Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Die grond, ‘bagarezi’ en die ‘opswepers’

’n Eiendomsontwikkelaar van Kaapstad het op die harde manier uitgevind dis beter om sélf ’n ogie oor jou goed te hou.

’n Winkelsentrum word vir dié stuk grond in Centur
’n Winkelsentrum word vir dié stuk grond in Centurion beplan, maar afvalinsamelaars wil daar bly woon en werk. Foto: Verskaf

Eugene Clark wil oor sewe maande ’n winkelsentrum op sy stuk grond van 3,3 ha in Centurion oprig, maar ’n groep afvalinsamelaars plak reeds sedert 2016 daar. ’n Kruitvat het Dinsdag op dié stuk grond in Eldoraigne ontplof toe Clark se veiligheidswagte en die afvalinsamelaars slaags geraak het.

Die wagte het na bewering die plastiek wat vir herwinning bestem is aan die brand gesteek, waarop die bagarezi, soos hulle na hulself verwys, die wagte se voertuie aan die brand gesteek het. Twee voertuie het uitgebrand en ’n derde is beskadig.

Louise du Plessis, prokureur namens Regslui vir Menseregte (LHR), sê die afvalinsamelaars woon van Oktober 2016 op die grond. Hulle kon tot Maandagoggend by die hek van die erf in- en uitgaan. Toe is die hek gesluit en ’n bord is opgesit wat herwinning verbied.

‘Ek moet elkeen R10 000 betaal.’

LHR dien dié week ’n hofaansoek in om 45 mense op die grond te probeer terugkry.

Luidens die hofstukke is dit die soveelste hofaansoek namens mense wat sonder ’n uitsettingsbevel onwettig van grond afgesit en wie se hutte vernietig is. Maar Clark sê hy het die afvalinsamelaars probeer tegemoetkom nadat die Tshwane-metroraad hom wou beboet weens die besoedeling van die erf.

Om die boete te keer het hy ’n kontrakteur aangestel om daar op te ruim.

Hy het sowat drie weke gelede na Gauteng gereis en met die leiers van die plakkers gepraat. “Ek het gesê die munisipaliteit dreig my; ek moet die perseel skoonmaak en die inwoners in die gebied moet beskerm word. Ek het gesê hulle kan trek na ’n hoek van die erf wat sowat 1 000 m² groot is. Hulle het geantwoord dis fine.”

Hy sê twee “opswepers” het sy welwillendheid ongedaan gemaak: Marius Sullivan, ’n fotograaf in die weermag, en Stefan van der Westhuizen, direkteur van die nieregeringsorganisasie Rubicon ZA.

“Volgens my kontrakteur het Sullivan vir die plakkers gesê noudat hulle hul voet op die grond het, hoef hulle nie pad te gee nie en dat ek elkeen R10 000 moet betaal en ’n huis en ’n werk gee.” Hy het Sullivan by die weermag gaan verkla. “Ek is uiters bekommerd vir die Eldoraigne-inwoners se onthalwe. Die buurt is regtig gatvol (vir die plakkers).”

Die Wierdabrug-polisiekantoor het hom verseker hulle sal alle betreders in hegtenis neem, sê hy. “Die onderliggende probleem is dat hulle onwettig hier geplak en rommel gestort het. Hoekom moet ek hiermee opgeskeep sit?”

Die bagarezi sê in hofstukke hulle was tevrede toe Clark hulle skuif, “maar toe kom dit aan die lig” die stuk grond waarheen hulle geskuif het, behoort aan ene Adriaan van Rensburg.

Sullivan ontken ten sterkste dat hy en Van der Westhuizen die mense aanhits. “Ons sê nie vir die bagarezi wat om te doen nie.”

Volgens hom neem hy in sy vrye tyd foto’s vir Van der Westhuizen om die bagarezi se storie te vertel. “Die bagarezi beskou Stefan as hul vriend en vertroueling. Baie van hulle is buitelanders; party erken hulle is border jumpers.”

Sullivan was by toe die geweld uitbreek en sê van die veiligheidswagte het hom aangerand en sy kamera, selfoon en bril is weg.
Van der Westhuizen sê hy het die plakkers aangeraai om vir hul eie veiligheid na die Mooiplaas-plakkerskamp, sowat 10 km van daar, te trek.

Hy wil afvalinsamelaars “formaliseer” sodat hulle nie daarvan beskuldig word dat hulle misdadigers is nie. “Misdadigers soek wegkruipplek tussen hulle.”

Cindy Billson, DA-wyksraadslid wat namens die Eldoraigne-gemeenskap optree, sê inwoners van die buurt het oor die toestand van die erf gekla.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.