Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Digital Vibes: SOE sê kla Mkhize strafregtelik aan
Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid. Foto: Darren Stewart

Miljoene rande is met die Digital Vibes-kontrak in die water gegooi, het die spesiale ondersoekeenheid (SOE) in sy ondersoek bevind.

Die SOE het ook bevind dat dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid wat op spesiale verlof geplaas is, tesame met sy seun Dedani strafregtelik aanspreeklik gehou moet word.

Die SOE se bevindings blyk uit ’n aansoek wat vandeesweek by die Spesiale Tribunaal ingedien is om sowat R4 miljoen van Mkhize en sy familie terug te eis.

Die Spesiale Tribunaal het reeds vroeër ’n bevel toegestaan om R22 miljoen van Digital Vibes se bank- en beleggingsrekeninge te bevries.

Rajendra Chunilall, hoofondersoeker van die SOE, sê in haar beëdigde verklaring in die jongste aansoek die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) is reeds gevra om strafregtelike aanklagte ten opsigte van oortredings van die Wet op die Voorkoming en Bestryding van Korrupte Aktiwiteite teen Mkhize en sy seun te oorweeg.

“Bewyse wat die SOE tot dusver ingesamel het, wys dat die nasionale departement van gesondheid min tot geen waarde vir geld ontvang het ten opsigte van dienste aan hom gelewer nie,” lui die beëdigde verklaring.

Sodra dit alles gedoen is, sal ek aan die nasie verduidelik presies hoe ek die verslag sal hanteer.
Pres. Cyril Ramaphosa

Die SOE se finale verslag is reeds in Junie aan pres. Cyril Ramphosa oorhandig.

Ramaphosa het Donderdag in Midrand aan joernaliste gesê daar is nog enkele kwessies ten opsigte van die verslag wat afgehandel moet word. “Sodra dit alles gedoen is, sal ek aan die nasie verduidelik presies hoe ek die verslag sal hanteer.”

Mkhize is tans weens die Digital Vibes-tenderskandaal met spesiale verlof.

In die aansoek is Mkhize en Dedani se name op die lys van 20 mense aan wie Digital Vibes glo R90 miljoen betaal het van die R150 miljoen wat die maatskappy uit sy kontrak met die departement van gesondheid ontvang het.

Die SOE sê die kontrak is onwettig toegeken en moet dus tersyde gestel word.

Digital Vibes is aanvanklik op 23 September 2019 aangestel om kommunikasiedienste vir ’n veldtog oor Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) te lewer. Dié kontrak is in 2020 vir bewusmaking oor die Covid-19-pandemie uitgebrei. Dit was onreëlmatig, is bevind.

Ten beste kan dié gedrag van die minister as onbehoorlik beskou word. In die slegste lig kan sy gedrag as onwettig beskou word.

Dit is gedoen nog voordat die eerste ramptoestand afgekondig is, sê die SOE.

Daar is geen redelike bewyse waarvoor Digital Vibes betaal is nie, aangesien hy geen fakture of enige ander stawende dokument kon verskaf nie, is in die ondersoek bevind.

Mkhize het na bewering druk op Malebona Matsoso, die departement se direkteur-generaal, uitgeoefen. Mkhize het na bewering herhaaldelik boodskappe aan Matsoso gestuur om Digital Vibes aan te stel.

Tahera Mather, wat Mkhize se woordvoerder was toe hy die ANC se tesourier-generaal was, en Naadhira Mitha, sy voormalige persoonlike assistent toe hy minister van samewerkende regering en tradisionele sake was, beklee leidende rolle in Digital Vibes.

“Ten beste kan dié gedrag van die minister as onbehoorlik beskou word. In die slegste lig kan sy gedrag as onwettig beskou word,” lui die verklaring.

Hoewel Digital Vibes se geregistreerde direkteur ’n vulstasiebestuurder in Stanger is, is bevind dat Mather en Mitha die ware begunstigdes van die maatskappy was wat as skyn op die been gebring is met die uitsluitlike doel om die NGV-tender te bekom.

Volgens die SOE is daar bewyse dat die twee die hele plan met die hulp van Mkhize en amptenare van die departement georkestreer het.

Die twee het hierna na bewering bedrieglike betalings aan maatskappye wat aan Mather behoort, asook aan ander familielede gemaak.

Dedani het na bewering ook R3,8 miljoen ontvang. Dit was glo in die vorm van ’n bakkie asook kontant, wat hy by verskeie geleenthede in houers en plastieksakke by ’n vulstasie afgehaal het.

Dié bakkie word glo gebruik op ’n plaas naby Pietermaritzburg wat aan Dedani behoort.

Meer oor:  Soe  |  Digital Vibes  |  Zweli Mkhize
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.