Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Dis nie ’n ‘politieke rally’, sê Buchan
Gelowiges van Bloemfontein bid verlede maand op die plaas Wilde Als waar Saterdag se groot gebedsgeleentheid plaasvind. Volgens past. Cornelis van Heyningen was die gebed om God te vra om Angus Buchan (onder op foto) te gebruik met die gebedsbyeenkoms. Van links is Michelle, Joe Schoeman, André Venter en Van Heyningen. Foto: Facebook

Hoewel politici en Suid-Afrikaanse leiers vir baie van die land se probleme geblameer word, gaan die evangelis Angus Buchan niemand se naam Saterdag op die It’s Time-gebedsbyeenkoms by Bloemfontein noem nie.

En vir niemand gaan individueel gebid word nie.

Buchan het Vrydagoggend, nadat hy ’n week lank in afsondering gegaan het, gesê mense wat saam kom bid, moet weet dis nie ’n “politieke rally” nie, al is ’n uitnodiging na politieke leiers gestuur.

“Dit is ’n Jesus-geleentheid en ek gaan nie name van politici noem nie, want ek het eenvoudig nie die tyd om oor mere mortals te praat nie.

“Ek het ’n punt daarvan gemaak om ’n uitnodiging na elke leier van elke politieke party te stuur. Of hulle gaan kom, is hul keuse.

“Ek wil beklemtoon dit is ’n samekoms georganiseer deur mense vir die mense deur gewone mense. Dis die massas wat die land se toekoms sal bepaal, nie ’n individu nie. Die verantwoordelikheid is nie op die regering van Suid-Afrika nie, ook nie op die ongelowige nie, die toekoms van die land lê by die Christen,” sê hy.

Volgens Buchan het hy in sy tyd van afsondering ’n duidelike boodskap van God gekry oor Saterdag se biddag wat om 12:00 op die plaas Wilde Als plaasvind.

“God het gesê sy mense, die gelowiges, moet saamkom en eerstens op individuele basis tot inkeer kom. God het vir my gewys dit is moontlik een van die laaste geleenthede wat ons sal hê om die nasie in lyn met sy Woord te bring en na normaliteit terug te keer, want op die oomblik is daar hoegenaamd geen wet en orde in hierdie land nie. God het belowe sy mense, die gelowiges, sal hulle verootmoedig in gebed in sy teenwoordigheid. God het my belowe as ons dít doen, sal Hy die land genees.”

Wat hom persoonlik betref, het Buchan (69) gesê hy voel “fantasties”.

“Dit is die grootste geleentheid waarby ek nog betrokke was. Niks kom naby aan die kaliber en grootte hiervan nie. Ek was nog nooit so opgewonde nie en nog nie in so ’n verantwoordelike posisie nie. Ek is so geseënd om as onwaardige werktuig die woordvoerder vir God te wees.

“Die grootste wonderwerk is dat God hiervoor betaal. Hy het dit oor die wêreld heen geadverteer.

“God praat met my deur die natuur, hy het vir my gewys genesing sal Saterdag plaasvind. Ons almal sal van die plaas weggaan as nuwe mense, die gees van vrees sal uitgedryf word.”

Meer oor:  Angus Buchan  |  Politici  |  Godsdiens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.