Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Die Stem’ glo nie op AIG-program
Steve Hofmeyr tydens Aardklop in Oktober. Foto: SIMONE KLEY

Ten spyte daarvan dat Steve Hofmeyr by byna al sy optredes “Die Stem” sing, het Netwerk24 verneem dat dié lied nie deel is van die Afrikaans is Groot-konsert (AIG) se musiekprogram nie.

’n Bron na aan die organiseerders en sangers van die konsert, het gesê die organiseerders sal “dit nie laat gebeur nie”, maar die organiseerders het nog nie dié bewering aan Netwerk24 bevestig nie.

Die eerste konsert van die konsertreeks skop Vrydagaand by die Moreletapark-gemeente in Pretoria af.

Behalwe vir Hofmeyr, tree kunstenaars soos Bobby van Jaarsveld, Karlien van Jaarsveld, Bok van Blerk en Riana Nel ook tydens dié konserte op wat bekend is vir ’n skouspelagtige program vol verrassings.

Dié konserte se musiekprogram is gewoonlik haarfyn beplan en uitgelê en die kunstenaars het reeds weke gelede begin repeteer en voorberei.

Hofmeyr het vanjaar tydens Aardklop “Die Stem” gesing hoewel die feesbestuur “versoek” het dat hy dit nie moet doen nie.

Hofmeyr het verlede jaar, vir die eerste keer tydens die Innibos-kunstefees “Die Stem” gesing.

Hofmeyr het nie verlede jaar tydens die AIG-konsertreeks “Die Stem” gesing nie, hoewel die konsertreeks in die politieke spervuur was nadat Hofmeyr uitlatings oor Apartheid op sosiale media gemaak het.

Die borge van die konsert is daarna deur die komediant Conrad Koch en sy buikspraakpop Chester Missing aangeval totdat die rusie eindelik in die hof gedraai het.

Koch het gesê hy is bly AIG het ’n nuwe borg.

“Ek het aan die begin van die jaar Toyota ook op Twitter bevraagteken en gevra wat het verander?

“As ’n individu op die program is, ondersteun hulle die individu.”

Koch het gesê hy het nie vanjaar weer jag gemaak op Hofmeyr en die borge van AIG nie omdat hy glo dat hy reeds sy punt gestel het.

“Mense moet nou self besluit,” het hy gesê.

Die organiseerders van Afrikaans is Groot het nog nie op Netwerk24 se herhaaldelike navrae om kommentaar oor vanjaar se konsert gereageer nie.

Hofmeyr het ook nog nie op Netwerk24 se navraag gereageer nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.