Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Die Du Plessis’s word Lucky . . .

Toe Lucky Mosesane vyf jaar oud was in gr. 1 wou net een Afrikaanse kind in die hele skool sy maatjie wees: Charl du Plessis.

Lucky du Plessis en sy ma, Marikie. Foto: Elizabeth Sejake

Dit was hoeka die sesjarige Charl wat alarm gemaak het toe sy pel Lucky vir dae nie opdaag by die Laerskool Florida aan die Wes-Rand waar hulle klasmaats was nie. Dit was in 1992.

Nou is Charl en Lucky broers en is Lucky die trotsste Du Plessis in die hele gesin.

Rapport het Lucky en sy familie die afgelope week besoek nadat hy die trane op Twitter laat vloei het met die storie oor hoe hy deur aanneming ’n Du Plessis geword het nadat eers sy biologiese ouers en toe die vroue wat na hom omgesien het, uit sy lewe verdwyn het.

Toe Lucky destyds nie opdaag vir skool nie, is Charl se ma, Marikie, na die verlate huis waar Lucky saam met dosyne ander mense gewoon het. Sy het hom helder oordag met maagpyn in die bed aangetref.

Ek het al baie oor my aanneming gepraat en dit gee mense hoop.

Marikie het besef hy het dae laas geëet en het Lucky saam met haar huis toe geneem. Sy het ’n briefie gelaat as iemand na Lucky sou soek.

Niemand het ooit nie.

Marikie en Erik, haar man, het destyds nie besef dat die polisie toegeslaan het by die huis waar Lucky gewoon het omdat ’n onwettige sjebien daar bedryf is nie.

’n Vreesbevange klein Lucky het weggehardloop en toe die groep mense in hegtenis geneem is, was hy stoksielalleen.

Lucky en sy gesin meer as ’n dekade gelede: Lenadri, sy ma, Marikie, Charl, Erika, Philip en pa Erik.

Ook die vrou wat na hom omgesien het – ’n dwelmverslaafde alkoholis, het hy op Twitter vertel – was skoonveld. Hy het ’n paar aande alleen buite geslaap totdat Marikie hom kom haal het.

Sy biologiese ouers het hy op driejarige ouderdom laas gesien.

Een aand het Erik, wat verlede Januarie aan kanker dood is, tuisgekom en gevra wat met Lucky gaan gebeur.

“Ons het tot toe nooit voorheen daaraan gedink om ’n kind aan te neem nie, ons het reeds vier kinders gehad,” vertel Marikie by Lucky (33) en sy vrou, Bianca (38), se huis in Randparkrif in die noordweste van Johannesburg. Só het sy nuwe lewe 28 jaar gelede begin.

Vandag is Lucky ’n radio-omroeper by East Coast Radio en tot Junie was hy by 94.7 medeaanbieder van die Greg and Lucky Show.

Lucky du Plessis by sy vrou, Bianca, en hul eenjarige seun, Diego.

Die aanneming het jare geduur. Aanvanklik het niemand eens geweet presies hoe oud klein Lucky was nie.

By die dokter is sy ring- en wysvingers geskandeer, waarvan die beengroei gewys het hy was toe vyf jaar oud en dat hy iewers tussen Junie en Oktober in 1987 gebore is. Marikie het 15 Augustus as sy verjaardag gekies.

“Hy wou vreeslik graag ’n verjaardagpartytjie gehad het, so hy wou ’n verjaardag hê,” onthou sy.

“Toe my ma my van Charl se verjaardag vertel het, ek gedink dit is só ’n koel konsep! En ek is na Charl se verjaardag toe en dit was wonderlik, almal bring vir jou geskenke!” sê Lucky.

“Niks het verander nie,” skerts Bianca.

Lucky: “Ek het sewe jaar se verjaardae gemis. Ek behoort iets daarvoor te kry!”

In 1999 was die aannemingsproses uiteindelik voltooi en was die twee beste vriende ook broers.

Charl het Lucky leer rugby speel en hy het twee keer Cravenweek gespeel.

Uiteindelik is Lucky na St Stithians College met ’n beurs, maar sy rugbyloopbaan is deur ’n kniebesering kortgeknip.

’n Dag voor sy troue in Desember 2016 met Bianca, saam met wie hy by ’n reklameagentskap gewerk het, is Lucky se van amptelik verander na Du Plessis.

Marikie sê Lucky is deesdae die trotsste Du Plessis in die Du Plessis-clan.

Aan sy hand pryk selfs ’n ring met die Du Plessis-familiewapen.

Lucky sê as kind het hy nooit regtig die waarde van sy storie besef nie.

“Eers toe ek ouer word, het ek gedink dit kon mense help wat ’n kind wil aanneem. Ek het al baie oor my aanneming gepraat en dit gee mense hoop.”

Marikie sê sy sê altyd vir Lucky hy is gebore om tot mense se harte te spreek.

“Hy het ons lewens op ’n besonderse manier aangeraak.”

Meer oor:  Lucky Du Plessis  |  Charl Du Plessis  |  Aanneming
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.