Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Die dossier teen Bokke se Eben Etzebeth

Wat in Langebaan gebeur, bly nie in Langebaan nie. Nie as jou naam Eben Etzebeth is nie.

Verlede naweek se gebeure in dié gewilde vakansiedorp aan die Kaapse Weskus hang soos ’n reuseskaduwee oor die Springbokke se Wêreldbeker-veldtog wat Saterdag begin het met die Springbokke se aankoms in Tokio – die eerste span wat in Japan gearriveer het vir die toernooi wat op 21 September afskop met ’n wedstryd teen die All Blacks.

Eben Etzebeth in ligte luim saam met die Bokstut Beast Mtawarira Vrydag voor die Bokke se vertrek na Tokio vir die wêreldbeker. Foto: Deaan Vivier

Rapport kan vandag onthul dat die polisie aan die Weskus reeds ’n dossier met verklarings oor twee aanrandingsklagte teen die Springbokslot Eben Etzebeth aan die nasionale vervolgingsgesag (NVG) oorhandig het.

Die dossier is, nadat dit vroeër die week aan die staatsaanklaer in Vredenburg voorgelê is, aanvanklik teruggestuur vir verdere ondersoek. Die werk is intussen voltooi en dit sal skynbaar Maandag reeds op die tafel van die direkteur van openbare vervolging in Kaapstad land vir ’n finale besluit of Etzebeth vervolg gaan word. Dit duur gewoonlik enigiets tussen vier en ses weke vir die NVG om ’n besluit oor vervolging te neem.

Rapport verstaan dat SA Rugby se uitvoerende hoof, Jurie Roux, die afgelope week persoonlik by die kwessie betrokke geraak het deur ’n ultimatum aan Etzebeth te stel oor sy deelname aan die Wêreldbekerrugby.

Op ’n video wat die afgelope week die ronde gedoen het en wat blykbaar by die klub gemaak is, kan ’n mens hoor hoe ’n man gil: “F****f, f****f, f****f almal.” Iemand anders sê dan: “They apolo­gised, apologised, they apologised, Eben.”

’n Onberispelike bron sê daar is vir Etzebeth gesê dat as hy wel rassisties opgetree het en iemand aangerand het, hy nie aan die toernooi mag deelneem nie. As hy oor die voorval lieg, sal hy nooit weer vir die Springbokke speel nie.

Etzebeth hou vol dat hy nie betrokke was by enige rassistiese voorval nie.

“Dit is heeltemal onwaar en ongegrond om te beweer dat ek iemand fisiek of rassisties in Langebaan mishandel het, soos op sosiale media beweer is. Verskeie getuies kan dit bevestig,” het Etzebeth verlede Sondag al in ’n Facebook-inskrywing gesê.

“Ek is en sal altyd daarna streef om ’n ware ambassadeur vir hierdie pragtige reënboognasie en die sport waarvoor ek lief is te wees.”

Etzebeth se vriende het ook blykbaar beëdigde verklarings afgelê wat sy weergawe staaf dat hy nie betrokke was nie.

Ook die Springbokafrigter Rassie Erasmus staan agter die slot – die tweede mees ervare Springbok in sy groep. “Die speler en die afrigter het ’n verhouding, so elke keer as iemand iets sê, kan jy nie reageer nie, want ek ken nie daardie persoon nie. Maar ek ken vir Eben,” het Erasmus gesê.

“Ek het gesit en na sy storie geluister en ek glo hom. Totdat daar iets anders uitkom, gaan ek nie optree nie. Dit was die heeltyd die geval.”

’n Stem sê dan: “Ek maak ’n video van die n*** wat vir die Springbokke speel”.

Die vraag bly egter steeds: Watter invloed gaan die wolk van ’n moontlike vervolging op die Bokslot se Wêreldbekertoernooi hê? En hoe lank gaan die regsproses sloer voordat ’n finale besluit oor sy vervolging, al dan nie, geneem word?

Etzebeth se probleme spruit uit aanrandingsklagte wat deur twee inwoners van Langebaan, Enver Wils­nach (42) en Shiyaad Smith (21), teen hom ingedien is. Die twee beweer dat Etzebeth hulle verlede Sondag in die vroeë oggendure buite ’n kuierplek in Langebaan met ’n vuurwapen deur die gesig geslaan het. Foto’s van Wils­nach se opgehewe gesig is die afgelope week op sosiale media versprei.

Uit Rapport se navrae blyk dit dat Etzebeth en ’n groep van tussen tien en 15 vriende reeds van vroegaand in Langebaan opgemerk is en dat daar taamlik luidrugtig partytjie gehou is. Daar was minstens drie insidente:

* Victor Khan, ’n lid van Langebaan se seiljagklub, het vroeër die week in ’n e-pos aan die klub kapsie gemaak teen die optrede van ’n groep mans, waarvan Etzebeth blykbaar deel was. Khan beweer dat die groep aggressief opgetree het en dat die woord “h*tn*ts” tydens die woordewisseling gebruik is.

