Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Dis groot seën’

Hannetjie Kelderman (55) van Newlands in Pretoria het gistermiddag met ’n splinternuwe grys Kia Picanto Street 1.0 by Kia se vertoonlokaal in Edenvale uitgery.

Hannetjie Kelderman (regs) van Pretoria ontvang haar splinternuwe Kia Picanto Street 1.0 van R154 495 by Kia Motors Edenvale. Voor links is David Sieff, Kia se bemarkingsdirekteur. Agter is Retha Fick, adjunkredakteur van Beeld, Adrie van Staden, uitvoerende beampte van die Beeld-Kinderfonds, Louise Jooste, bemarkingsbestuurder van RSG 100-104fm, Amore Bekker, aanbieder van Tjailatyd op RSG, en Muriël Janse van Rensburg, geleent-heidskoördineerder van RSG. Foto: Theana Breugem

Op haar hakke was haar man, Harm, wat die hele ervaring as “surrealisties” beskryf.

“ ’n Mens se lewe kan in ’n oogwink verander,” het Hannetjie gesê van die dag toe Amore Bekker van Tjailatyd op RSG haar bel met die nuus dat sý die gelukkige wenner van die motor in die RSG-Beeld-Kinderfonds-projek is.

“Ek koop elke jaar motorkompetisiekaartjies. Dit is my manier om ietsie terug te gee en ’n bydrae te lewer.

“ ’n Mens doen dit om te help, nie eintlik vir die motor nie!”

Hannetjie, ’n bestuurder van ’n kleuterskool vir gestremde kinders, het vanjaar ’n boekie met tien kompetisiekaartjies by een van die Kinderfonds se begunstigde organisasies gekoop.

“Toe Amore die middag oor die radio sê sy gaan nou die wenner bel, het ek in Jan Shoba-straat (Duncanweg) gery. Die volgende oomblik begin my foon lui en daar’s nêrens plek om af te trek nie! Ek weet nou nog nie hoe ek by die huis gekom het nie.

“Dit is ’n groot seën. ’n Mens is so dankbaar.”

Harm vertel van daardie dag. “Toe Hannetjie my die oggend laat weet sy is op die kortlys om die motor te wen, sê ek vir die Here ek weet daar is duisende mense wat ’n motor nodig het, maar dit sal baie gaaf wees . . .

“ ’n Mens voel baie klein. Begenadig. Met soveel deelnemers is dit net so onwaarskynlik om te wen.”

Die motor is vir die gesin ’n uitkoms, want die egpaar se jongste kind, Maryke (23), wat by ’n naskoolsentrum werk en by hulle woon, maak op busvervoer staat om by haar werk te kom.

“Die busse is baie onbetroubaar,” sê Harm.

“Nou kan ons vir haar Hannetjie se ou motor gee.”

Die jaarlikse RSG-Beeld-Kinderfondsprojek in samewerking met Kia is die Beeld-Kinderfonds se grootste geldinsamelingsprojek.

Gedurende die projek, wat in Junie begin het, is 35 075 SMS’e van R30 elk ontvang, terwyl lede van begunstigde organisasies 11 736 kompetisiekaartjies verkoop en 1 785 inskrywings by die fonds se bankrekening inbetaal is.

Die totale bedrag wat met die projek ingesamel is, sal eersdaags bekend gemaak word.

Die geld word aan die einde van die betrokke geldjaar oorhandig aan sowat 30 liefdadigheidsorganisasies wat hulp aan kinders in nood verleen.

Meer oor:  Hannetjie Kelderman  |  Pretoria  |  Motor  |  Wenner  |  Beeld Kinderfonds
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.