Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Dié skelmpie kan toe doen met 'n halfmiljoen

’n Poging van ’n beeldskone Oos-Europese ontkleedanseres om ’n eiendomsontwikkelaar van Kaapstad af te pers, het Kaapse skindertonge los nadat die man per ongeluk sy gesprek met sy skelmpie op ’n Whats­App-groep gedeel het.

Natali Naskovska Foto: Facebook

In die boodskap kan gehoor word hoe Natali Naskovska, ’n 30-jarige Macedoniese burger wat blykbaar vir ’n tyd lank in Kaapstad gewerk het, ’n halfmiljoen rand van die miljoenêr-ontwikkelaar eis. Sy dreig om sy vrou van hul verhouding te vertel indien hy nie betaal nie.

Die ontwikkelaar, wie se naam op regsadvies weerhou word, word deur sommige beskryf as “een van die Atlantiese kuslyn se kleurvolste karakters” en is bekend om sy stralejakker-lewenstyl. Sy jongste eiendomsontwikkeling is ’n multiverdieping-woonstelgebou waar die pryse wissel van R1,5 miljoen tot R7 miljoen per wooneenheid.

Nou is hy meer bekend as die man wat op ’n rusbank by ’n vriend slaap nadat sy woedende vrou hom uit die huis geboender het.

Dis “die, die, die, die grootste storie op die Atlantiese kus op die oomblik”, het ’n skindertong die afgelope week in ’n Whats­App-stemboodskap laat weet.

‘Ek gee nie om nie. Drie dae.’

Die man het die gesprek tussen hom en Naskovska – wat hy blykbaar vir sy prokureur wou stuur – per ongeluk met die Fresnaye-buurtwag gedeel. In die opname van die telefoongesprek kibbel die twee kliphard oor die bedrag wat sy van hom eis, met die eiendomsman wat toenemend meer desperaat klink.

“Jy het my gebruik. Jy wou my hê net so baie soos ek jou wou hê!” roep hy uit toe sy hom beskuldig dat hy buiten haar nóg ’n skelmpie het.

“Ek het nooit ’n ander persoon (behalwe jy) gehad nie . . .”

As sy niks van sy verskonings wil weet nie, beloof hy om vir haar te betaal vir ’n vlug na die Griekse eiland Mykonos, haar hotelverblyf en sakgeld. Maar sy wil van niks weet nie en eis ’n halfmiljoen.

“Maar ek het nie die (tipe) geld waarvan jy praat nie.”

Natali Naskovska (30) Foto: Facebook

“Ek gee nie om nie. Drie dae,” hou sy vol.

“Drie dae vir wat?

“Ek het nie geld om vir jou te gee nie . . . Ek het nie R500 000 nie! Waar moet ek dit vandaan kry? . . . ek weet jy is ernstig, maar ek het (dit) nie. Ek is desperaat!”

Sy stel dan voor dat hy dit by ’n vriend gaan leen. “Niemand leen geld sonder dat jy dit kan terugbetaal nie!” antwoord hy.

Dan gooi Naskovska haar troefkaart: Die bewyse en foto’s wat sy aan Mevrou gaan stuur.

Hy antwoord dat dit nie saak maak hoeveel bewyse sy het nie, as sy net vir sy vrou vertel van die verhouding sal dit reeds genoeg skade doen.

Hy sê Naskovska weet dat hy nie die geld het waarvoor sy vra nie: “Ek het twee jaar gelede groot geld gemaak. Het jy nie gesien wat gebeur het met Covid nie? My geboue is leeg. Mense betaal nie meer nie.”

“Ek gee nie om nie. Drie dae,” sê sy dan kortaf en beëindig dan die gesprek.

Dit blyk nou Naskovska het nie eens nodig gehad om haar dreigement uit te voer nie. Haar voormalige kêrel het dit sommer self gedoen deur die opname van die gesprek aan bykans die hele Fresnaye – die rykmansbuurt tussen Seepunt en Kampsbaai – te stuur. En toe die Kaapse eiendomsagente dit eers in die hande kry, was die hele bedryf in rep en roer.

Vriende sê sy vrou “is buite haarself, sy is absoluut woedend” en ook vies dat baie vriende geweet het van die verhouding, maar niks vir haar gesê het nie.

Naskovska het die afgelope week kortaf gereageer oor die petalje en gesê “dis nie julle besigheid nie”.

Sy vrou het glad nie op boodskappe gereageer nie en al haar sosiale-media-profiele gesluit.

Die ontwikkelaar se prokureur, Paul Katzeff, het dit beskryf “as ’n helse storie” en gesê “daar sal moontlik gelitigeer word”. Hy wou geen verdere kommentaar lewer nie.

Meer oor:  Fresnaye  |  Afpersing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.