Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
DIEPTEARTIKEL: ‘Al sukkel die uie, hou ons aan groei’

Die Suid-Afrikaanse skoolstelsel is siek, het die minister van onderwys Angie Motshekga vroeër vanjaar gesê. Maar net soos ’n goeie boer, maak ’n plaasskool ’n plan. Cheréne Pienaar en Mlungisi Louw het by ’n handvol skole stilgehou waar die grondpad doodloop.

Peanut Kemp swaai op ’n band by die Laerskool Kleinbroek buite Bothaville. Foto’s: Mlungisi Louw

Peanut Kemp (9) hol kaalvoet verby dat die stof so staan. Die klok het die einde van pouse aangekondig, maar hy gaan nog een keer onderstebo op die Laerskool Kleinbroek se skoppelmaai hang.

’n Klipgooi van dié skool buite Bothaville, by die Nampo-Landbouskool, staan Senti Tolbard, gr. 10, in ’n skuur vol ystergoed – háár speelplek – waar sy die stemme stil en haar toekoms aan die brand sweis.

Reon Horn, wat die vak tegnologie hier gee, wink my nader.

“Ek wil jou graag wys hoe weld ’n meisiekind.”

Haar sagte gelaat verdwyn agter die sweishelm voordat sy met militêre presisie gate in ’n staalpyp brand. Dié week bou sy ’n braaier.

Senti, van die township Kgo­tsong, is ’n kandidaat om ’n onderskeiding in tegnologie te kry, vertel hy breëbors.

Senti Tolbard en Thato Beya, gr. 10-leerlinge aan die Nampo-Landbouskool buite Bothaville, is meester-sweisers danksy die opleiding van onderwysers soos Reon Horn, wat dag ná dag aan die leerlinge se vaardighede skaaf. Die werktuigsaal was eers een van die visteelstasies, ’n projek deur die Vrystaatse regering wat weens wanbesteding nooit van die grond af kon kom nie.

Die “klaskamer” is ’n ou visteelstasie, een van die Vrystaatse regering se wit olifante, wat omskep is in ’n werktuigsaal waar die leerlinge kan sweis, bou en aan hul menswees skuur.

“Ek glo as jy nie iets ordentliks aangevang het nie, móét jy ’n bietjie raas kry.”

Bootanker bou. Pypswys. Hulle sny tralies af om weer te las.

“En my matrieks het dit toe gespuit. Gistermiddag, kyk hoe lyk my hande, het hulle tot halfdrie gewerk.”

“Dit is lekker om goed te wees in iets unieks,” laat Senti hoor waar sy in haar oorpak staan.

Sy en Thato Beya, ’n klasmaat, het onlangs die skool verteenwoordig by die sweiskompetisie in Sasolburg, waar hulle teen 18 meisies en 400 seuns meegeding het. “Dis my twee ysters daai,” sê Horn.

Ricko Lemmer (voor) en Lika van Eeden in die gr. 1-klas van die Laerskool Kleinbroek op die plaas Kleinbroekmansfontein buite Bothaville in die Vrystaat.

Buite, waar sy wit Opel Cub in die son bak en roes, kry ons vir Pieter Malan, departementele hoof.

Hier was eers geen gereedskap nie, toe besef hy dit is tyd dat die leerlinge uit die klaskamers kom en landbou-ervaring opdoen.

’n Groentetonnel, ’n vierkant mielielande, lusern, vier bonsmara-koeie en lammers maak nou van die meublement op die skoolterrein uit. Lêplek vir 500 henne word gebou.

Die skool kry een keer ’n jaar geld van die departement, wat skaars die basiese koste dek, vertel Malan.

“Verder het ons alles gekoop. Ons sukkel, regtig. Die wit skole het baie borge. Maar omdat hy (Horn) so positief is, en ek ook, gebeur hier iets.”

Oorvol klasse en ’n tekort aan personeel, is nóg duwweltjies wat die skool moet oorkom.

Die Laerskool Kleinbroek se gr. 1-klas.

“Dit is nie maklik nie. Kom ons sê maar ek geniet wat ek doen.”

