Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Die reise van Elsa Joubert

Pas ná die verskyning van Reisiger – die Limietberge oor, die tweede deel van Elsa Joubert se outobiografie, het Murray La Vita in 2009 met haar oor haar lewe gesels.

Elsa Joubert
Elsa Joubert

Die gesprek met Elsa Joubert begin by haar novelle Die Wahlerbrug (1969) waarin ’n vrou alles verloor terwyl sy in ’n vreemde Europese stad reis.

Ons sit oorkant mekaar by ’n aantreklike ovaalvormige houttafel. Die vertrek is gevul met boeke, foto’s, kunswerke, Oosterse matte en ou kaarte van Tafelbaai.

“Wat is sy sonder haar papiere? Dis eintlik ’n soeke . . . wat is jy sonder jou papiere en jou adres en jou geld en jou reistjeks?

“Dit was in 1969 – 25 jaar ná die oorlog. Ek het nie besef so baie van wat herstel is, is nou eintlik vals mure in vals geboue nie. In München het ek na ’n ou paleis gegaan. En toe is alles weer pragtig . . . die mure en die kosyne oorgetrek en die pragtige fyn meubels en die skilderye . . . Ek kon dit eintlik nie bymekaarbring met die ruïnes wat ons in ’45 daar gesien het nie.

“Toe sit ek, ek was moeg . . . ek was alleen daar en toe sien ek iemand skuif ’n deel van wat ek gedink het ’n muur is, weg en toe is dit net karton wat oorgetrek is met sy. En hy klim uit; hy stap oor . . . en ek sien agter is eintlik ’n werksplaas. Daar is ’n lorrie wat goed aflaai . . . boumateriaal en mense wat skrynwerk doen. Heeltemal anders as die pragtige interieure waarna ons kyk. En toe wonder ek: wat is dan nou die werklikheid?”

Die koel geluid van duiwe is hoorbaar. Elsa se woonstel is naby groot bome. Sy bly in ’n woudjie wat in ’n woonbuurt aan die voet van Tafelberg geleë is.

“Is dit daai deurmekaar werkgebied agter hierdie skans wat vir ons voorgehou word? En ek het toe gedink: as ek dan deurklim deur daardie muur uit hierdie werklikheid van my reis en van my familie en van alles . . . waar gaan dit my neem?

“En dís hoe ek toe die boek in my kop het: die soektog eintlik van elke vrou of elke man of elke persoon – waar is hy sonder sy steune of sy stutte?”

Haar man, die skrywer wyle Klaas Steytler, het gemeen skryf is ’n verkenning van die self.

“My hele motivering van om op daardie ouderdom weg te gaan van die land en alles was . . . ek is gebore in ’n stabiele huishouding en daar is van my verwag om universiteit toe te gaan en dan ’n werk te kry en so aan. Ek het gevoel dit is alles te té. Wie is ek régtig? En dit is hoekom ek weggegaan het en alles afgesny het om te probeer kyk hoe dit . . . Dis dieselfde tema as Die Wahlerbrug later.

“Om die bekende en die . . . ek wil nie sê stutte nie, dis te eensydig . . . die patroon eintlik waarin jy is en waarin jy leef en waarin jy gelukkig is – dié patroon te breek.”

Versigtig weeg sy die woorde. Soos haar pa. Sy beskryf in Reisiger hoe sy, nadat hy gesterf het, in sy studeerkamer sit en deur sy geskrifte kyk.

“Ek voel hoe na ek en my pa aan mekaar was. Die ding van stoei met woorde, woorde slyp totdat hulle sê wat jy wil hê hulle moet sê, kom van ver af. Ek voel my weer aan as ’n skakel in ’n ketting, maar daarby kom dat ek iets op my beurt moet aangee vorentoe.” (p. 191)

elsa joubert
Elsa en Klaas in 1950 in Londen met hul verlowing.

Klaas en Jung

Ons gesels oor hoe belangrik Jung vir Klaas was. En hoe Jungiaanse gedagtes in sy werk neerslag gevind het. Elsa het op ’n keer vir hom gesê: “Klaas, óns (skrywers) moenie hóm gebruik nie, hý moet óns gebruik. Ons gee vir hom . . . kyk byvoorbeeld van die óú argetipes, sê maar Homeros se . . .”

