Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Dis my kleinseun, hy is dood – oupa ná fietsongeluk
Wikus Pienaar en Tiffany de Kock van Bloemfontein. Pienaar is Saterdagoggend op slag dood toe ’n vragmotor hulle op hul fietse getref het.

’n Klag van strafbare manslag is by die polisie ingedien nadat ’n fietsryer van Bloemfontein dood en sy vriendin kritiek beseer is toe ’n vragmotor hulle Saterdagoggend van voor getref het.

“Dis my kleinseun, hy is dood. Die ambulans het hom nou weggevat.”

’n Vrou wat by die ongelukstoneel stilgehou het, het dié woorde gehoor en sy het haar arms om die “verwese” man gevou.

Dit is oomblikke nadat Wikus Pienaar (26) op die toneel dood verklaar is waar hy en Tiffany de Kock, sy vriendin en ma van hul twee maande oue seuntjie, Aiden, fietsgery het op die N8 en deur ’n vragmotor getref is.

Dis my kleinseun, hy is dood. Die ambulans het hom nou weggevat.

De Kock is in ’n kritieke toestand in die Mediclinic Bloemfontein.

Pienaar was ’n paneelklopper by OFS Smart Repair en De Kock is verbonde aan die Vrystaatse gesondheidsdepartement.

“Ons span is baie hartseer oor Wikus se afsterwe,” sê Jeani Meyer van OFS Smart Repair.

“Hy was ’n gewaardeerde lid van ons tegnikusspan. Hy was ’n jong man met hope potensiaal, in die fleur van sy lewe en sy loopbaan as tegnikus. Sy afsterwe is ’n groot verlies vir sy familie en ook vir ons OFS Smart Repair-span,” sê Meyer.

Wikus Pienaar Foto: Verskaf

Kol. Thandi Mbambo, polisiewoordvoerder, sê drie fietsryers het weswaarts gery en ’n wit Volvo het in die oostelike rigting na Bloemfontein gery naby iTau Milling & Feeds.

“Daar word beweer dat die fietsryers op die skouer van die baan verby die geel lyn en in teen die aankomende verkeer in gery het.

“Twee van hulle is deur die vragmotor getref en die 26-jarige man van Roselaan in Wilgehof is ernstig beseer.”

Volgens Mbambo het die vragmotorbestuurder geen beserings opgedoen nie, maar wel aan skok gely.

Tiffany de Kock en hul babaseun, Aiden. Foto: Verskaf
Die vragmotor wat die paartjie getref het. Foto: Verskaf
’n Stuk van Pienaar se fiets op die ongelukstoneel. Foto: Verskaf

’n Ooggetuie, wat anoniem wil bly, sê Saterdag omstreeks 07:30 het hulle ’n slag gehoor. Sy het gaan kyk. Daar het toe reeds ’n motor gestaan met ’n vrou wat die ambulans gebel het.

“Die vrou het gevra of ek komberse het, want twee mense is beseer.”

Die vragmotor, die eiendom van die vervoermaatskappy Honey Lotus, het ’n duik waar Pienaar se kop dit getref het.

Sumarie Schoeman, ook ’n fietsryer, sê ander padgebruikers is nie bedagsaam teenoor fietsryers nie.

“Ek sou daardie pad vanoggend ry, maar iets het voorgeval. Toe ek hoor van die ongeluk, het ek yskoud geword.”

Meer oor:  Tiffany De Kock  |  Wikus Pienaar  |  Bloemfontein  |  Ongeluk  |  Vragmotor  |  Fietsryers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.