Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Dit gaan beter met tieners ná ongeluk in Vrystaat

“Mamma en Pappa is dood.”

Dít was die sesjarige Chanté de Vos se eerste woorde aan haar ouboet, Jonathan (15), toe sy hom ná die motorongeluk in die Netcare Unie-hospitaal in Alberton besoek het.

Catherine Myburgh (15) en Jonathan de Vos (15) saam in die Netcare Unie-hospitaal in Alberton.

Dit is nou net meer as ’n week gelede dat dié kinders van Henley-On-Klip naby Meyerton in Gauteng se lewe onherroeplik verander het.

Hul ouers, Francois (36) en Sylvia (38), het op Saterdag 7 September op die R57 tussen Sasolburg en Heilbron in die Vrystaat verongeluk. Hulle is op die toneel dood verklaar nadat Francois vermoedelik beheer oor hul Ford Ranger-bakkie verloor en teen ’n boom vasgery het.

Twee wit kruise is Saterdag vir die egpaar geplant waar die ongeluk gebeur het.

Jonathan en sy vriendin, Catherine Myburgh (15), was ook in die ongeluk en het ernstige beserings opgedoen. Chanté was nie in die voertuig nie.

Fisiek gaan dit baie beter met die twee tieners. Albei is gr. 9-leerlinge aan die Hoërskool Marais Viljoen in Alberton.

“Die liggaam is besig om gesond te word, maar die hartseer is nog daar,” sê Clive Coetzer, die De Vos-kinders se oom en peetpa, oor Jonathan se toestand.

Die kinders sal voortaan by Coetzer en sy vrou, Yolanda de Vos, ook van Henley-On-Klip, woon. Hulle het ook drie kinders van hul eie.

Coetzer sê Jonathan kry rehabilitasie vir sy been en heup en is steeds in die hospitaal. Hy beweeg meestal in ’n rolstoel om nie te veel drukking daarop te plaas en verdere skade aan die senuwees aan te rig nie. Hy loop ook soms met krukke vir oefening.

Jonathan de Vos en Catherine Myburgh. Foto: Verskaf

Die volgende paar dae gaan bepalend vir Jonathan wees om te sien of hy sy ouers se roudiens Vrydag sal kan bywoon. Dit is om 12:00 vanuit die Volle Evangelie-kerk Randhart in Alberton.

“Ons probeer baie hard dat hy kan gaan,” sê Coetzer.

Catherine is Woensdag van die Universitas-hospitaal in Bloemfontein na die Netcare Unie-hospitaal in Alberton oorgeplaas. Sy was deurgaans onder verdowing en is eers Donderdag daarvan afgehaal.

Sylvia en Francois de Vos.

Jolene Myburgh van Alberton, haar ma, sê dit gaan goed met Catherine.

“Sy word beter. As alles goed verloop, sal sy môre ontslaan word.”

Sy begin alles nou eers verwerk, omdat sy die heeltyd onder verdowing was, sê Myburgh.

Catherine moes onder meer operasies aan haar voorkop, linkeroog en arm ondergaan.

Sy kon ook eers later die video sien wat die musikant Francois van Coke verlede Maandag aan hulle gestuur het. Van Coke het in die video sy medelye aan Jonathan betuig en die tieners ’n spoedige herstel toegewens.

Myburgh sê Catherine het in reaksie op die video gesê sy is nou bekend.

Die hereniging tussen Jonathan en Catherine was vir hulle ’n groot oomblik.

“Ek het nog nooit my dogter se gesig so sien ophelder nie. Dit het gelyk asof haar oë glimlag,” sê Myburgh oor die oomblik toe die tieners mekaar ná die ongeluk in die hospitaal sien.

’n Fotobeeld van die egpaar Francois en Sylvia de Vos.
Twee wit kruise is Saterdag vir die egpaar geplant waar die ongeluk gebeur het.
Francois (36) en Sylvia (38) de Vos, het op Saterdag 7 September op die R57 tussen Sasolburg en Heilbron in die Vrystaat verongeluk.

Meer oor:  Chanté De Vos  |  Jonathan  |  Alberton  |  Vrystaat  |  Ongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.