En dan vertel sy hoe haar kleinkinders by haar kom inkruip het om na Homeros se Odussee te luister.

“Ek het eintlik bewus geword van Homeros en die Odussee toe ek dit vir my kleinkinders vertel het. Ek het dit toe eers weer gelees met ’n nuwe oog. Die kinders kuier by my, op ’n jong ouderdom, en hulle kruip elke oggend by my in om nóg ’n stuk van die Odussee te hoor. En dis Kersfeesoggend en wrágtie, hulle gaan nie af – ons het toe ’n dubbelverdiepinghuis gehad – om te kyk wat se presente hulle kry nie; hulle kom eers inkruip om die Odussee verder te hoor!”

Die gesprek beweeg na haar beskouings van reis.

“Een van die hartseer dinge is dat reis vir baie mense beteken reisgroepe. En reis in groepe is nie reis nie hoor, dít is toeristies.

“Wat ek onder reis verstaan, is een lewe stopsit; jou wortels uittrek en dan toegerus met wat jy in jou het – dis ál wat jy het: wat in jou kop en in jou gemoed is . . . en dán gaan jy op vreemde paaie. Álleen. Dis ’n swaar ding.

Dis ’n moeilike ding. Maar mét, sê maar selfs met Klaas reis, die reise wat ek en Klaas onderneem het, is baie lekker en interessant en alles, en ek het ’n boek daaroor geskryf byvoorbeeld, oor Mosambiek (Bonga), maar dit het nie daai innerlike kern gehad wat ek nuwe dinge binne myself . . .

“Kyk byvoorbeeld die reis na Madagaskar (Suid van die Wind), daai reis waar ek in die bus sit en ek naderhand dink ek disintegreer – dit was te verskriklik. En in hierdie woesterny en oorslaap in ’n plek waar die mense almal lyk soos skurke – jy weet ek het regtig gevoel ek het nou te veel afgebyt. En toe kry ek mos daardie ervaring van die kind wat in my sy skop . . .”

Wat ek onder reis verstaan, is een lewe stopsit; jou wortels uittrek en dan toegerus met wat jy in jou het – dis ál wat jy het: wat in jou kop en in jou gemoed is . . . en dán gaan jy op vreemde paaie. Álleen. Dis ’n swaar ding.

‘Diep gevoel van eenheid’

Elsa in 1978 aan die skryf in Johannesburg.

In Reisiger onthou sy: “ ’n Oomblik lank dink ek, deur die slaap, dat ek swanger is en die skoppie van my aangebore kind voel. Weer ’n keer, en toe ek regop sit, sien ek dat dit die voetjie is van die kindjie op die sitplek langs my wat aan haar ma vasklou, miskien ook deur die slaap, die kop ’n onwillekeurige beweging, soos die bus op draaie kantel. Die ma is nog self amper ’n kind. En toe ek besef wat dit is, val die bitter renons wat met my saamgereis het, weg. ’n Groot, diep gevoel van eenheid met haar, met die mense in die bus, met alle mense, alle lewe om my, vul my gemoed. Miskien is dit hierdie ervaring wat ek self uit die reis moes haal, wat ek vir altyd voor my sal hou, is dit dít wat ek gaan soek het of nog altyd aan die soek na is. Dié eenheid. Verby vrees.” (p. 142)

Iemand het nou die dag vir haar gesê hulle wil dit in Frans vertaal want hulle voel daardie reis met die bus is ’n inisiasieproses.

“So, kan jy sien, dis heeltemal anders as om na Mauritius te gaan vir ’n week en te gaan surf en in die son lê. Dis twee totále verskillende begrippe!”

Sy bly ’n oomblik stil.

“En ook nie saam met iemand nie, met ’n maat nie. O, my pa-hulle was so bekommerd dat ek alleen reis. Hulle het gesê: ‘Ons het niks teen dit nie, as jy net ’n maat saamneem.’ Toe sê ek vir hulle: ‘Maar dit is my punt: ek wíl nie ’n maat saamneem nie! Ek wil myself konfronteer. Níks anders behalwe myself nie.’ ”

Om dus alléén “die Limietberge van my mooi blou vallei te ontsnap”.

