Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Dís die probleme met krag in Gauteng

Opgraderings aan substasies, beurtkrag, kabeldiefstal en onwettige kragomleidings is deel van ’n rits probleme wat gladde kragverskaffing in Gauteng belemmer.

Tog sê ’n elektriese ingenieur goeie ingenieurspraktyke en voorbereiding kan keer dat ’n enkele fout baie kragverbruikers beïnvloed of tot lang en herhalende kragonderbrekings lei.

Inwoners van Johannesburg en die Oos-Rand is al moedeloos ná verskeie beplande en onbeplande kragonderbrekings die laaste tyd.

Talle Johannesburgers moes Woensdagoggend in donkerte regmaak vir werk nadat City Power reeds die hele nag aan hooftoevoerkabels gewerk het.

Miljoene se opgraderings

City Power doen miljoene rande se opgraderings.

Volgens Isaac Mangena, City Power-woordvoerder, het die kragonderbreking in Johannesburg Sondag laat aangehou omdat die instandhouding van die Rooseveltpark-substasie eers 12:00 begin het. Die werk het eers agt ure later geëindig, en nie 16:00 soos die kennisgewing aan inwoners gelui het nie.

City Power het nie gereageer op vra oor swak kommunikasie met inwoners nie.

Volgens Mangena is City Power besig met opgraderings ter waarde van R133 miljoen aan die 65 jaar oue Rooseveltpark-substasie.

“Die werk by dié substasie is belangrik, want dis die kern van baie van die inwoners se frustrasies met kragonderbrekings wat die afgelope jare al hoe meer gereeld gebeur.”

Hy sê die opgradering sluit in ’n nuwe 88 kV-kragkabel wat deur die Delta-substasie gevoer word, nuwe 11 kV-voerderpanele, die installering van twee nuwe transformators en ’n nuwe beheer-aanleg wat die netwerk vir die volgende 20 jaar moet stabiliseer.

Mangena vra inwoners om geduldig te bly terwyl City Power sy opgraderings doen.

Mark Wilson, hoof van die Ekurhuleni-metroraad se energiedepartement, het by navraag gesê die afgelope naweek se kragonderbrekings in die Glen Marais-gebied het te make met die laaste fase van herstel van die Glen Marais-substasie. Hy sê dit is nie ongewoon dat daar foute in kabels voorkom na só ’n ontploffing nie.

Die metro het vroeër die ontploffing toegeskryf aan ’n elektriese fout weens kabeldiefstal. Volgens Wilson veroorsaak so ’n fout dat die stroom swak plekke in die kabel vererger en dit dan lei tot verdere onbeplande onderbrekings.

Soos die substasie herstel word, word beskadigde kabels ontdek en vervang. Die Glen Marais-substasie sal dus uiteindelik splinternuut wees, sê Wilson. Hy hou vol dat die kragsituasie in Kempton Park al hoe meer stabiel raak.

Kabeldiefstal en ander misdaad

Wilson sê kabeldiefstal, onwettige verbindings en onwettige kragomleidings kos die Ekurhuleni-metro maandeliks baie geld. Tenders word tans ingewin vir nuwe tegnologie om die metro’s te help om die diefstal te voorkom, asook nuwe sagteware wat onwettige omleidings van elektrisiteitsmeters wil hok slaan.

“Dis nie die armstes van die armes wat onwettig krag herlei nie. Net in Benoni waar ek bly, is sowat 20 mense geïdentifiseer. Elke middelklashuishouding wat sy kragmeter omlei, is gelyk aan 100 laekoste-huise wat krag steel,” sê Wilson. Luidens ’n verklaring kos onwettige verbindings die metro al R700 miljoen.

Omdat groot hoeveelhede verbruikers gelyktydig aangeskakel word ná ’n kragonderbreking, lei dit tot kort tydperke van oorlading wat die lewe van toerusting soos transformators en kabels verkort en uiteindelik laat ingee.
Louis du Toit, ’n elektriese ingenieur van Thabile Engineering in Bloemfontein.

Eskom het by navraag gesê die kragreus werk saam met die polisie, Gautengse metropolisie en instellings soos Telkom, Transnet, Prasa, die departement van minerale bronne en Gauteng se rampbestuursentrum om die betrokke misdade te voorkom.

“Tog sal Eskom ’n verbetering wil sien in die suksesvolle vervolgings van oortreders,” sê Dikatso Mothae, Eskom-woordvoerder.

Louis du Toit, ’n elektriese ingenieur van Thabile Engineering in Bloemfontein, wat al die jare vir Eskom werk gedoen het, sê toerusting word oorlaai as te veel gebruikers gekoppel is en die verbruik skielik styg, soos op koue wintersdae.

Maar volgens Du Toit is ’n skakelaar veronderstel om die kragtoevoer na ’n foutiewe kabel af te skakel om skade te beperk en ontploffings soos dié by Glen Marais te voorkom.

“Die elektriese beveiliging wat kortsluitings en oorlading moet identifiseer en dan in ’n breukdeel van ’n sekonde die kragtoevoer na die foutiewe kabel moet afskakel om skade te beperk en die integriteit van die stelsel te beskerm – en sodoende verseker dat so min as moontlik gebruikers daardeur beïnvloed word – het waarskynlik nie gewerk nie.

“As die kragtoevoer ná die fout nie baie gou afgeskakel word nie, word daar geweldige hitte opgewek deur elektriese strome wat na die fout vloei. Die hitte laat kabels smelt en beskadig toerusting,” sê Du Toit.

“Dit is goeie ingenieurspraktyk om verspreidingsnetwerke só te ontwerp dat ’n enkele fout nie tot groot ontwrigting of lang kragonderbrekings sal lei nie.”

Hy sê die probleme is dikwels die gevolg van swak bestuur, swak netwerkbeplanning, asook onvoldoende instandhouding.

“Beurtkrag plaas (ook) stremming op elektriese toerusting, hoofsaaklik weens die gereelde aan- en afskakeling. Omdat groot hoeveelhede verbruikers gelyktydig aangeskakel word ná ’n kragonderbreking, lei dit tot kort tydperke van oorlading wat die lewe van toerusting soos transformators en kabels verkort en uiteindelik laat ingee,” sê Du Toit.

Meer oor:  City Power  |  Eskom  |  Gauteng  |  Beurtkrag  |  Kabeldiefstal  |  Herstelwerk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.