Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Die waarheid oor beurtkrag

Van Suid-Afrika se 12 grootste kragstasies is daar nie een wat die afgelope week nié onbepland onklaar geraak het nie.

Anders as wat Jabu Mabuza, Eskom-voorsitter, die afgelope week beweer het – dat “ons almal” eintlik verantwoordelik is vir beurtkrag – wys interne dokumente van Eskom dis nét die kragverskaffer se skuld.

Trouens, die 2 000 MW krag wat die land met fase 2-beurtkrag spaar, word geheel en al verdwerg deur die 11 153 MW se opwekkingsvermoë wat die afgelope week weens voorkombare foute kort was.

Die dokument wys ’n kwart van Eskom se totale vermoë was nie beskikbaar nie weens onbeplande instandhouding. Nog sowat ’n tiende (5 505 MW) was weens beplande herstelwerk onbeskikbaar.

Boonop het Eskom onlangs 12 eenhede by stasies buite werking gestel, hoofsaaklik omdat daar nie genoeg geld en onderdele was om dit te herstel nie. Dit het nóg 2 149MW uit die kragstelsel gehaal en dit sal maande duur om dié eenhede weer aan die gang te kry indien die nodige onderdele verkry word.

Dan is daar die “ontwerpfoute” by Medupi en Kusile waaroor Rapport voorheen berig het. Buiten dat die verskillende komponente van die stasies nie behoorlik saamwerk nie omdat hulle deur verskillende firmas gebou is, blyk dit nou Medupi se as-onttrekkingstelsel werk nie.

’n Goedgeplaaste bron sê dit beteken Medupi moet van tyd tot tyd afgeskakel word net om die as weg te vee wat veronderstel is om outomaties verwyder te word, berig Dewald van Rensburg.

Baie mense doen nie hul werk behoorlik nie.

Die afgelope week se onvoorsiene probleme wissel van klinkersteen wat vorm weens ’n oormaat aluminium in steenkool, wat met ’n hamer stukkend gekap moet word, tot waaiers wat breek en meulens wat vashaak weens vreemde voorwerpe in die steenkool.

Luidens Eskom se dokumente kan van die foute al in Desember herstel word, maar ander se verwagte hersteldatum is Januarie 2021.

Volgens kenners is die feit dat soveel kragstasies breek die gevolg van swakgehalte steenkool wat in die kragstasies gebruik word, swak instandhouding, en sommige werknemers wat nie vaardig genoeg is nie of eenvoudig nie hul werk behoorlik doen nie.

Deon Reyneke, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit, sê onder normale omstandighede is sowat 2 000 MW gewoonlik weens onbeplande herstelwerk uit die stelsel.

Volgens Solidariteit se lede op grondvlak doen baie mense nie hul werk behoorlik nie. Hulle kyk byvoorbeeld in sommige gevalle nie na die olievlakke of die drukvlakke nie, en as die vlakke te hoog raak, skakel die stasies outomaties af om verdere skade te voorkom.

Ted Blom, ’n onafhanklike kenner van kragstasies, sê dit is onrusbarend dat soveel probleme deur swakgehalte steenkool veroorsaak word.

By Arnot is ’n hele eenheid van 380 MW byvoorbeeld af omdat klinkersteen uit die stoomketel verwyder moet word. Die eenheid moet vir dae afgeskakel word vir die herstelwerk omdat die stoomketel baie warm is.

Die interne Eskom-dokument wys baie van die waaiers is gebreek. Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het Donderdag op ’n nuuskonferensie gesê dit kan tot ’n jaar en ’n half duur om ’n waaier te laat aflewer.

Blom sê die waaiers word spesiaal vir ’n stasie se afmetings gemaak. “Die stasies is gebou voor Windows; so, nou moet jy die skets van die waaier in die hande gaan kry, dit digitaliseer en dan moet dit gemaak word. Jy moet maar hoop iemand het die skets op die regte plek gebêre. Van die waaiers is so groot soos ’n huis. Dit moet per skip hier aankom.”

Wat die gehalte van steenkool betref, sê Blom Eskom het omstreeks 2001 by kleiner verskaffers begin steenkool koop eerder as by die myne langs die kragstasies, wat met vervoerbande steenkool na die myne kan vervoer.

