Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Dié wet ‘katastrofies vir sport’

Helde sal oornag skurke word. En sport soos Suid-Afrikaners dit tans ken, sal ’n stille dood sterf.

Sportliggame sal ophou funk­sioneer en minder – nie meer nie – sport sal op televisie uitgesaai word as die Onafhanklike Kommunikasieowerheid van Suid-Afrika (Okosa) sy sin kry om te reguleer watter sportgebeurtenisse van nasionale belang is, waarsku MultiChoice.

Sportliggame sal minder geld kry vir uitsaairegte en dus ook om sport te finansier.

Die konsepwetgewing, waarop die publiek tot 15 Desember kan kommentaar lewer, sal uitsaaiers dwing om sekere sportbyeenkomste “wat van nasionale belang is” gratis vir die breë publiek uit te saai. Dit kan verreikende gevolge vir die inkomste van alle nasionale sportliggame inhou.

Dis klaarblyklik daarop gemik om MultiChoice se “monopolie” op sportuitsendings in die land tot niet te maak. Hy saai op sy SuperSport-kanale die meeste van die land se professionele sport uit.

In sy voorlegging van 210 bladsye aan Okosa sê die uitsaaier: “Dit is geen oordrywing nie om te sê as dit aanvaar word, sal die konsepregulasies katastrofiese gevolge hê vir sportliggame, omroepers en kykers, wat volgens ons nie Okosa se oogmerk is nie.

“Minder sport sal op betaaltelevisie uitgesaai word. Minder sport sal op gratis televisie uitgesaai word. Die waarde van uitsaairegte sal val.

“Sportliggame sal minder geld inkry vir hul regte, en dus minder geld om hul sport te finansier. Niemand is gereed om die tekort aan te vul nie.”

Deelnemers en afrigters se salarisse sal val, nes die inkomste van skole, ontwikkelingsprogramme en sportakademies, lui die voorlegging.

“Internasionale ranglyste sal val. Helde sal skurke word. Helde sal verlore wees.”

MultiChoice sê dis onverskoonbaar dat Okosa die konsepwetgewing voorhou sonder om die pad van gewone wetgewing te stap.

Volgens die uitsaaier maak Okosa die voorstelle sonder enige oënskynlike diepgaande bewysgegronde navorsing, sonder internasionale maatstawwe gegrond op meetbare aanwysers en sonder om ’n sosio-ekonomiese impakstudie te doen.

Die owerheid verduidelik ook nie wat met die huidige wetgewing skort nie en hoekom hy die jurisdiksie het om dit in te stel nie.

Volgens die konsepregulasies wil die staat verseker dat groot sportbyeenkomste soos die Wêreldbeker-krieket-, -rugby-, -netbal- en -sokkertoernooi, die Olimpiese Spele, Springbok- en Protea-toetse gratis op die SAUK-kanale uitgesaai sal word, al betaal uitsaaiers soos MultiChoice miljoene rande vir die uitsaairegte.

“Die meeste voorstelle is ontoelaatbaar, onregmatig, misleidend en onuitvoerbaar,” lui die voorlegging.

MultiChoice sê Okosa moet in ag neem dat sportliggame net die regte vir wedstryde in Suid-Afrika besit en nie vir buitelandse wedstryde nie. Die meeste plaaslike sportliggame kry die meeste van hul inkomste uit uitsaairegte. Vir krieket en sokker is dit 59% en vir rugby 53%. Verder word uitgewys die SAUK het nie genoeg kanale of uitsaaityd om sport uit te saai nie. Baie byeenkomste oorvleuel tydsgewys. In 2016 het SuperSport 20 kanale aan die Olimpiese Spele gewy, wat die SAUK nie sou kon doen nie.

As eksklusiewe regte nie bekom kan word nie, sal dit die waarde van die regte met tot 80% verminder, sê die uitsaaier.

Hy gebruik die Premiersokkerliga (PSL)-uitsaaikontrak as voorbeeld. Voorheen het die SAUK eksklusiewe regte gehad, maar kon nie al die wedstryde uitsaai nie. Die nuwe ooreenkoms met MultiChoice het die PSL in die toptien kommersieel winsgewendste sokkerligas ter wêreld geplaas terwyl meer wedstryde op die SAUK én SuperSport uitgesaai is. Klubs en spelers verdien aansienlik meer geld en aansienlik meer word in sokkerprogramme op SuperSport belê.

Netbal is nog ’n voorbeeld van ’n sportsoort waarvoor die SAUK die regte gehad het, maar nooit regstreekse wedstryde uitgesaai het nie. MultiChoice wys uit dat nuwe ligas soos die premierligas vir netbal en hokkie asook die nasionale basketballiga uit die uitsaairegte geskep is.

Hy waarsku die voorgestelde veranderinge sal die byna R2 miljard wat hy tot ontwikkeling bydra ook in gedrang bring.

Dit sal die deur vir nuwe internasionale rolspelers soos Amazon, Facebook en Twitter oopmaak, wat die regte teen aansienlik laer pryse bekom. Sodoende sal dit buite bereik van die meeste Suid-Afrikaners wees.

Dieselfde geld vir plaaslike rolspelers soos Vodacom en Cell C.

Meer oor:  Okosa  |  Supersport  |  Multichoice
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.