waar hulle 24 uur van die dag deur inwoners en die polisie bewaak is.

Nadat die verkeer op 11 Julie op die N2 in die rigting van Richardsbaai ontwrig is, het gerugte die ronde begin doen dat daar planne is om dorpe in die noorde van KwaZulu-Natal te teiken. Weich sê die GPF het dieselfde dag nog met eienaars van ondernemings vergader om die situasie te bespreek.

“Daar is toe besluit om die hele dorp te sluit. Ons het sewe padversperrings by die ingangsroetes opgestel en die waterwerke en elektrisiteit-substasie opgepas nadat ons inligting ontvang het dat die infrastruktuur geteiken gaan word.”

‘Dit het elke inwoner laat besef dit is ons almal se dorp.’

Hy sê die hele dorp was Maandag toe, maar een winkeleienaar het hul besluit geïgnoreer en sy deure die oggend oopgemaak. ’n Video het toe op Facebook sy verskyning gemaak wat wys hoe swart mense voor die winkel in ’n ry staan terwyl wit mense met sakke vol kos daar uitstap. Die bewering was dat net wit mense toegelaat word om by dié winkel te koop.

Weich sê hulle het onmiddellik besef hulle sal moet ingryp om ’n rasse-voorval te voorkom. Die gemeenskap sal uit een mond moet praat as hulle enige plundering wil voorkom.

’n Paar ure later was verteenwoordigers van die GPF’s van Pongola en die Ncotshane-township, die taxibedryf, polisie, weermag, departement van welsyn, tradisionele leiers, die munisipale bestuurder, opposisiepartye, en ’n verteenwoordiger van die Zululand-distriksmunisipaliteit om dieselfde tafel.

“Dit was die eerste keer in die dorp se geskiedenis dat ons soveel rolspelers – wit en swart – om ’n tafel gekry het.”

Almal het saamgestem dat “alles weg is as die dorp weg is” en dat almal sal moet saamstaan om die dorp se infrastruktuur 24 uur per dag te beskerm.

Daar is toe ooreengekom dat niemand behalwe “Pongoliete” – mense van Pongola en Ncotshane – in die dorp toegelaat sal word nie. Geen voertuie van buite en geen busse of vragmotors mag die dorp binnekom nie.

Die N2, wat reg deur die dorp loop, sou gesluit bly en koswinkels sou net tussen 09:00 en 15:00 oop wees vir sake. Niemand is toegelaat om meer as twee van dieselfde items te koop nie. Die stadsraad en die polisie het ingeval by die planne en binne ses uur het sowat 120 vrywilligers hul aksieplan gereed gehad.

Vragmotors is op die N2 buite die dorp voorgekeer omdat hulle wou verhoed dat voertuie naby die dorp aan die brand gesteek word. Meer as 700 vragmotors wat by oornagstaanplekke aan albei kante van die dorp gestrand was, is deur gewapende inwoners bewaak.

Meer as 700 vragmotors het vir die duur van die oproer in Pongola skuiling gesoek waar hulle deur gewapende inwoners teen plunderaars beskerm is.

Weich sê taxi’s het gehelp om mense uit die dorp te kry nadat hulle hul inkopies gedoen het. Teen 15:00 was daar nie ’n enkele siel meer in die middedorp nie.

“Ons was skrikkerig dat ons stappe moontlik tot rasse-voorvalle kon lei, maar al wat ons gekry het was boodskappe van dankbaarheid. Taxibestuurders en huisvroue het in rye langs mekaar gestaan en wag om kos te koop terwyl hulle met mekaar gesels het. Daar was hierdie ongelooflike integrasie van ons gemeenskap sonder dat dit beplan is.”

’n Belangrike deel van die plan was om die N2, een van die belangrikste roetes tussen Gauteng en Richardsbaai, so gou as moontlik te heropen. Teen Dinsdag om 04:00 het boere begin om klippe, rotse en gebrande bande wat die N2 noord van die dorp versper het, met ’n stootskraper te verwyder sodat hulle die pad kan gebruik en die dorp se verbinding met Gauteng herstel kon word.

Plaaslike taxibestuurders en lede van die GPF van die Ncotshane-township het ook gehelp om die N2 noord en suid van die dorp skoon te maak. Teen Donderdag was die pad veilig genoeg dat die honderde vragmotors wat toe reeds dae in Pongola gestrand was, weer kon begin beweeg.