Die gradering van die steenkool duur langer wanneer dit met vragmotors aangery is en eers op die perseel getoets word. Die uitslag duur ’n paar uur. Indien die steenkool reeds afgelaai is, is dit reeds vermeng met die ander, sê hy.

Foute by Eskom se stasies Woensdag om 12:00:

Koeberg 1

  • Verlies aan doeltreffendheid

Hendrina

  • Waaiers kan nie uitlaatgasse behoorlik uitsuig nie
  • Te min stoom word deurgelaat
  • Turbine ondoeltreffend
  • Verkoeling in kondensator swak

Arnot

  • Klinkersteen moet verwyder word
  • Meule haak vas
  • Opwekking afgeskaal om die uitlaatgasse aan wetgewing te laat voldoen
  • Druk te hoog in pyp, wat vlamme kan veroorsaak
  • Te min suurstof in stoomketel – kan lei tot ontploffing
  • Waaier kan nie uitlaatgasse behoorlik uitsuig nie
  • Pomp wat water verskaf om stoom te maak stukkend

Kriel

  • Waaiers kan nie uitlaatgasse behoorlik uitsuig nie
  • Water vir stoom te min

Matla

  • Te min lug om steenkool af te koel
  • Waaiers gebreek
  • Swak gehalte steenkool

Duvha

  • Waterverwarmer gebreek
  • Vibrasie hoog op hoëdrukturbine
  • Waterstof-gaslek

Tutuka

  • Meule haak vas
  • Fout met seël van lug
  • Pompdruk laag
  • Olietemperatuur hoog
  • Uitlaatgasse meer as toegelate hoeveelheid
  • Waterverwarmer gebreek
  • Waterstofgas te warm
  • Waaier trek te veel stroom
  • Pomp stukkend
  • Waaiers kan nie uitlaatgasse behoorlik uitsuig nie
  • Druk in kondensator te hoog, kan veroorsaak dat water op verkeerde plek vorm

Lethabo

  • Stoompyp gebars

Matimba

  • Verkoeling in kondensator swak; water kan op verkeerde plek vorm

Majuba

  • Waaier werk nie behoorlik nie
  • Te min stoom

Kendal

  • Rat in meule vibreer
  • Lug wat steenkool moet droogmaak te min
  • Waaiers gebreek

Medupi

  • Meule het gestop
  • Waterfilter vuil
  • Gasverwarmer vir lug werk nie behoorlik

Kinders só geraak

Sowat 10% meer kinders is in 2014 en 2015 in die Rooikruis-kinderhospitaal in Kaapstad opgeneem op dae waarop daar beurtkrag was in vergelyking met ander dae.

Dit is volgens navorsing wat pas in die vaktydskrif Epidemiology gepubliseer is.

Dr. Christian Gehringer, een van die navorsers, het aan Rapport gesê hy het nuuskierig geraak oor die impak van beurtkrag op hospitaalopnames toe hy in sy laaste jaar van sy mediese studie in die brandeenheid van die Rooikruis-kinderhospitaal gewerk het.

Hy het die navorsing toe saam met prof. Heinz Rode, wat by die hospitaal werk, en dr. Michael Schomaker, verbonde aan die Universiteit van Kaapstad, onderneem.

Hulle het bevind dat meer kinders opgeneem word op dae waarop daar beurtkrag was of binne twee dae nadat daar beurtkrag was. Die gemiddelde getal ongereelde opnames in die studietydperk was ongeveer 57. Op dae met beurtkrag was die gemiddeld 61,3 opnames per dag en op dae met geen beurtkrag was dit 56,7 per dag.

In een geval is ’n pan met warm vet langs ’n vuur gesit en ’n kind het in die donker daarop getrap. In ’n ander geval het ’n kind by kerslig tande geborsel en sy pajamas het aan die brand geslaan.

Daar was ook byvoorbeeld meer opnames vir oog- en oorsiektes, moontlik weens kinders se sensitiwiteit vir rook by vure waar kos gemaak word, en meer opnames vir spysverteringsiektes, moontlik omdat kinders kos geëet het wat sleg geraak het.

Daar was ook meer opnames vir lugwegsiektes. –

Aldi Schoeman

    Meer oor:  Kragstasies  |  Eskom
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.