Hy vertel die ouers, van wie die meeste ongeletterd is, sien die skool as bloot ’n plek waar hul kinders besig gehou word.

“Die meeste is nie betrokke nie, die kinders is op hul eie. Ek kry hulle bitter jammer. Daar is nie salf aan te smeer nie, dit is hoekom ons hul kinders graag wil ophef.”

As die leerlinge van die township nie fisiese wetenskap of wiskunde kan neem nie, het hulle geen ander keuse as om die tegniese vakke te doen nie.

“Die departement moet nou ophou karre koop en begin help. Ons land is regtig in ’n krisis op baie terreine.”

Rethabile Mosuang, Refilwe Kalane en Luyanda Masumpa, almal gr. 11-leerlinge aan die Nampo-Landbouskool buite Bothaville, plant onder meer spinasie in die skool se groentetonnel.

Bovaal, Nampo se eweknie duskant die dorp, het nie koeie soos hulle nie.

“Maar hulle het onlangs ’n trekker en ’n vol stel implemente gekry. Bovaal was op sy knieë maar het weer opgestaan.”

By die Laerskool Tidor, ’n gebou wat uit drie vertrekke bestaan, moet twee onderwysers kop bo water hou met 54 leerlinge, gr. 1 tot 6.

Idah Mahlatsi, die skoolhoof, wikkel die staaldeur met moeite oop. “Ek is nie ’n regte skoolhoof nie. By ’n plaasskool is jy alles, hoor. Verlede jaar was ek die enigste onderwyser. Jy doen dit maar net.”

By die Laerskool Kleinbroek (“Kortbroekielaerskool” in die volksmond) op die plaas Kleinbroekmansfontein, ’n ent van die Nampo-Landbouskool, is die klaskamers gebou om net ’n sekere aantal kinders, 10 tot 15, te dra. Die bestuursraad-poste word deur die boere betaal.

Johann Grobler, hoof van die Laerskool Kleinbroek vir die afgelope 29 jaar, sê die skool is dekades reeds ’n instelling. Boere asook inwoners van Bothaville se kinders neem daagliks ’n bussie na die skool.

Johann Grobler, hoof vir die afgelope 29 jaar, sê die skool is dekades reeds ’n instelling. Boere asook inwoners van Bothaville se kinders neem daagliks ’n bussie na die skool.

“Dit is ’n verkeerde aanname dat ons ’n ryk skool is. Hier is kinders wat uit die armste, armste huise kom.”

By Nampo frons Horn diep teen die sonlig.

“Ons probleem is, ons kinders weet nie hoe om te leer nie. Leesvaardigheid. Man,they can’t read!

Die matrieks streef na ’n vlak 2-slaagsyfer, wat beteken sy gemiddeld is tussen 30 en 39%.

“As hy 30% behaal en hy het matriek, dan’s hy moerse chuffed met homself. Dan dink hy die wêreld gaan vir hom oopgaan.”

Helen Jacobs gee klas vir die gr. 6’e van die Laerskool Kleinbroek. Haar hoofvak is Engels (gr. 4 tot 7).

Maar onderwysers soos Horn en Malan bly praat, soebat en saai.

In die groentetonnel hou Rethabile Mosuang ’n handpalm vol spinasiesade na my uit. “Ek is mal oor plante en diere, maar as ek nie dié kan doen eendag as ek groot is nie, sal ek in die media wil werk.”

“Angifuni amaline benoba isghozo,” sê Odendaal in die groentetonnel. Hou die lyne reguit.

“Hulle moet dit hier leer, anderster gaan hulle vir die res van hul lewe só werk,” sê hy en draai sy kop om hul handewerk na te gaan.

Die beet vat mooi, terwyl die uie maar sukkel in die winter.

“Maar ons hou aan groei.”

Voor links is Kelebogile Pholoholo (6), Malehloho Moepi (6) en Sarah Mokhuane (6) van die Laerskool Tidor buite Bothaville in die Vrystaat.
Wynand ‘Peanut’ Kemp swaai op ’n band op Laerskool Kleinbroek, ’n gewilde plaasskool buite Bothaville in die Vrystaat. Foto: Mlungisi Louw
Meer oor:  Bothaville  |  Onderwys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.