In daardie stadium was dit een van die min veilige roetes tussen Gauteng en Durban.

“Al die motors wat deur Pongola kom, is deursoek en ons het op hope dagga en geplunderde goedere afgekom.”

Weich sê winkel- en garage-eienaars het hulle op hoogte gehou van die dorp se voedsel- en brandstofvoorraad.

“Ons het gehoor dat al die dorpe rondom ons tot in Vryheid groot skade gely het en dat mense desperaat is vir kos en brandstof.”

Dit het dus onhoudbaar geword om steeds mense van buurdorpe te verhoed om inkopies in Pongola te kom doen. Hulle het toe begin om ook motors van ander dorpe in die sakekern toe te laat, maar groot groepe mense in oorlaaide voertuie en busse is steeds verbied.

“Indien geweld wel sou opvlam, het ons geweet ons sou die dorp binne 15 minute weer kon sluit.”

Weich sê die polisie, die weermag en die verkeerspolisie het in daardie stadium ook begin help. Hy sê gemoedere het wel effens hoog geloop toe ’n boer in die omgewing waarskuwingskote geskiet het nadat sy suikerriet aan die brand gesteek is. ’n Storie het begin loop dat hy ’n tienerseun geskiet het wat suikerriet gesteel het.

“Die boer is met die dood gedreig, maar plaaslike leiers het die situasie ontlont.”

Die GPF het uiteindelik verlede Sondag onttrek sodat die polisie en die weermag die paaie self patrolleer.

“Ons is baie bly dat die polisie en die weermag die patrollies oorgeneem het, want dit is hul werk en nie ons s’n nie. Ons ouens was baie moeg en hulle wou aangaan met hul eie lewe.”

Hy sê een van die redes waarom die polisie nie vroeër patrollies kon doen nie, was omdat hul voertuie stukkend en hul batterye pap was.

“Ons het hul voertuie reggemaak en dit was binne vier uur op die pad. Die stasiebevelvoerder was in trane. Sy kon nie die goedgesindheid glo nie.”

Weich sê die weermag wat die Eswatini-grens oppas, kon nie verlede Dinsdag ontplooi word nie omdat hulle vir magtiging moes wag.

“Hulle was egter in ons vergaderings en ons het toe druk op hulle geplaas om betrokke te raak.”

Sibusiso Mhlongo, burgemeester van die uPhongolo-munisipaliteit, het groot waardering vir almal wat gehelp het om die plundering en brandstigting te keer.

“Die gemeenskap het gewys dat ons meer kan uitrig as ons saamstaan. Ons het gesien dit is beter om as ’n span saam te werk. Ek het vir die eerste keer gesien hoe die polisie, die verkeerspolisie en die weermag, wat gewoonlik met mekaar baklei, saamwerk.”

Hy sê daar was geen sprake van rassisme nie. “Ons het saamgestaan teen die plunderaars. Die anargiste het seker gemaak dat ons bure niks oor het nie, maar ons het gewys dit is vir ons onaanvaarbaar.”

Hy sê die gemeenskap se gesamentlike pogings om die dorp te beveilig, het verseker dat dit staande gebly het.

“Dit het ons bymekaar gebring en ons moet daarop voortbou. Ek prys ons gemeenskapsleiers en inwoners wat ongelooflik goed saamgewerk het en al die opdragte gehoorsaam het om ons dorp te beveilig. Dit was pynlik om mense van ander plekke aan die begin weg te wys, maar hulle waardeer dat ons nou die plek is wat almal kan help. Die plunderaars sit nou sonder kos en klere en hulle besef dat hul aksies hulle niks in die sak gebring het nie.”

VP Khumalo, ’n verteenwoordiger van die plaaslike taxibedryf, sê Pongola behoort aan al sy mense en dit is verblydend dat die hele gemeenskap saamgestaan het om dit te beskerm.

“Ons voel trots om deel te wees van ’n groep uiteenlopende mense van alle rassegroepe wat saamgestaan het om ons dorp te beskerm,” sê hy.

’n Opname deur die landbou-organisasie Kwanalu, ’n filiaal van Agri SA, het Dinsdag bevind dat 64% van dorpe in die provinsie ’n ernstige voedseltekort beleef terwyl ’n derde van dorpe matige voedseltekorte weens die plundery ervaar.

Pongola is deel van net 4% van dorpe in die provinsie wat steeds oor relatief veilige voedselbronne beskik.

Meer oor:  Taxibestuurders  |  Plundering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.