Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Dié vier se debute stof gedugte kompetisie uit by pryse

Vir die eerste keer nóg het vier debuutskrywers – Lodewyk G. du Plessis, Jeremy Vearey, Chase Rhys en Charl-Pierre Naudé – koning gekraai in ál die kategorieë van die kykNET-Rapport-boekpryse vir interessante en innoverende Afrikaanse fiksie en feite wat Saterdagaand by die Huis van J.C. le Roux buite Stellenbosch oorhandig is.

Van links is Suzaan Keyter (kykNET), Charl-Pierre Naudé, oudregter Andries Buys, Jeremy Vearey, Waldimar Pelser (Rapport) en Chase Rhys. Foto: Marzahn Botha

By dieselfde geleentheid is Deborah Steinmair en Jean Meiring aangewys as skrywers van die beste fiksie- en niefiksie-boekresensies, wat albei in 2018 in Rapport Weekliks verskyn het.

Oudregter Andries Buys, wat met sy debuutroman, Die dao van Daan van der Walt (onder die skrywersnaam Lodewyk G. du Plessis), reeds die Eugène Maraisprys vir ’n eerste of vroeë letterkundige werk, die W.A. Hofmeyrprys vir Afrikaanse fiksie, die UJ-debuutprys en die prosaprys van die ATKV ontvang het, is aangewys as wenner in die fiksiekategorie. Sy boek is uitgegee deur Tafelberg en het te staan gekom teen Ingrid Winterbach se Die troebel tyd (Human & Rousseau) en Charl-Pierre Naudé se Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey (Tafelberg).

In die niefiksie-afdeling het Jeremy Vea­rey se biografie, Jeremy vannie Elsies (Tafelberg), gedugte finaliste soos Petrovna Metelerkamp se Ingrid Jonker-biografie (Penguin) en Wilhelm Verwoerd se outobiografiese Bloedbande (Tafelberg) uitgestof.

Die jong skrywer Chase Rhys se Kaapse Vlakte-verhaal Kinnes (Kwela) was ’n finalis in die rolprent- én debuutkategorie en is aangewys as die mees verfilmbare boek. Die ander boeke op dié kortlys was Prooi (Human & Rousseau) deur Deon Meyer en Riana Scheepers se roman Stormkind (Tafelberg).

Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey, die digter Charl-Pierre Naudé se debuutroman, wat ook ’n finalis in die fiksiekategorie was, het vir hom die Jan Rabie-Rapportprys vir ’n debuut- of tweede fiksiewerk in die sak gebring.

Die sterk mededinging in hierdie kategorie het meegebring dat daar vanjaar nog drie ander titels op die kortlys was: Alettie van den Heever se toekomsroman Stof, Kinnes en Die dao van Daan van der Walt.

Met die toekenning van die prys aan Naudé word die bordjies as ’t ware verhang, want hy het vroeër vanjaar vir dieselfde roman die UJ-hoofprys ontvang, terwyl Buys se roman die debuutprys gewen het – ’n duidelike weerspieëling van verskillende keurpanele se voorkeure.

* Lees in Weekliks hoe die vier hoofwenners hul skrywerskap sien: Jeremy Veary, Chase Rhys, Andries Buys (Lodewyk G. du Plessis), Charl-Pierre Naude.

* Daar is ook kort uittreksels uit die commendatio’s wat Saterdagaand by die prysoorhandigingsgeleentheid voorgelees is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.