Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Die L-woord is op die horison vir die SAL . . .

Werkers van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) het Saterdagaand op naalde en spelde gewag om te hoor of die ANC se nasionale uitvoerende komitee instem dat die regering R2 miljard gee vir die lugdiens soos die regering vroeër belowe het.

In ’n ommeswaai van Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, se voorneme begin Desember dat die regering kontant sou bewillig vir die sakereddingsproses het die tesourie die afgelope week volstrek geweier om hom te verbind tot ’n kontantinspuiting.

‘Die geld wat hulle leen en die rente daarop sal uiteindelik deur belastingbetalers betaal moet word.’

Dirk Hermann, uitvoerende hoof van Solidariteit, het Saterdagaand aan Rapport gesê hulle is meegedeel dat die kontantinspuiting al dan nie afhang van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK).

“Dis ironies, want die aanstelling van Les Matuson as sakeredder was juis om politieke inmenging in die lugdiens te beëindig.

“As die ANC en sy faksiegevegte steeds die SAL se pad bepaal, gaan hulle tot gevolg hê dat die sakeredding misluk.

“As die R2 miljard van die aandeelhouer nie vloei nie, kan dit die begin van likwidasie wees.”

Tito Mboweni, minister van finansies, het Woensdag op ’n vraag of die regering nou die geld gaan gee of nie, net gesê staatsbeheerde ondernemings moet werk om nog geld te verdien, berig Gabriel Seeber. “Ons probeer die kontant vind en sal duim vashou,” het Mboweni gesê.

Mboweni is uitgesproke dat hy nie dink die SAL behoort noodwendig gered te word nie en het al in soveel woorde gesê hy sou nie enige van sy geld daarin sit nie.

Toe Dondo Mogajane, direkteur-generaal in die tesourie, Donderdagaand oor Radio 702 uitgevra is oor die belofte wat nie gestand gedoen word nie, het hy begin praat van ’n moontlike “fasiliteit” eerder as ’n kontantinspuiting.

Jeff Schultz, ontleder by BNP Paribas, sê indien enige lener geld gee, sal dit aan streng voorwaardes en waarborge gekoppel wees.

Alf Lees, DA-woordvoerder oor die SAL, sê dit sal uiters onverantwoordelik van die private sektor wees om finansiering te gee.

“Die geld wat hulle leen en die rente daarop sal uiteindelik deur belastingbetalers betaal moet word.”

Matuson het in sy voorlegging aan werkers en krediteure gesê hy glo sakeredding kan werk, maar herhaaldelik benadruk dat dit onderhewig is aan die beloofde kontantinspuiting en volgehoue ondersteuning van die regering.

Indien die aandeelhouer nie geld gee nie of nie die sakeredders ondersteun nie, is Matuson verplig om aansoek te doen om die likwidasie van die SAL.

Die regering het al voorheen ’n noodmaatreël in die Wet op die Bestuur van Openbare Finansies gebruik om ’n reddingsboei aan die SAL oor te betaal, maar Mboweni verseg tot dusver nog om dit weer te doen.

Vandag (Sondag) is die absolute spertyd vir die inbetaling van die geld, sê Christopher Shabangu, adjunk­president van die Suid-Afrikaanse Kajuitpersoneelvereniging (Sacca).

“As dit nie inbetaal word nie, sal Matuson dadelik moet begin om lugroetes te sluit as eerste stap tot ’n likwidasieproses.”

Matuson het die lugdiensvakbonde, onder wie Solidariteit, Sacca, die SA Transport & Allied Workers Union (Satawu) en Numsa belowe dat ’n aankondiging oor die R2 miljard Saterdag gemaak sou word omdat die NUK daaroor moes besluit.

Maar teen Saterdagaand was dit nog nie duidelik of die nasionale tesourie die geld gaan oorbetaal nie.

Hy het onderneem om die vakbonde vroeg dié week op ’n vergadering by die SAL se hoofkantoor in Kempton Park volledig in te lig oor die toekoms van hul lede.

Gordhan het op 5 Desember, toe die SAL in sakeredding geplaas is, belowe die reddingsboei sal op “fiskaal-neutrale” grondslag bekom word.

Dit beteken dat geen geld uit die begroting van enige staatsinstelling daarvoor geneem mag word nie, maar dat ’n ander bron, waarskynlik deur die verkoop van ander staatsbates, gebruik moet word om die SAL langer in die lug te hou.

Die ekonoom Mike Schüssler het aan Rapport gesê die regering se bates sluit in staatsbeheerde maatskappye, grond en nie-strategiese bates.

Die regering het ’n 40,5%-aandeel in Telkom.

Op grond van hul markkapitalisasie sou die regering deur die verkoop van al sy aandele sowat R7 miljard kon kry.

Die regering het vroeër sy Vodacom-aandele verkoop om reddingsboeie te gee.

 * Martin Kingston van die SAL-­direksie het Vrydag die pad gevat. Dié voorsitter van Rothschild & Co. in Suid-Afrika, wat vroeër ingebring is om die SAL reg te ruk, het aan Bloomberg gesê hy is nie meer nodig nie, omdat daar nou ’n sakeredder is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.