Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
DIEPTEARTIKEL: Trauma ná aanval: ‘Ons boere is kamma stérk’

Die hart van ’n dorp tik anders nadat ’n plaasaanval aan sy buitewyke plaasgevind het.  Cheréne Pienaar het Boshof in die Vrystaat se polsslag gaan voel ’n maand nadat Sakkie van der Berg, die raakvatman sonder hande, en sy vrou, Ina, wreed van die gemeenskap weggevat is.

Sakkie en Ina van der Berg in gelukkiger dae op die grondpad wat na hul plaas lei. Hier is hulle saam met hul drie dogters en kleinkinders. Heel agter is Nicolene Pienaar, hul jongste dogter. Links voor is Liezel Kruger en haar dogters Julia (agter in Sakkie se arms) en Claire (heel voor), en Doreen van Rensburg, die oudste dogter, met haar twee seuntjies, Divan en Donovan (voor). Foto: Verskaf

Haar huis is in 1889 gebou en het súlke dik mure, wys Bets van Tonder (81) tussen twee skewe handpalms. Ons sit in die kerksaal en wag op die geleerde man. Dr. Frans Minnie, pastorale sielkundige van Radio Kansel, kom praat oor hoe om trauma te hanteer. Tannie Bets is ’n halfuur vroeg en wag met haar blommetjieskussing in die voorste ry.

Buite die Van der Bergs se nou verlate huis op die plaas Blombos is ’n kussing met dieselfde lap op een van die tuinstel se stoele waar hulle smiddae oor koffietyd sou ontspan.

Langs dit ’n baksteenhuisie met houtbalke daarom wat ou blikgoed soos juweliersware dra. Tot onlangs het hul kleinkinders se laggies nog daaruit geëggo.

“As jy diep spore wil trap, trek jou werkskoene aan,” lui geverfde woorde op ’n geroeste ysterdeur. Die grondpad na die plaas dra ook ou spore na die hek waar Sakkie (67) net ’n maand gelede oorval is.

Sy vrou, Ina (62), is vermoedelik later die aand deur die aanvallers in hul huis vermoor.

Tannie Bets kan nog die sinkplaatpad na Sakkie en Ina se huis voel waar sy ’n week voor hul dood gaan kuier het.

“Ek sal nie myself as bang beskryf nie,” sê die fyn vrou en klem haar hande om die soom van haar dik pelsjas. “Ek het dan jare die dorp se ambulans bestuur.”

Agter die kerksaal drom ’n groep boere saam en praat oor die prys van lek as dit met die koöperasie en dié van die Griek Da Silva vergelyk word.

Van links is Doreen van Rensburg, Ina en Sakkie van der Berg, Nicolene Pienaar en Liezel Kruger. Nicolene sê hulle het ’n baie hegte band met hul ouers gehad. Foto: Verskaf

Niemand sê iets oor die vreemdeling wat sy PowerPoint op die saal se muur regtrek nie.

’n Pynlike sterk handskud benadruk die opregtheid van die boer Willem van Niekerk met sy kakiehemp.

Hy sê die slegste is om saans by die plaashek stil te hou. “Ons stop eers ’n entjie daarvandaan. Die ouens het dit net in Jo’burg gedoen. Die hele romanse van op ’n plaas bly, van ’n bietjie saans rondloop en op die stoep sit . . . daai dae is verby.

“Ek voel half ek intimideer my werkers as ek met ’n pistool rondloop. Dis sleg. Ek het die beste span in die hele distrik, dis nie my bedoeling nie.”

Douglas Pope van die plaas Success en sy vrou, Louise, staan nader. “Jy is gewoond jy maak die hek oop en ry Kimberley toe; daai dag, toe skiet hulle my in die maag.”

Die rooi pad na Bloubos ’n maand ná die moorde wat ’n gemeenskap geruk het. Dis presies hier waar Sakkie van der Berg oorval is en in sy bakkie gelaai is voordat hulle na die huis waar Ina gewag het, gery het.Foto: Cheréne Pienaar

Sagte blou oë kyk verslae terwyl hy dit sê, asof dit net die ander dag gebeur het.

“Ek het die hek oopgemaak, toe val my sleutels, en toe ek buk, hoor ek hier kom ’n kar aan. Iets sê vir my staan op, en toe verskyn ’n rewolwer by die venster uit.”

“Hy was amper dóód,” sê Willem voordat ’n skalkse glimlag op sy gesig vorm. “Hy was ’n nice looking ou gewees, kyk hoe lyk hy nou!” Ons lag.

“Dit het my nie regtig geraak nie,” skerm Douglas vinnig. “Ek het niks daarvan oorgehou nie, ek wil net vergeet.”

Willem tree in. “Dit wat jy nou sê, is nie waar nie. Jy móés iets oorgehou het. Iewers sit jy ’n dop om jou lewe en jy gaan aan want ons boeremense is mos stérk. Iewerster is iets afgebreek in jou siel.”

Douglas kyk af na sy hande. Dan lig hy die regterkant van sy leerbaadjie.