‘Toe verstaan ek’

Haar ma was oorbeskermend teenoor haar en het haar as volwassene steeds soos ’n kind behandel.

“Ek het dit nie geweet nie, maar die eerste hoofstuk in my eerste boek (outobiografie), ’n Wonderlike Geweld, is in detail die dood van my sustertjie. Ek het gewonder hoekom het dít so sterk oorgekom. Ek het dit makliker geskryf as baie ander hoofstukke. En eers, wragtie, eers met my ma se dood toe daai verpleegster vir my sê: ‘Dit het gelyk asof sy jou gevries het as ’n agt- of tienjarige kind . . .’ Toe verstaan ek. Dit het ’n groot indruk op my gehad as my pa vir my en my broer gesê het ons moenie vir mamma seermaak nie. Dit wil sê ek kon dit nooit uitpraat met haar nie, want dit sou haar seermaak as ek sê sy is te besitlik. Daai goed onthou ’n kind; dis ín hom ín.

Elsa in 1949 in Parys.

“Dis baie ongelukkig vir haar dat sy nou ’n kind gekry het wat wil gaan reis. Sy sou baie gelukkiger gewees het met iemand wat nou mooi getrou het in die Kaap en dat sy die babas kon help oppas en daai soort van goed was nou ideaal vir haar. So sy was nie die oorsaak nie, maar dit was . . . ek kon dit nie myself ontsê, selfs ter wille van my ma se tevredenheid of so aan nie.”

Die Paarl, Elsa se geboortedorp, was ’n groot teenwoordigheid in haar lewe.

“Jy weet, wat met my gebeur het, is ek is gebore in die huis in Nantesstraat waar my pa-hulle – hy was 28 jaar oud toe hy prinsipaal geword het van die kollege en hy het uitgetree op 60 – en ons het daar gewoon, en hy het daar gesterf en toe het my ma ’n paar jaar in die huis aangebly en toe gaan sy na Huis Vergenoeg toe in die Paarl. Dit wil sê ’n Paarl-band is nooit geknip dat ek daarna kan terugkyk as ’n geheel nie. Dit was nog altyd ’n swewende prentjie.

“En byvoorbeeld as ek lees Etienne van Heerden skryf toe sy pa dood is, is hulle weg uit die Karoo en van die plaas af, en dit is amper geënkapsuleer – is dít die woord? – maar my Paarl is nooit geënkapsuleer nie omdat my ma geleef het tot 97. Dit was ’n voortgaande verhouding en as ek nou deur die Paarl ry, is dit vir my baie mooi, maar ek het so baie moes uitry na my ma toe dat ek . . . Ag man, dis maar soos elke . . . die Paarl wat ek in my kop hou, is die Paarl wat ek gehad het as kind en toe ek op skool was daar. En dit is vir my ’n baie sterk herinnering.”

Sy onthou haar skool La Rochelle en die “feestelikheid” wat daar vir haar aangebied is toe sy die Hertzogprys gewen het.

Geloofsbriewe oorboord

Van die muur neffens ons kyk vroue uit ou foto’s af op ons.

“Daai linkerkantste portret is my ouma De Villiers, sy was ’n Murray gewees. Die ronde een is my ouma as ’n kind. En daar is ene van ’n ou tante . . . sy lyk asof sy uit Dickens kom . . . sy was van my oupa se Viljee-kant. Wie’s aan die linkerkant? O, dis die ouma . . . Grandma Murray, sy was nou die gróót . . . almal het gesê Grandma Murray is so heilig. Dis my má se grandmother hoor, dis my great grandmother. Sy was getroud met William Murray, die broer van Andrew Murray.”

Sy kyk na my en sê: “Elsabé Antoinette Murray Joubert was ek gewees.”

Elsa het nie soos die jong Petronella van Heerden geloofsbriewe oorboord gegooi toe sy uit Tafelbaai vertrek op haar groot reis nie. Sy glimlag wanneer sy die volgende vertel: “Wat my ma my gegee het, is ’n flúitjie! Sy het gedink ek gaan dit om my nek dra want sy was nou bang ek sal êrens aangeval word of ek sal ge-rape word of wat ook al. En die fluitjie is wat ek oorboord gegooi het.”

