Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Distrik Ses se oudste grondeiser vier 100ste verjaardag

Haar laaste wens is om in Distrik Ses dood te gaan, sê Shariefa Khan, dié historiese gebied se oudste grondeiser wat Sondag haar 100ste verjaardag gevier het.

Die vieringe het reeds Saterdag in Rylands begin. Sondag is verder gekuier en ook ’n fotosessie gehou.

Shariefa KhanFoto: Verskaf

“My ma se verstand is nog helder en sy onthou baie goed,” sê Nadiema Khan, Shariefa se een dogter, by navraag. Sy sê haar ma het tot verlede jaar toe nog self geloop.

Die organisasie District Six Working Committee (D6WC) sê Khan is in 1921 in Vryburg, Noordwes, gebore. Haar familie het in 1928 na Kaapstad verhuis en later in Muizenberg en Kensington gewoon, waar haar pa die eerste halaal-slaghuis oopgemaak het.

Shariefa en haar man, Dawood Khan, ’n Indiese man van Distrik Ses, het ses kinders gehad van wie drie nog leef.

Shariefa, ook bekend as Mama of Aunty Riefa, het goeie herinneringe van die tyd toe sy in die Bailey Flats in Hanoverstraat naby die Avalon-bioskoop gewoon het.

Die egpaar het die bekende Bombay Café (ook bekend as Dout’s Café) by Hanoverstraat 238 besit, langs ’n dokter se spreekkamer, luidens ’n verklaring.

Dawood, ’n sjef wat as Dout bekend was, het smullekker lamskerrie, roti’s en dhaljie (brandrissie-bolletjies) gemaak en Shariefa samoesas en faloeda, ’n Indiese drankie.

Op 99 het sy steeds meer as 1 000 samoesas in ’n week gevou.

Shariefa KhanFoto: Verskaf

Bekendes soos Taliep Petersen en sy pa, Mogamat Ladien Petersen, die balletlegende Johaar Mosaval, oorlede regter Essa Moosa, die voormalige Wes-Kaapse premier Ebrahim Rasool en Shahied Ajam, voorheen die voorsitter van die D6WC, het graag die kafee besoek.

Op 11 Februarie 1966 het die apartheidsregering Distrik Ses tot ’n sogenaamde wit gebied verklaar. Die familie het ’n brief ontvang dat hulle moet trek, en hulle het na Rylands verhuis.

Vanaf 1968 is 74 000 mense deur gedwonge verskuiwing geforseer om na die Kaapse Vlakte te trek. Volgens Khan wou hulle nie trek nie, maar het geen keuse gehad nie. Slegs die moskees, kerke en skole het staande gebly nadat die res van die woonbuurt verwoes is.

Sy sê sy onthou steeds die dag toe haar man ’n kennisgewing in die winkelvenster moes opsit om te sê dat hulle toemaak.

“Niemand sal ooit verstaan hoe pynlik dit is om op ’n stukkie grond te staan waar jou huis eens was nie. Ek wil doodgaan in Distrik Ses – dis my laaste wens.”

Shariefa wag tans om te hoor of sy op die kortlys is vir ’n wooneenheid in Hanoverstraat as deel van fase 3 van ’n restitusieproses. Sy woon tans by een van haar dogters, Sumaya Mukadam. Sy het 17 kleinkinders en 35 agterkleinkinders.

Meer oor:  Distrik Ses
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.