“Hy is dié kant in, die een stuk het uitgeskiet, die ander is in my ruggraat in.”

Buite die Van der Bergs se nou verlate huis op die plaas Blombos is ’n tuinstel waar hulle smiddae oor koffietyd moes ontspan. Foto: Cheréne Pienaar

Louise sê sy het sewe ribbes gebreek toe sy by ’n jong ram se kraal in is, ’n jaar ná die skietvoorval.

“En ek stap steeds by die kraal in asof dit niks is nie, dit hoef ’n mens nie so by te bly nie.”

Lolo Johannes Sekgroro, een van die verdagtes in die moord op Sakkie en Ina, wat ten tyde van die aanval verlede jaar op borgtog uit was vir ’n plaasaanval buite Hertzogville, ’n buurdorp, het grootgeword op Success.

“Ag jong. Sy pa en sy pa se broer het vir ons gewerk. Lolo het saam met ons kinders gespeel,” sê Douglas.

Dit het ’n baie negatiewe invloed op ons reënboognasie, meen Willem. “Ek skaar my onmiddellik by ander boere. In jou onderbewussyn begin jy rondkyk, jy hoor die lelike k-woord al hoe meer, die mense is kwaad, wat totaal onnodig is.

“Boshof? Man, vra vir hulle, dit was die makste plek wat daar is. Dis my plek dié, die bloed het geloop soos ek gewerk het.”

Die Van der Bergs se nou verlate plaashuis spreek van twee skeppende mense wat graag familie, kleinkinders en kuiergaste, onthaal het. Handewerk soos die blikgoed wat aan houtbalke gedrapeer is, skep ’n warm geval langs die leë, geslote huis. Foto: Cheréne Pienaar

Dr. Minnie praat oor asemhaal in bruin papiersakkies, antidepressante, gereeld en gesond eet.

“Deesdae se generasies gee links en regs drukkies, dis die vreemdste ding! Maar dit kan baie help.”

Met posttraumatiese stres voel dit of jy nie kan dink nie.

“Die simptome ná so ’n ervaring is angsaanvalle as gevolg­ van ’n tekort aan neuro-oordraers. Serotonien en so aan. Dit voel of daar ’n geweldige blok op jou bors is . . . ”

Ná die tyd haal ek Seun Oosthuizen in waar hy haastig na sy bakkie stap. Hy boer oorkant die Van der Bergs en het eerste op die toneel afgekom waar die egpaar se lyke gelê het.

“Ja dis ’n . . . ek wil nie eintlik daaroor praat nie. Dit gaan beter.”

Sy stem breek.

“Dis maar ’n . . . dis nie ’n mooi ding nie. As ons nou daaroor praat, kom dit alles weer terug.”

Het dr. Minnie se woorde enigsins gehelp?

Sakkie het sy hande as jong man in ’n werksongeluk verloor, maar hy kon volgens vriende enige iets doen met slegs ’n stukkie vinger aan die een hand. Hier is sy en Ina se tuin waarin hulle graag baljaar het. Foto: Cheréne Pienaar

Sy oë skiet vol trane soos hy die donker nag instaar.

“Nee, jammer. Dit het nie.”

Nicolene Pienaar, die Van der Bergs se jongste dogter, sê die seer bly sit.

“ ’n Mens is nog baie deurmekaar. My ma’t altyd gesê one day at a time, so ons probeer dit maar een dag op ’n slag vat.”

Die familie het Ina se gunstelinglied­, One day at a time, op die egpaar se roudiens gespeel.

Die egpaar se kleinkinders gaan nou almal vir berading.

Was dit nie vir die duisternis nie, sou Boshof die perfekte ligging vir ’n storie soos Die Boekklub kon wees, dink jy terwyl ds. Andreas van Rooyen jou laataand deur die wye strate begelei.

Die enigste ander misdaad, naas die dubbelmoord, wat die dorp self die laaste paar jaar gesien het, was diewe wat die kerk se veiligheidsheining gesteel het.

“En van die huise se koperpype,” sê hy terwyl net ons skoene die grondpad laat kners.

“Maar die mense gaan aan.”

“As jy diep spore wil trap, trek jou werkskoene aan,” lui ’n geverfde deur van ’n ou koelkamer in die Van der Bergs se tuin.Foto: Cheréne Pienaar
’n Hegte gesin kort voordat ’n tragedie hulle uitmekaar geruk het. Van links is Liezel Kruger, Ina van der Berg, Doreen van Rensburg, Sakkie van der Berg, en Nicolene Pienaar. Foto: Verskaf
Die vermoorde Vrystaatse boer Sakkie van der Berg van Boshof is Vrydag, 12 Julie, deur twee mans by ’n hek op die plaas Bloubos ingewag en oorval. Sy vrou Ina (62) is vermoedelik later die aand deur die aanvallers in hul huis vermoor. Foto: Cheréne Pienaar
Meer oor:  Sakkie Van Der Berg  |  Boshof  |  Vrystaat  |  Plaasaanvalle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.