’n Persoon wat die aand in die klub was, bevestig dat Etzebeth die aand daar was en dat dinge by tye taamlik luidrugtig was. “Mense het vanaf ’n tafel (naby dié van Etzebeth) heeltyd vir hom gegil hy speel k*k rugby,” het Rapport se bron gesê op voorwaarde dat hy nie geïdentifiseer word nie. Hy het nooit gehoor dat Etzebeth self rassistiese taal gebruik nie.

Op ’n video wat die afgelope week die ronde gedoen het en wat blykbaar by die klub gemaak is, kan ’n mens hoor hoe ’n man gil: “F****f, f****f, f****f almal.” Iemand anders sê dan: “They apolo­gised, apologised, they apologised, Eben.” Rapport kon nie vasstel wie die video gemaak het nie.

Etzebeth het Maandag aan Netwerk24 erken dat daar ’n voorval by die seiljagklub was, maar het gesê dat hulle vreedsaam uitmekaar is. “Ons het nog hand geskud,” het hy gesê.

* Etzebeth se groep is daarna na Die Watergat, ’n gewilde kuierplek in Langebaan se hoofstraat.

Hier het blykbaar ’n stryery uitgebreek tussen lede van Etzebeth se groep en ander kliënte. Riaan Reeders, eienaar van Die Watergat, het vroeër die week aan Netwerk24 gesê Etzebeth was nie betrokke nie. ’n Onafhanklike ooggetuie het Reeders se weergawe aan Rapport bevestig.

Omstreeks 2:00 Sondagoggend is die Etzebeth-groep na hul motors wat voor Die Watergat geparkeer was.

Op pad na sy motor het Etzebeth se pad na bewering gekruis met dié van Smith en Wilsnach, wat vanaf ’n ander kuierplek, die 5 o’Clock Sports Bar, reg oorkant Die Watergat, op pad was huis toe.

Volgens Smith en Wilsnach het Etzebeth toe aan hulle gesê: “Wat soek julle h*tn*tte hierso?” Sake het daarna vinnig handuit geruk. Iemand – Smith en Wilsnach ontken dat dit hulle was – het blykbaar ’n baksteen of klip na Etzebeth se motor gegooi toe hy in sy kar klim. Etzebeth het glo uitgespring en na bewering vir Wilsnach en Smith aangerand deur hulle met ’n vuurwapen in die gesig te slaan.

Shiyaad Smith en Enver Wilsnach beweer dat sommige van Etzebeth se vriende intussen ook van hul eie motors af nader gestaan het om aan die bakleiery deel te neem.

Op ’n baie grinterige selfoonvideo, wat blykbaar dié oggend geneem is, kan ’n mens sien hoe ’n man met ’n Adidas-hemp skynbaar deur ’n vriend teruggehou word. ’n Stem sê dan: “Ek maak ’n video van die n*** wat vir die Springbokke speel.” In die agtergrond kan nog iemand gehoor word wat sê: “Ek sal hom in sy p**s steek.” Smith en Wils­nach is dieselfde nag nog in die Vredenburgse provinsiale hospitaal opgeneem en is deur die loop van Sondag ontslaan.

Hul prokureur, Nigel Samuels, sê sy kliënte se weergawe van gebeure word deur twee ander getuieverklarings ondersteun.

Etzebeth se prokureur, André Calitz, sê egter daar is “ ’n menigte getuies” wat Etzebeth se weergawe van die aand kan staaf. Calitz het benadruk dat Etzebeth ontken dat hy by enige aanranding betrokke was of enige rassistiese aanmerkings gemaak het.

Intussen het Sammy Claassen, ’n oudburgemeester van die Bergrivier-munisipaliteit (waarvan Piketberg die hoofdorp is) en deesdae die leier van die Khoisan Defiance Campaign, ’n klag van rassisme teen Etzebeth by die Menseregtekommissie ingedien.

Claassen het vroeër gedreig met ’n “shutdown-optog” in Langebaan, maar die optog is uitgestel nadat Chris Nissen, die MRK se kommissaris in die Wes-Kaap, beloof het om vandag met Wilsnach en Smith in Langebaan te vergader. Etzebeth het reeds Donderdagmiddag met die MRK vergader en aangedui dat hy bereid is om sy volle samewerking met hul ondersoek te gee.

Adv. André Gaum, MRK-kommissaris, het vroeër gesê hulle sal nie Etzebeth se deelname aan die Wêreldbeker-rugbytoernooi probeer stuit of hom in Japan steur nie en onderneem om slegs met sy regsverteenwoordigers te korrespondeer.



Meer oor:  Eben Etzebeth  |  Shiyaad Smith  |  Langebaan  |  Rassisme  |  Springbok  |  Aanranding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.