Sy trek ’n eksemplaar van haar boek Water en Woestyn van die rak af en blaai daardeur.

“Dis die eerste boek oor daai hele Nyl-reis. Dit is wat ek afgeneem het . . . die oorsprong van die Nyl by die Ripon-vallei.” Sy blaai na ’n volgende foto. “Dít is wat ek álleen na gegaan het in ’n taxi: die Tempel van Hapshetsut.

“Hierdie boek het goed in wat . . . in ’48 was dit nog absolute donker Afrika. Ons het dan gesing: ‘Sien jy hierdie pennie? Ek het dit gebring vir die heidenkinders en die sendeling. Gaan dan pennie, gaan al is jy nie veel. Baie pennies maak tog saam ’n groot geheel.’

“Só het ons gesing en ons pennies . . . dít was Afrika gewees.”

’n Ander avontuur van haar Afrika-reis was toe sy op die jong Indiërman Mahmoed verlief geraak het. Sy skryf pragtig en liries oor die ontwaking van daardie liefde.

Die blinde digter

In 1984 ontmoet Elsa en Klaas tydens ’n besoek aan Suid-Amerika die groot skrywer Jorge Luis Borges – toe reeds blind en hoog bejaard – in sy woonstel in Buenos Aires.

“Ek voel die blinde digter wat ons nie kan sien nie, soek na ons op ’n ander manier, na werklike kontak deur woorde, deur die verwantskap wat tussen ons as mense lê, deur woorde; en nie alleen syne in sy taal nie; maar in al die tale waaroor hy beheer het. Ek is ontroerd deur die grootsheid van die broederskap van woorde, ook terug deur die eeue,” skryf sy (p. 311).

Tydens ons gesprek sê sy: “Hy het dieselfde soort liefde-haat . . . ook nie haat nie, maar liefde-teleurstelling dan, in sy mense in Suid-Amerika gehad. Hy het behoort aan die boonste strata van die gemeenskap in Buenos Aires. En hy sê altyd daardie mense is die mense vir wie éér baie beteken het. Dis eintlik die eer van daardie amper verdwene . . . nie hoër klasse nie, maar die amper herebevolking. Toe kom daar vrééslike immigrasie en sý Buenos Aires verander sienderoë.

“Ek het ’n groot aanvoeling vir hom gehad in die manier wat hy . . . sy goed is darem wonderlik. Man dit was, wat is daai uitdrukking? The past glory of the upper bourgeoisie . . . Hy het perfek Engels gepraat en hy was ’n groot verstand. Maar sy gees was ook ’n bietjie vermink deur sy verhouding met vroue wat nooit regtig geslaag het nie.”

Dan oor haarself: “Ek was nooit lid van die establishment nie. Nou die dag toe vra iemand vir my wat is die establishment. Toe sê ek dis dié wat nie teen die regering was nie. My oplossing was toe Braam de Vries eendag vir my sê ons is miskien nie patriotte in die politieke sin nie, maar ons is táálpatriotte. En dít het vir my die ding net opgesom.”

Die Engelse wou my annekseer en voorstel as iemand wat uit die hart van die Afrikanerdom teen die Afrikaner draai. Dít was ’n groot spanning.”

Poppie

Elsa sê Klaas was ’n beter skrywer as sy.

“Maar ek is die gelukkige ene. Ek kry aanslag . . . Poppie het die wêreld voor gewág. Maar hy het baie met my saam . . . byvoorbeeld Ons Wag op die Kaptein was ook ’n soort van ’n deurbraak in ’62, ’63. So baie mense wou dit vertaal, selfs Saartjie (Sarah) Goldblatt wou dit vertaal. Hulle kon dit toe nie regkry nie, daar was niks spanning nie. En Kláás het dit toe vertaal tussen projekte van sy eie. En dit het ’n resensie in die Times LiterarySupplement gekry wat gesê het: This translation is superb. Dít het nou vir my baie beteken en ek dink vir hom ook.”

