Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Die ‘Kumars’ ruk dié slag die hoender

Met die spreekwoordelike brood onder die arm, het ’n berugte groep bedelaars wat motoriste in die Wes-Kaap deur die jare “die Kumars” gedoop het, letterlik die hoender geruk.

’n 22-jarige vrou van Vanderbijlpark wat onlangs Kaap toe verhuis het en dus nie weet van die bedrogspul nie, het hulle vroeg in Januarie in Gordonsbaai teëgekom.

Sy het uit die goedheid van haar hart vir hulle die bevrore hoender gekoop waarvoor hulle gevra het, nadat hulle die brood wat sy vir hulle wou gee, van die hand gewys het.

Die groep van gewoonlik vier of vyf mans en vrou, word sedert 2016 dikwels in en om Kaapstad gewaar waar hulle vir geld bedel met die storie dat hulle hul stukkende motor wil regmaak om terug te keer na Durban.

Soms vra hulle vir petrolgeld omdat hul motor glo gaan staan het. Die vroue bly dikwels sit in die ou motor wat langs die pad staan, terwyl die mans motoriste nader. Hulle gebruik ook verskillende motors.

Hulle bied ook soms speserye aan in ruil vir petrolgeld.

Die 22-jarige vrou wat in Gordonsbaai met ’n slap riem gevang is, het op die dag in Januarie saam met haar verloofde by die plaaslike Spar stilgehou.

“Ons wou net ’n paar goedjies kry toe ’n vrou ons nader en speserye aan ons probeer verkoop. Sy wou weet of ons dalk belang stel. Sy het vir ons gesê hulle gaan die geld gebruik om kos vir aandete te koop,” het die vrou, wat anoniem wil bly, aan Netwerk24 gesê.

Sy sê haar verloofde het verduidelik dat hulle ongelukkig nie sterk speserye in hul kos gebruik nie.

“Die verkoper het toe 'n bietjie ongeduldig geraak. Ek het gesê ek sal vir hulle ’n brood koop, sonder om die speserye te vat,” sê die vrou.

Die verkoper het toe glo gevra dat die paartjie eerder vir hulle ’n pak hoender koop wat hulle dan vir aandete kan eet.

“Onthou dat ek ook net sóveel geld oorgehad het voordat ons betaal sou word. Ek het die pak hoender gekoop en uit die goedheid van my hart vir hulle gegee,” sê die vrou.

Sy het later vir haar ouers vertel wat gebeur het, en hulle het haar ingelig dat sy ’n slagoffer van die berugte “Kumars” was.

“Toe ons sê ons gaan nie die speserye koop nie, het hulle ons probeer intimideer om dit by hulle te koop. Ek was so kwaad toe ek uitvind, ek wou hulle sommer gaan soek en my hoender gaan terugvat. Daai hoender het omtrent R100 gekos.”

Toe die bedelaars met die hoender weg is, het hulle gesê hulle sal nou self hul speserye gebruik.

Die berugte “Kumars” is Maandag by die Jip de Jagerrylaan-afrit van die N1 in Kaapstad se noordelike voorstede gesien.

Die mense is weer Maandag naby Welgemoed by die Jip de Jager-afdraai van die N1-hoofweg gewaar.

’n Motoris wat foto’s van hulle geneem het waar hulle bedel, sê hulle het geklop aan vensters van motors wat by die verkeerslig staan,

“Hulle het nie eens omgegee dat ek foto’s van hulle neem nie. Hulle het na my toe gekom, maar toe hulle by my kom, het ek vir hulle vir petrol gevra omdat ek weet wie hulle is. Die man het toe net omgedraai en geloop,” het die motoris, wat nie sy naam genoem wil hê nie, aan Netwerk24 gesê.

Die Kumars sê gewoonlik hulle het petrolgeld nodig sodat hulle Durban toe kan gaan, of dat hulle motor onklaar geraak het.
Die Kumars is ’n groep van vier of vyf mans en vroue wat motoriste voorkeer en geld bedel.

Hulle is ook die besige feestyd in Desember gesien buite die Nitida-wynplaas in Durbanville waar hulle vir petrolgeld voor die ingang na die wynplaas gebedel het. Hulle is al voorheen ook daar gesien.

Daar is selfs ’n Facebookblad waar mense kan aanmeld as hulle “die Kumars” gewaar.

Luidens die jongste tydlyn wat saamgestel is deur mense wat hulle gesien het, was hulle Sondag in Firlands buite Kaapstad, en op 22 Januarie was hulle in Wellington.

Hulle was veral in Desember aktief, waar hulle ook voor die Tygerberg-hospitaal, die Sitari-landgoed buite Macassar en die MediClinic buite Milnerton gesien is.

Mense sê hulle raak soms aggressief wanneer mense nie vir hulle geld wil gee nie.

Die polisie in die stad doen sedert 2016 ’n beroep op mense om hulle in kennis te stel as hulle die Kumars gewaar.

Die Wes-Kaapse polisie is Dinsdag om kommentaar genader, maar het nie op navrae gereageer nie.


Meer oor:  Wes-Kaap  |  Kaapstad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.