Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Dis in ons gene’, skerts Mej. SA se trotse pa
Lungisa Tunzi, die nuwe Mej. SA se pa, spog sy kry haar lengte en bou van hom. Foto: Facebook

Zozibini Tunzi (25) kry haar voorkoms van albei haar ouers, maar haar lenige, lang bou kom van hom af.

So het Lungisa Tunzi, die nuwe Mej. SA se trotse pa, Sondag geskerts. “Mens sou nie so iets verwag van ’n kind uit die Oos-Kaapse boendoes nie, maar God verrig wondere. Ons slaap nou al vir byna twee nagte glad nie, ons is oorweldig deur oproepe en gelukwensings,” het Tunzi telefonies vanuit sy tuisstad, Pretoria, vertel.

Hy het vroegmiddag nog gewag vir die familie om op te daag by die gesin se huis in die ooste van die stad sodat hulle Zozi, soos sy alom bekend is, se titel kan vier. “Sy sal self nie hier kan wees nie omdat sy nou baie besig is so kort ná haar verkiesing.”

Tunzi sê die familie kom nog tot verhaal. “Dis steeds moeilik om te glo dat onse Loza Mej. SA is, ons is nog geskok en verras.”

Zozi se pa sê haar naaste familie en vriende gebruik van kleins af haar bynaam Loza. “Haar doopnaam Zozibini beteken in ons huistaal Xhosa om iemand met albei hande te verwelkom.”

Zozibini Tunzi met haar kroning Vrydagaand in Pretoria. Foto: Deaan Vivier

Die Tunzi-familie is oorspronklik van Tsolo in die Oos-Kaap. Zozi se ma, Philiswa, is ’n skoolhoof in die Bolotwa-nedersetting in die Oos-Kaap, terwyl pa Lungisa deesdae as ’n bestuurder by die Gautengse onderwysdepartement in Pretoria werk.

Tunzi sê sy tweede oudste dogter was as jong kind skamerig, maar sy het altyd graag skoonheidskompetisies op televisie gekyk. “Sy het in die kleuterskool meer selfvertroue begin kry en het reeds op hoërskool ’n plaaslike skoonheidskompetisie gewen.”

Tunzi sê sy Loza het, toe sy jonger was, altyd gehuil wanneer sy nie gewen het nie. “Ek het haar bly aanmoedig, maar haar ook geleer sy sal wen indien dit God se wil is. Ons is ’n baie gelowige Christen-familie en behoort aan die Metodiste kerk.”

’n Stralende Zozibini Tunzi Vrydagaand. Foto: Deaan Vivier

Loza se gehoorsaamheid, intelligensie en betroubaarheid is van haar uitstaande kenmerke, sê haar pa.

“Sy het in 2017 ook vir die Mej. SA-kompetisie ingeskryf, maar kon net tot die semi-finale uitdunne vorder. Ek het vir haar gesê sy moenie in 2018 weer inskryf nie, maar haar diploma in skakelkunde (aan die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie) eers voltooi.

“Nadat sy haar diploma voltooi het, het sy gevra of sy nog in 2019 vir Mej. SA kan inskryf. Ek het gesê dis reg, solank sy ook vir haar B-Tech-graad inskryf. Sy het albei gedoen. Dis hoe sy is. Sy is ongelooflik.”

Tunzi sê hulle is dankbaar vir al die ondersteuning wat hul dogter van die gemeenskap en familielede soos sy oom, Khamekile Gxididi, gekry het. “My oom het my groot gemaak nadat albei my ouers oorlede is.”

Die trotse pa is seker hul “Loza” sal ’n groot sukses van haar Mej. SA-titel maak. “Sy wou nog altyd ’n openbare figuur wees en is baie toegewyd.”

Meer oor:  Zozibini Tunzi  |  Skoonheidskompetisie  |  Gene  |  Mej. Sa  |  Pa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.