Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Dié wet moet buitelanders in poste keer

Die regering gaan voort met wetgewing wat die indiensneming van buitelanders in sekere sektore van die ekonomie sal verbied. Dit volg te midde van gewelddadige protesaksie deur plaaslike vragmotorbestuurders waarin twee vragmotors die afgelope week in Kaapstad uitgebrand is.

Die vragmotors, wat goedere vir Pick n Pay vervoer het, is Woensdag om 02:00 op die N1 tussen Kraaifontein en Klapmuts voorgekeer en aan die brand gesteek.

City Press, susterkoerant van Rapport, berig die Staatsveiligheidsagentskap (SVA) monitor die stygende vlak van ontevredenheid onder die land se werkersklas oor buitelanders in poste wat nie skaars vaardighede vereis nie.

Daar word verwag dit kan styg weens die impak van Covid-19.

‘Protes kan styg weens Covid-19.’

Groot stede in Gauteng, KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap word as brandpunte beskou, veral ondernemings in die toerisme- en gasvryheidsektore.

In April 2018 is 20 vragmotors naby die Mooirivier-tolhek (N3) in KwaZulu-Natal aan die brand gesteek, met ander gevalle op die N1 en N7.

Vragmotorbestuurders dreig nou om die land se hoofweë te versper uit protes teen die aanstelling van “goedkoper” buitelanders op alle vlakke van die ekonomie.

Khumbudzo Ntshavheni, minister vir kleinsakeontwikkeling, het in September 2019 al aangedui só ’n wet gaan kom.

Thulas Nxesi, minister van indiensneming en arbeid, sê die situasie ruk handuit. Nuwe wetgewing gaan nie net beperk wees tot die pad- en vragvervoersektor nie, maar ander bedrywe insluit wat groot getalle buitelandse werkers in diens neem. Dit sluit in die gasvryheidsbedryf, restaurante, veiligheidsmaatskappye en die boerdery- en landbousektore.

Sy departement het al op 7 Mei ’n voorlegging aan parlementslede gedoen waarin die direkteur-generaal, Thobile Lamati, aangedui het ’n nuwe indiensnemingsbeleid word opgestel.

Die 2020-halfjaar-bevolkingskatting, wat Donderdag bekend gemaak is, wys dat Gauteng en die Wes-Kaap tussen 2016 en 2021 ’n verwagte invloei van 468 568 van 1 553 162 buitelanders sou ontvang het.

Volgens geraamde syfers werk sowat 500 000 Zimbab­wiërs in Suid-Afrika in laag­besoldigde poste.

Ntshavheni sê die nuwe wet sal in ooreenstemming wees met dié in lande soos Nigerië en Zimbabwe, waar gespesifiseer word in watter bedrywe buitelanders nié aangestel mag word nie.

Tito Mboweni, minister van finansies, het in Mei gesê restaurante moet ná die inperkingstyd meer Suid-Afrikaners aanstel.

Bongani Mkwananzi van die Zimbabwiese gemeenskap in Suid-Afrika sê terwyl die Zimbabwiërs die regering se posisie verstaan, is daar maatskappye wat verkies om buitelanders aan te stel.

“Al word regulasies opgestel, sal dit nie die invloei van werksoekers keer nie.

“Daar moet ekonomiese ontwikkeling in die hele Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap wees,” sê hy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.