Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Die leeus kry goeie vleis, ons s’n vrot’
Seisoenale plaaswerkers het op die plaas Driehoek in dié “plastiektente” gewoon.Foto’s: Elizabeth Sejake

Die departement van arbeid moet so gou moontlik riglyne opstel oor die verblyf, lone en werwingsproses van seisoenale werkers om situasies soos dié te vermy wat die afgelope week daartoe gelei het dat honderde kontrakwerkers van drie Vrystaatse plase verwyder is, sê Vrystaat Landbou.

Die seisoenale kontrakwerkers is na bewering in haglike omstandighede gehuisves en hulle beweer hulle is vrot kos gevoer en nie vir hul werk betaal nie.

Die Valke ondersoek voorlopig klagte van kinderarbeid en mensehandel.

Die plaas Wenen is die enigste plaas waarop daar teen Vrydag nog werkers was, maar hulle sê die departement van arbeid het hulle aangesê om werk te staak.

“Ons is nog besig om bewysstukke in te samel. Niemand is nog aangekeer nie, maar ons het reeds baie inligting,” het brig. Hangwani Mulaudzi, Valke-woordvoerder, gister gesê.

Hy sê daar is baie soortgelyke situasies, maar hy kon nie bevestig dat die polisie gister op ’n vierde plaas naby Hoopstad toegeslaan het nie.

Die werkers beweer Hendrik Reyneke, ’n arbeidsmakelaar, het hulle in Noordwes gewerf om op Vrystaatse plase te kom werk. Die boere vir wie hulle gewerk het, het Reyneke betaal en hy sou hulle dan weer betaal vir hul werk.

Jahni de Villiers, hoof van arbeid en transformasie by Agri SA, sê boere gebruik dikwels arbeidsmakelaars wanneer hulle vir ’n kort tyd, soos met oestyd, ekstra werkers nodig het.

Die arbeidsmakelaar aanvaar verantwoordelikheid vir die administrasie, maar wetgewing is in 2015 só aangepas dat die boer wat die arbeid gebruik, ook verantwoordelik is as daar probleme is.

“Boere en arbeidsmakelaars is nou gesamentlik verantwoordelik sou daar ’n dispuut wees,” sê De Villiers.

Die werkers wat die departement dié week van plase buite Wesselsbron en Allanridge in die Goudveld verwyder het, sê hul taak was om mieliestronke wat ná stropery op die lande agterbly, op te tel. Hulle beweer hulle is nie hul volle loon betaal nie.

Johanna Reyneke, Hendrik se vrou, het haarself as vriendin van die plaaseienaar voorgestel.

Een van die werkers, Regina Mogwasi (34), het aan Rapport gesê vrot vleis is op ’n hoop vir hulle afgelaai.

“Die goeie vleis is vir die leeus (wat in hokke op die plaas aangehou word) gegee en die vrot vleis vir die mense.

“Ons het nie gekou nie, ons het net ingesluk,” sê sy. Dikwels het hulle siek geraak daarvan en ander kere was hulle dae lank sonder kos.

Sommige dae wou sy net huil. “My hart het fisiek gepyn oor wat als op die plaas gebeur het.”

Op die plaas Driehoek buite Wesselsbron, waar Reyneke sommige van die werkers gehuisves het, staan reuse-plastiektente, waarin slegs komberse is.

Werkers het in dié tente en baksteenvertrekke gewoon. Maar Helene Saaiman (33) van ’n buurplaas beskryf ­Reyneke as ’n saggeaarde man.

“Hierdie hele storie is uit verband geruk,” sê sy.

By Rapport se besoek aan Driehoek, waar Reyneke ook woon, het ’n vrou wat haarself as vriendin van die eienaar voorgestel het, maar nie haar naam wou verskaf nie, gesê Reyneke gee vir die werkers meel, aartappels, kool, koffie en suiker.

“Hulle wil nie hul geld maandeliks hê nie, hulle vat dit as hulle huis toe gaan. Ek bly ook op die plaas, ek weet wat hier aangaan.”

Die hoop vrot vleis op Driehoek kom uit die leeuhokke en die res is met toestemming deur ’n abattoir daar gestort, sê sy. Dit was nie veronderstel om kos vir die werkers te wees nie.

Sy het gesê Reyneke werk met plaasvoormanne, wat dan hul eie werkers gaan werf.

Oor die minderjariges wat tussen die werkers gevind is, het sy gesê dit is die kontrakwerkers se kinders.

“Twee van die kinders se ouers is dood. Hulle werk maar vir ’n geldjie.”

Die minderjariges is reeds na ’n plek van veiligheid geneem en die ander mense word in sale in die omgewing gehuisves.

Henk Vermeulen, hoof van Vrystaat Landbou, het gesê Reyneke is nie ’n lid van georganiseerde landbou óf Vrystaat Landbou nie. Die plase waar die mense gekry is, behoort volgens Vermeulen ook nie aan Reyneke nie.

Reyneke het Vrydag gesê hy het op regsadvies besluit om nie sy kant van die saak te stel nie.

Meer oor:  Kinderarbeid  |  Plaaswerkers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.