Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Dit moes eerder hy gewees het, sê Yolandi Botes se man

“Dit moes eerder ek gewees het.”

So sê Wietzue Botes, wie se vrou, Yolandi (35), se liggaamsdele verlede week in die Vaalrivier gekry is.

Botes is die laaste keer lewend gesien toe sy op 26 April vanaf George na die O.R. Tambo-lughawe in Kempton Park gevlieg het. Sy sou glo in Brakpan gaan kuier het by haar drie kinders (onderskeidelik 17, 15 en 9 jaar oud) uit ’n vorige verhouding, maar het nooit opgedaag nie.

Sy is glo in ’n huurmotor by die lughawe weg.

Yolandi Botes en haar man, Wietzue. Foto: Facebook/Wietzue Botes

Haar familie se week lange soektog het tragies geëindig toe daar op 4 Mei in die Vaalrivier naby Villiers in die Vrystaat op liggaamsdele afgekom is. ’n Tatoeëermerk op een van Botes se arms met die naam van haar man, Wietzue, het gehelp om haar te identifiseer.

Haar man het Dinsdag op Facebook geskryf dat hy sy vrou “ongelooflik baie mis. Ek weet nie hoe ek dit hierdeur gaan maak nie. Dit moes eerder ek gewees het.”

Op dieselfde dag het hy ook geskryf, “ek wil saam met jou wees, hier het ek niks meer sonder jou nie”.

Yolandi Botes (35) en haar man, Wietzue. Foto: Facebook/Wietzue Botes

Nog ’n skrywe op sy Facebookblad lui: “My baby, ek is verpletterd, stukkend. Ek sukkel so om my kop te lig, maar ek gaan, jy sou wou hê ek moes. Ek sal nie rus totdat hulle wat jou uit ons lewe geruk het, betaal nie.”

Hy het Donderdag nie op herhaalde navrae van Netwerk24 gereageer nie, al het hy Woensdag onderneem om oor sy vrou se dood te praat.

Intussen is Botes se familie vasberade om haar moordenaar(s) aan die pen te laat ry.

Hulle het die hulp ingeroep van Mike Bolhuis, ’n private ondersoeker van Pretoria.

Bolhuis kon Donderdag geen lig werp op die raaisel wat Botes se verdwyning en moord omhul nie.

Hy het vroeër gesê die laaste ligging van haar selfoon was in Edenvale aan die Oos-Rand.

Yolandi Botes (35) was ’n week lank vermis voordat haar liggaamsdele in die Vaalrivier gekry is.

Ria van Deventer, Botes se ma, het Donderdag gesê hulle het geen nuwe inligting oor wat met haar dogter gebeur het nie.

“Ek het die oggend wat sy verdwyn het, die laaste keer van haar gehoor in ’n WhatsApp-boodskap. Sy het my laat weet toe sy in Johannesburg aangekom het.”

Van Deventer het gesê haar dogter sal volgende Saterdag in Brakpan begrawe word.

“Ons moet nog die finale reëlings bevestig.”

Mariska Oosthuizen, Botes se suster, het gesê die familie se “lewe is leeg” sonder haar.

“Sy was ons sonskyn, ons clown, sy het ons altyd laat lag en vir die hele wêreld gesorg. Haar hart was soos ’n taxi. Ons lewe is leeg sonder haar.”

Ria van Deventer by haar dogter Yolandi Botes (35), wat verlede week vermoor is. Foto: Facebook/Ria van Deventer

Die veldtog Justice for Yolandi Botes beplan om eerskomende Saterdag om 11:00 by die Van Deventers se huis in Brakpan saam te kom om blomme ter nagedagtenis aan haar neer te lê.

Mense word ook op die Facebookblad “Justice for Yolandi Botes” gevra om Saterdag pienk aan te trek.

Kapt. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder in Gauteng, kon Donderdag nie sê of daar nuwe verwikkelinge in die polisie se ondersoek na Botes se moord is nie.

Hy sê daar kan nog nie gesê word of die bloed wat verlede Maandag in ’n gastehuis in Kempton Park gekry is, dié van Botes is nie.

Meer oor:  Yolandi Botes  |  Vermoor  |  Lughawe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.