Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Dink voor jy weer van ’n troeteldier praat

Mense moet asseblief nie meer na hul huisdiere as troeteldiere verwys nie. Noem hulle eerder metgeselle, maats, kamerade, makkers of selfs geselskapspersone, vra ’n groep mense wat hulle beywer vir die regte van diere.

En mense met huisdiere behoort nie langer na hulself te verwys as eienaars van diere nie, maar eerder as die diere se mensversorgers.

Troetel dui volgens die groep Mense vir die etiese behandeling van diere (Peta) op ’n tydelike en neerbuigende houding en dat jy die dier kan weggooi nadat jy dit klaar getroetel het.

Peta het homself baie kritiek op die hals gehaal nadat hul woordvoerder, Jennifer White, op die program Good morning Britain gesê het baie mense het katte en honde tuis.

“Hulle sal praat van troeteldiere en na hulself as eienaars verwys. Dit impliseer dat die diere ’n besitting is, soos ’n kar byvoorbeeld,” het White gesê.

“As jy na diere verwys asof hulle nie lewend is nie, maar sommer net ’n voorwerp, kan dit ’n uitwerking hê op hoe jy hulle behandel.”

Die kern van White se standpunt is sy glo mense wat na ’n dier as ’n troeteldier verwys, wek die indruk dat die dier weggooibaar is – soos weggooidoeke.

Nick Ede, ’n reklameagent wat ook aan die program deelgeneem het, het White daarvan beskuldig dat sy met die nuwe idee Peta se naam belaglik maak.

“Ek is die eienaar, want ek het my hond gekoop en ek besit die hond. Eienaar is gelyk aan eienaarskap en dit lei tot die beginsel dat as jy iets besit, moet jy daarna omsien en verantwoordelikheid daarvoor neem,” het Ede gesê.

Ingrid Newkirk, die stigter van Peta, het in ’n verklaring aan Fox News gesê om na ’n dier as “dit” of “troeteldier” te verwys, ontneem die dier van emosie en maak van hom ’n besitting wat net getroetel kan word wanneer jy wil en dan is dit klaar.

“Ons wil nie die woorde verbied nie, maar stel net voor dit sal meer respekvol teenoor diere wees as ons onsself as hul beskermer beskryf en hulle ons metgesel noem,” sê Newkirk.

Op Twitter het dit gegons. Piers Morgan, aanbieder van die program, is aangeval omdat hy “die arme meisie ongeskik geboelie het en haar probeer stilskree het. Selfs die klein hondjie was bang. Haar idees is dalk verspot, maar dis nie nodig om haar só te behandel nie”.

’n Ander het getwiet “solank die diere liefde kry en versorg word, dink ek nie hulle gee om wat hulle genoem word nie”. New York Post, wwwfox29.com




Meer oor:  Peta  |  Troeteldier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.