Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Dit gons oor skudding aan Oos-Rand

“Dit het geklink asof ’n vliegtuig op ons dak land!”

Só beskryf Yosheen Moodley die oomblik toe die aarde Vrydag skuins ná 06:30 skielik geskud het.

Moodley (40) se woonstel is op die boonste verdieping van ’n drieverdiepinggebou in Eveleigh in Boksburg aan die Oos-Rand.

Hulle hoor dikwels vliegtuie wat oor die gebou vlieg of kolganse wat op die dak raas, maar hierdie geluid was “uiters hard”.

“Ons het die skudding ook gevoel – dit het ’n paar sekondes geduur. Ek dink dit het baie, baie hard geklink omdat ons op die boonste verdieping is,” sê Moodley.

“Dit was nogal skrikwekkend en ’n skok.”

Geen strukturele skade is aan die gebou aangerig nie.

Mahlatse Mononela, woordvoerder van die Raad vir Geowetenskappe, het bevestig dat daar omstreeks 06:35 ’n ligte aardbewing in Boksburg was.

Voorlopige data dui daarop dat die aardbewing 3.5 gemeet het en dat die episentrum van die skudding in Dawn Park in Boksburg was, sê Mononela.

Daar is egter teenstrydige inligting oor die omvang en presiese episentrum van die aardbewing.

Earthquake Monitor, wat aardbewings meet, sê dit het 3.6 gemeet en was 4,2 km suidwes van Boksburg.

Volgens dié inligting het die aardbewing op ’n diepte van 10 km voorgekom.

Volgens die Amerikaanse agentskap vir geologiese opnames was die aardbewing op ’n diepte van 5 km en het dit 4.2 gemeet. Hierdie agentskap het die episentrum op 13 km suidoos van Alberton geplaas.

’n Pamflet van die Raad vir Geowetenskappe oor die uitwerking van aardbewings van verskillende sterktes verduidelik dat ’n aardbewing wat tussen 3 en 4 meet, die ligte in die plafon heen en weer kan laat swaai.

In ’n aardbewing van tussen 4 en 5 bestaan die moontlikheid dat die mure kan kraak.

Mense wou Vrydagoggend kort ná die trilling weet of ander dit ook gevoel het.

“Die aardbewing in Johannesburg het my wakker gemaak en ek moes op Twitter gaan seker maak dat dit nie my verbeelding was nie,” het een geskryf.

Die aardbewing in Johannesburg het my wakker gemaak en ek moes op Twitter gaan seker maak dat dit nie my verbeelding was nie.

Mense in Boksburg, Germiston, Alberton, Benoni en Rhodesfield het inligting oor die aardbewing op Earthquake Monitor gedeel.

Twee mense in Benoni sê hulle het die aarde gevoel skud, en een sê die skudding het sowat 15 sekondes geduur. Iemand in die suide van Johannesburg het gesê hul hele huis het geskud, wat baie kommerwekkend was.

Iemand in Boksburg het die trilling op Earthquake Monitor as “intens” beskryf.

“Dit het sowat drie sekondes geduur. Al die vensters het geruk en dit het ook gevoel asof die fondamente skud.”

Meer oor:  Oos-Rand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.