Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Die ‘Spitfire’ vat ons reën . . .

Boere wat dekades al in die skilderagtige Badfontein-vallei in Mpumalanga boer, sê ’n vliegtuig saboteer hul reënwolke.

Alan Bullen stap tussen sy droëland-sojaboonplante. Hy sê die plante moes al vier keer dié hoogte wees, maar dit reën nie genoeg in die Badfontein-vallei naby Lydenburg nie. Foto: Deon Raath

Reënval in dié vallei het met sowat 50% gedaal sedert ’n vliegtuig, wat die valleibewoners “die Spitfire” noem, in die lugruim bokant die boere se plase doenig geraak het.

Die spuit van tafelsout in wolke om dit te laat reën is ’n tegniek wat in Suid-Afrika ontdek is en in die buiteland gebruik word (lees hier).

Maar Badfontein se boere reken dié vliegtuig laat eerder hul reën verdwyn, en hulle glo dit kom van Middelburg af, van Franco van der Merwe se onderneming Water Analytical Services (WAS).

‘Hier word goed bokant ons gespuit . . .’

Van der Merwe, ’n chemiese ingenieur en vlieënier, sê hy hét al aan een van hulle oor die foon probeer verduidelik hulle verbeel hulle.

“Dis regtig nie ons (WAS) wat daar spuit nie. Dis niemand nie. Daar is nie wolkbestuiwingsprojekte in Suider-Afrika nie.”

Hy sê die regering het nie geld vir só iets nie. Boonop moet ’n mens ’n lisensie hê vir wolkbestuiwing, sê hy, en daar moet volgens wetgewing eers ’n omgewingsimpakstudie en ’n openbaredeelnameproses wees.

Gideon Cross staan in oulandsgras wat as weiding aangeplant word, maar dit groei volgens boere nie vinnig genoeg nie.

WAS het die tegnologie vir wolkbestuiwing, maar waterbehandeling is hul fokus, sê Van der Merwe.

Hy sê dis aardverwarming en ’n tekort aan kondensasie wat reënval laat daal.

As daar vliegtuie oor die vallei is, is dit dié wat die lughoofweë tussen die lughawens gebruik. Die lugruim word in bane hiervoor ingedeel, sê hy.

Die Kwena-dam in die Krokodilrivier is minder as 40% vol. Op die agtergrond is die damwal.

Daar is nie ’n Spitfire (’n vliegtuig uit die Tweede Wêreldoorlog) nie, voeg hy by. “As daar een in Suid-Afrika was, sou ek hom graag wou hê.”

Van die vallei se boere, wat gesaaides, beeste en sitrus het, sê egter hulle sién die vliegtuig gaan van die een wolk na die ander.

Die wolke bou lekker op, dan kom die vliegtuig, woel ’n paar uur lank daarbinne en dan is die wolk weg, sê hulle.

Jan Hamman is een van die Badfontein-vallei se boere wat sê ’n wolkbestuiwingsvliegtuig foeter hul reënval op.

As dit wel reën, is dit in die aand wanneer die vliegtuig huis toe is.

Soms hoor die boere hom nie, want hulle is dan op hul trekkers besig, sê Gideon Cross van die plaas Rietfontein in die hoek van die vallei.

Jan Nel, nog een van die boere, sê dit moet ’n “geheime” operasie wees. Niemand het hulle ooit betrek by ’n openbaredeelnameproses vir wolkbestuiwing nie.

Die vallei, “wat die oumense ‘die spons’ genoem het”, droog uit. Hulle het ’n groen droogte, sê Jan Hamman van die plaas Roodewal.

Pieter Ahlers van die plaas Welgedacht vra: “As daar ’n wolk bokant my plaas is, wie s’n is dit? Is dit myne? Is dit die Hemelse Vader s’n?”

As die besitreg op die wolk nie uitgepluis is nie, kan dit nie net kom verjaag word nie, meen hy.

Ahlers sê in die September- tot Desember-plantseisoen laasjaar het hy net 30% van die reën gekry wat hy normaalweg kry. Hy sê die vliegtuig, wat die afgelope twee of drie jaar opgemerk word, was aan die begin van die huidige reënseisoen “baie aktief”.

Alan Bullen van die plaas Doornhoek sê hulle weet dat aardverwarming ’n effek op reënval het, “maar dié (verskynsel) is iets heeltemal vreemds”.

Hy sê sy sojaboonplante, wat op 10 Oktober geplant is, moes al vier keer hul hoogte wees. Omdat dit nie genoeg reën nie, gaan dit moeilik wees om uiteindelik die kort plante te oes.

Hy verwag net 20% van sy droë­land-sojabone se oes.

Bullen sê in die 41 jaar wat hy hier boer, het dit nog nooit so sleg gegaan met die reënval nie.

Hy het ’n sinusprobleem en “waterige” oë wat hy glo veroorsaak kan word deur die “chemiese laag” wat die vliegtuig in die lug los.

Hamman sê normaalweg sou die wolke in een stuk oor die vallei kom, maar nou gee hulle pad na die kante toe. Dis asof hulle “op-split” weens dié laag in die lug. “Hier word goed bokant ons gespuit waarin ons geen insae het nie.”

“Is hierdie nou reën maak? Of reën wegvat?” vra hy.

Hamman sê hulle gaan ’n moeilike winter hê, want die aangeplante weiding groei nie vinnig genoeg om vanjaar drie snysels af te haal vir spaarweiding nie. Daar sal net een snysel wees.

“Ons werk elke dag met die natuur. Ons verstaan dit word droog. Nou moet ons nog met ’n vliegtuig ook spook,” sê hy.

Omdat dit minder reën, is daar minder water in die grond en hul boorgate droog op. Hulle moet nuwe gate laat boor.

Hulle is ook bekommerd dat die Kwena-dam in die Krokodil­rivier hier weens min reën so leeg is. Die departement van water en sanitasie het in Desember gesê Kwena se watervlak hou aan daal.

Cross sê: “Die Here stuur die wolke en die natuur moet sy gang gaan. Moenie daarmee peuter nie.”

Meer oor:  Franco Van Der Merwe  |  Mpumalanga  |  Reënval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.