Die skryf van Die Swerfjare van Poppie Nongena het ’n groot invloed op haar lewe gehad. Nadat sy dit in Engels vertaal het (dit is later in verskeie ander tale vertaal), het sy internasionaal bekendheid verwerf. Sy het ’n “fellow of the Royal Society of Literature” geword en Poppie is later ingesluit op die lys van honderd beste boeke wat in die 20ste eeu geskryf is deur skrywers uit Afrika.

Maar in die vroeë dae het die boek sy tol geëis.

“Die Engelse wou my annekseer en voorstel as iemand wat uit die hart van die Afrikanerdom teen die Afrikaner draai. Dít was ’n groot spanning.”

Kontak met swart mense

Toe ons later na foto’s kyk – onder meer een van haar saam met swart dosente aan die destydse Turfloop-universiteit – sê sy dit was vir haar belangrik om “te probeer kontak soek met swart mense en om brûe te bou”.

In die begindae van haar skrywersloopbaan wou sy op ’n keer tou opgooi. Sy het al haar skryfwerk in ’n konka verbrand in hul agtertuin in Auckland Park, Johannesburg. In Reisiger beskryf sy dit só:

“Ek was net móédeloos, soos seker baie mense. En toe die snaakse ding was . . . Klaas het altyd in my geglo. Ek voel so verlate toe die laaste bladsye uitbrand en flenters papier opstyg in ’n warreling van dooie as. Ek voel so verlate toe ek die leë voorkamer instap en op die lessenaar die toegemaakte tikmasjien sien wat Klaas vir my gegee het as verjaarsdagpresent – waaraan hy nog maandeliks afbetaal, dus moet hy in my glo – dat ek die deksel afhaal, ’n stuk wit papier agter die roller instoot en dit indraai en begin tik, weer die goed skryf wat nog in die tuin in die as smeul.” (p. 96).

Elsa en Deon Joubert in 1923.

‘Krag in sy hande’

Elsa het ’n “gids” gehad: Oom Vaatjie, die man met die helende hande.

“Oom Vaatjie het vir my net báie beteken. Ek het vanmiddag weer daardie ontspanning gedoen voor jy gekom het. Jy kom amper op ’n ander vlak. Jy kom tot ruste. Iéts kom in jou tot ruste. Dít was my pad terwyl Klaas weer Jungiaans gegaan het.

“Hy het definitief krag in sy hande gehad . . . Hy het vir my net in ’n nuwe dimensie ingeneem. En hy het vir my bóéke gegee wat my hele horison uitgebrei het. Ken jy Aldous Huxley? Doors of Perception en Heaven and Hell? Nou, ek het dit ondervind, daai goed.”

Ons praat oor reïnkarnasie. Glo sy daarin?

“Nie dat ek terug is in ’n ander liggaam en so aan nie . . . Ek weet nie. Hoe moet ons weet? Maar darem bietjie rus gee ná hierdie een. Ek wil nie sommer weer gebore word nie. Ek wil eers ’n bietjie rus,” sê sy en lag.

“Ek dink dis ’n wonderlike avontuur. Ek sit die ander aand deur my venster en kyk na die stérre en goed. Dis lekker. En ek dog, jinne well, een van die dae travel ek daar by julle.”

Ons is nou in haar sitkamer. Onder die pragtige kunswerke is ’n Maggie Laubser-skildery van ’n soel, sensuele jong vrou. Sy het dit gekoop in haar eerste jaar op Stellenbosch met haar hele kwartaal se sakgeld.

“Ek dink vir so iets soos nege pond. Toe ry my pa en my ma van die Paarl af oor om my te probeer keer. En toe koop ek dit! Dis die beste ding wat ek nog gedoen het. Maggie het my vertel dis ’n meisie gebore van die Joodse winkelier op hulle plaas en ’n bruin vrou.

“Ek het niks gehou van haar eende en haar dammetjies en goed nie, maar hierdie het my baie getrek.”

Voordat ek vertrek, sê sy ek moet in die leunstoel sit sodat ek die uitsig kan waardeer wat sy van daar af op Leeukop het.

“Die hele berg. En as die maan hier is, en die sterre . . . Ek het lekker huise gehad, maar dit was nooit so naby aan die maan en die sterre soos hierso nie,” sê sy.

Meer oor:  Elsa Joubert
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.