Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Dis leeg in hul huis sonder Rimon

Rimon Botha (4) van Centurion het baklei teen die kanker wat haar hele lyfie vergiftig het, maar is Donderdag “hemel toe”.

“Sy het baklei, haar gees was sterk . . . maar haar liggaam wou net nie meer nie, kon nie meer nie,” het ’n emosionele Theann Botha, Rimon se pa, Vrydag aan Netwerk24 gesê.

Rimon het hard probeer om gesond genoeg te word sodat sy ’n lewensnoodsaaklike beenmurgoorplanting kon kry.

Theann en sy vrou, Monique, sit styf langs mekaar, terwyl hulle oor hul enigste dogter se moedige stryd teen Burkitt se limfoomleukemie – ’n seldsame soort bloedkanker – vertel.

Agter hulle hang ’n groot portret van Rimon, van voor sy siek was, in die voorportaal langs die Kersboom.

Dieselfde boom waar hul klein, hegte gesinnetjie onlangs ’n gelukkige Kersfees gevier het.

Rimon (4), saam met haar ouers, Monique en Theann Botha. Foto: Verskaf

“Ek en Theann het nou-nou vir mekaar gesê om vir Rimon Kersfees by die huis te kon hê was ons grootste geskenk van die Here af,” sê Monique.

Rimon was gelukkig en het gelag en gespeel soos haar ou self, sê Theann en Monique.

Hul kind het die unieke persoonlikheid gehad, sy wou “onderwyseres word, nes haar pappa”.

Rimon is in April verlede jaar gediagnoseer nadat sy van moegheid en maagseer begin kla het.

“Ons was verpletter deur die nuus, ons het nie geweet hoe om dit te hanteer nie. Rimon kon dit ook nie verstaan nie. Ons het vir haar gesê sy het goggatjies in haar bloed en daarom moet sy so baie in die hospitaal wees,” sê Monique.

Ná maande van intensiewe chemoterapie is Rimon se kanker oorwin. Daarna het sy net een keer ’n maand ’n ligte chemo-inspuiting nodig gehad om finaal in remissie te kom.

’n Maand later het haar kanker egter teruggekeer en moes Rimon weer met chemoterapie begin. ’n Beenmurgoorplanting was die enigste opsie.

Maar ons wil haar eerder onthou soos wat sy was...

“Dit was verpletterende nuus. My hart het tot in my skoene gesak. ’n Mens hoop, bid en vertrou vir volkome genesing,” sê Monique.

Rimon was Desember en Januarie byna permanent in die hospitaal. Haar bloedtelling was laag en haar immuunstelsel swak.

Intussen het haar verbete stryd talle mense se harte aangegryp en is begin met geldinsamelings sodat sy die beenmurgoorplanting kan kry as sy gesond genoeg is.

Hul mediese fonds het geweier om vir die oorplanting te betaal.

Die egpaar het nog Woensdag op JacarandaFM se Good Morning Angels-program Rimon se storie gedeel.

Rimon was toe al in die hoësorgeenheid. Haar bloeddruk was baie laag, wat haar ingewande aangetas het, sê Theann.

“Weens die lae bloeddruk wou haar niertjies nie lekker werk nie en het talle toksiene in haar lyfie opgebou wat onder meer haar dermwand laat opswel en nog infeksies veroorsaak het,” sê Theann.

Hy en Monique was tot op die laaste by Rimon.

“Maar ons wil haar eerder onthou soos wat sy was,” sê Monique, terwyl trane in haar oë opwel.

Sy was borrelend gelukkig, lief vir ballet, almal se witbroodjie en het nie daarvan gehou as mense om haar huil nie.

“Kyk maar in ons huis, alles het om haar gedraai ... dit is abnormaal om nou sonder haar te wees,” sê die ouerpaar.

Juis daarom is hulle so dankbaar vir die tyd wat hulle saam kon deurbring. En al was Rimon net ’n kort rukkie aan hulle geleen, glo albei ouers Rimon het haar goddelike doel op aarde uitgelewe.

“Sy het soveel mense se lewens aangeraak,” sê Monique.

’n Gedenkdiens sal Dinsdag, 28 Januarie om 10:00 by die Sorex Estate-kapel in Centurion vir Rimon gehou word.

Meer oor:  Rimon Botha (4)  |  Centurion  |  Beenmurgoorplanting  |  Oorlede  |  Baklei  |  Kanker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.