Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Swart Maandag ‘n jaar later weer gehou

“As dit ’n enjin het en kan ry, kom sluit by ons aan, as jy siek en sat is vir geweld, haatspraak en intimidasie, neem deel aan ons optogte wat in 300 dorpe in die land beplan word.”

Swart perde het verlede jaar die prosessie gelei in die Swart Maandag-protesoptog teen plaasmoorde wat begin het buite die Kanonkop-wynlandgoed op die R44 by Stellenbosch. Foto: Adrian de Kock

Dit is die beroep van Valerie Byliefeldt, voorsitter van die nasionale Swart Maandag-beweging, aan alle Suid-Afrikaners, ongeag hul ras of politieke verbintenis, om te verenig teen moorde op plaasgemeenskappe.

Die optogte, wat Maandag, 29 Oktober, in al nege provinsies sal plaasvind, is daarop gemik om bewustheid oor plaasmoorde in Suid-Afrika te verhoog.

Die beweging het die land in 2017 ietwat onkant gevang, aangesien die beplanning in die geheim gedoen is en mense eers daarvan bewus was toe dit erge verkeersopeenhopings in die Kaap veroorsaak het.

Vanjaar is dit egter ’n ander storie, aangesien die beweging massaoptogte in al nege provinsies beplan, met die hoofbyeenkoms wat in Pretoria gaan plaasvind.

“Ons ruk weer op met ’n konvooi wat trekkers, bakkies, motorfietse, motors en vragmotors sal insluit, en dié keer gaan daar selfs helikopters op hoofpaaie land,” het Byliefeldt belowe.

Sy sê dit sal ook die eerste keer in die land se geskiedenis wees dat landsburgers in hul massas gelyktydig gaan opruk en klagte by die polisie gaan indien teen diegene wat skuldig is aan aanhitsing en haatspraak.

“Ons gaan die land tot stilstand ruk sodat ons die stem kan wees van ons duisende geliefdes wat sinneloos gesterf het in gewelddadige misdade en nie meer vir hulself kan praat nie,” het Byliefeldt gesê.

Sy sê dit is nie ’n verregse inisiatief nie en is eintlik ’n kwessie van ’n volksidentiteit wat aan die inwoners van die land behoort.

“Enige persoon wat gekant is teen plaasmoorde, wit of swart, kan deelneem; diegene wat gekant is teen haatspraak en intimidasie, asook rassisme deur pionne van die ANC en EFF kan ook deelneem.

Ons betreur alle moorde in ons land. Ons is nie ’n politieke party of organisasie nie en ons verwelkom enigiemand wat aan die optog wil deelneem.

“Almal wat dié beweging steun as ’n volksidentiteit kan inskakel by hul dorpsgroepe en deelneem aan die massaoptogte landswyd om hul misnoeë uit te spreek oor die regering wat nie moord en misdaad, haatspraak en grondonteiening ’n volksprioriteit wil maak of aanspreek nie.”

In Kaapstad sal ’n konvooi motorfietse, motors, vragmotors en trekkers weer die strate invaar om die aandag op Suid-Afrika se hoë moordsyfer te vestig.

Die konvooi het verlede jaar sy ontstaan gehad ná die moord op Joubert Conradie van die plaas Uitkyk by Klapmuts in die Kaap. Ondanks die Kaapse oorsprong sal derduisende mense vanjaar op die laaste Maandag in Oktober soortgelyke optogte hou.

Johan Vorster, een van die Kaapse organiseerders, sê hoewel die fokus op plaasmoorde val, gaan die optog nie uitsluitlik daaroor nie.

“Ons betreur alle moorde in ons land. Ons is nie ’n politieke party of organisasie nie en ons verwelkom enigiemand wat aan die optog wil deelneem.”

Hy het die apolitiese aard van die optog benadruk en deelnemers gevra om nie ou landsvlae of iets dergeliks daarheen te bring nie, maar eerder baie blomme.

Volgens hom vergader die konvooi Maandag van 08:00 af op die veld by De Clapmuts, oorkant die Kanonkop-wynplaas. Van daar af vertrek hulle dan om 09:00 na die Kaapstad-stadion. Die groep sal dan ’n gebedsbyeenkoms hou en ’n kruis met blomme op die grasperk van die stadion uitpak.

In Pretoria begin verrigtinge douvoordag en sal die konvooi omstreeks 08:00 vanaf Loftus Versfeld-stadion na die Amerikaanse en daarna die Australiese ambassades gaan, waarna die groep na die Uniegebou sal beweeg.

Byliefeldt sê dat die groep briewe by dié ambassades sal oorhandig, insluitend aan die Trump-administrasie in die hoop dat hy aksie sal neem ná sy grondonteienings-twiet.

Valerie Byliefeldt, voorsitter van die nasionale Swart Maandag-beweging. Foto: Verskaf

“Ons sal Trump vra om in te gryp in die kwessie oor die voortslepende moorde op ons plaasgemeenskappe wat boere en hul werkers insluit,” het sy gesê.

Byliefeldt sê hulle fokus ook op haatspraak deur diegene in die ANC en EFF, insluitend Julius Malema, wat rassistiese retoriek aanhits.

“Daar gaan ’n hele klomp klagte by die polisie aanhangig gemaak word, alhoewel die tipe klagte, of teen wie dit ingedien gaan word, nie voor die tyd bekend gemaak gaan word nie,” sê Byliefeldt.

Volgens haar sal dié aanklagte en name eers voor middernag bekend gemaak word.

In ander dele van die land, insluitend Bloemfontein, Durban, Kimberley en omliggende gebiede, gaan mense ook die strate invaar om hul stemme dik te maak.

Landwyd in kleiner dorpies sal die konvooie en betogers na hul onderskeie polisiekantore gaan om klagte teen die groot kokkedore agter die gewelddadige misdaad in die land aanhangig te maak.

Byliefeldt sê al hul optogte is wettig, alhoewel die een in Rustenburg gestop is weens intimidasie, vermoedelik deur die owerhede.

“Niemand kan egter ons mense keer om teen 15 km per uur op die paaie te ry en klagte by die polisiestasie in te dien nie.”

Byliefeldt sê hulle verwag dat mense in Nieu-Seeland, Amerika en Australië aan soortgelyke optogte sal deelneem ter ondersteuning van die boeregemeenskap in Suid Afrika.

Grafika24s
Meer oor:  Swart Maandag  |  Valerie Byliefeldt  |  Betoging  |  Geweld  |  Plaasmoorde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.