Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Dié ‘werkers’ tjaila al 11:00!

Die jaar lange gedeeltelike vakansie waarop honderde werknemers van die nasionale gesondheidsdepartement in Pretoria weens hul siek gebou was, is hopelik binnekort verby.

Zweli Mkhize, minister van gesondheid.

Dié werknemers weier om ’n voet verby die voorportaal van die Civitas-gebou in Pretoria te sit sedert dit in September 2018 onveilig en ongesond verklaar is.

Gevolglik daag hulle op vir werk, meld aan in die voorportaal, wag tot 11:00 en verkas dan weer.

Maar dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, is nou duidelik siek en sat daarvoor.

Hy het die bestuur van die departement die afgelope week opdrag gegee om dringend alternatiewe kantore vir die departement te vind.

Nadat die departement van arbeid die gebou onveilig verklaar het, het Rapport berig dit het voldoen aan net 20% van die veiligheidstandaarde soos bepaal deur die Wet op Beroepsgesondheid en -veiligheid.

Departement draai om ander kantore te kry.

Nehawu het bevestig hy het meer as 600 lede by die gesondheidsdepartement wat op werksdae in die voorportaal aanmeld of veldwerk doen wanneer hulle moet.

Khaya Xaba, ’n woordvoerder van Nehawu, sê die departement het reeds in Augustus 2018 onderneem om ander kantore te vind, maar het sedertdien sy voete gesleep.

Die gebou huisves sowat 1 400 werkers, onder wie dié van die reguleringsowerheid vir gesondheidsprodukte (Sahpra).

Hulle het verlede jaar gekla hulle sukkel om hul werk te doen omdat pos byvoorbeeld nie in die gebou afgelewer word nie.

Vakbondlede van Nehawu en die PSA kla al jare oor onder meer problematiese elektriese verbindings, gereelde oorstromings in dele van die gebou en “swart stof” wat aan vensters, mure en lugversorgingeenhede kleef.

Vroeg in 2018 het Nehawu in ’n opname onder 88 personeellede bevind 48 sukkel gereeld met hoofpyn en sinus- en asemhalingsprobleme. Duiseligheid kom ook algemeen voor.

Mkhize het Dinsdag ’n dringende vergadering gehou met sy adjunk, dr. Joe Phaahla, dr. Anban Pillay, waarnemende direkteur-generaal, en senior bestuurslede oor die vordering met die hervestiging.

Luidens ’n verklaring wat hy Dinsdag uitgereik het, werk “sommige personeellede nie vir die volle werksdag” nie.

Xaba sê hul lede hoef nie ná 11:00 soggens op die perseel te wees nie en hulle verwag geen tugoptrede nie omdat hulle hul reg uitoefen soos verskans in die Grondwet en die Wet op Beroepsgesondheid en -veiligheid.

“Ons lede is geadviseer om in die voorportaal aan te meld totdat die werkgewer ’n ander gebou gevind het.”

Xaba sê sekere werkers plaas wel hul gesondheid op die spel deur die gebou binne te gaan.

Ander word geïntimideer of hulle vrees viktimisasie deur hul toesighouers, sê hy.

Mkhize het ook opdrag gegee dat ’n reëling met werkers getref word om terug te keer werk toe vir ’n volle werksdag terwyl daar vir hulle ’n nuwe werkplek gevind word.

Xaba pak al die skuld vir die gesloer op die hervestigingskomitee wat niks gedoen het om die werkers se klagtes of die aanbevelings van die arbeidsinspekteurs aan te pak nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.