Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Dit moet nou stop,’ sê LUR van sterftes by skole
Keamohetswe Shaun Seboko (13), ’n gr. 7-leerling aan die Laerskool Bekker in Magaliesburg, se lewelose liggaam is Woensdagmiddag in die skoolkoshuis se swembad gevind. Foto: Verskaf

Ons skole verander in lykshuise. Dit moet ons stop.

Só het Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, Sondagoggend gesê nadat nog ’n leerling verdrink het.

Lesufi het die familie van Keamohetswe Shaun Seboko (13) in Eldorado Park, Johannesburg, besoek.

Keamohetswe, ’n gr. 7-leerling aan die Laerskool Bekker in Magaliesburg, se lewelose liggaam is Woensdagmiddag in die skoolkoshuis se swembad gevind. Hy het na bewering verdrink. Dié voorval volg kort nadat Enock Mpianzi, ’n gr. 8-leerling van Parktown Boys’ High School in Johannesburg, ook verlede week tydens ’n oriënteringskamp in ’n rivier verdrink het.

Lesufi sê sy departement het eers Vrydagmiddag die nuus van Keamohetswe gehoor.

“Ons is emosioneel verpletterd. Ek spandeer meer tyd om ouers te troos as om onderwysers aan te moedig om te onderrig en leerlinge om te leer. Ek kan nie doodsertifikate uitreik nie, ek moet rapporte uitreik,” sê Lesufi.

Lesufi sê ’n onafhanklike ondersoek oor die voorval sal gedoen word.

Lesufi sê gerugte van boeliegedrag word ook ondersoek.

Ek kan nie doodsertifikate uitreik nie, ek moet rapporte uitreik.
Panyaza Lesufi

“Ons het die familie verseker van ons ondersteuning. Ons is ook dankbaar dat die leierskap van die skool die ouers kom besoek het om hul vrae te beantwoord.”

Kgothatso Stayi, Keamohetswe se tante, sê die familie is verpletterd. “Keamohetswe was nog so jonk en het uitgesien na sy lewe. Ons kan nog nie die nuus verwerk nie. Ons kan nie ons kinders in die oggend skool toe stuur nie en dan later hoor die kind is dood nie.”

Stayi sê die familie het baie vrae oor wat presies gebeur het.

“Daar is so baie vrae wat onbeantwoord is. Die skool het gesê hy sal terugkom na ons toe met antwoorde. Dit is nie maklik nie. Daar is ook nog twee familielede wat leerlinge by die skool is. Hulle wil nie teruggaan nie skool toe nie.”

Lesufi het gesê sy departement sal die leerlinge na ’n alternatiewe skool oorplaas.

Willie Dry, voorsitter van die beheerliggaam van die Laerskool Bekker, sê bewerings van boeliegedrag kan nog nie bevestig word nie.

“Ons duld geen boeliegedrag by ons skool nie. Ons doen als in ons vermoë om die polisie die nodige hulp te gee sodat die vrae wat die familie het, beantwoord kan word.

Ons wag ook op die verslag,” het Dry gesê.

“Ons simpatiseer met die familie. Dit is tragies om ’n kind in ons skool te verloor. Ons is hartseer.”

Lesufi sê koppe gaan rol indien daar nalatigheid van personeel was en as daar leerlinge is wat betrokke was, sal daar teen hulle opgetree word.

“Ons kan nie aangaan soos normaal as ons ’n lewe verloor nie.”

Meer oor:  Keamohetswe Shaun Seboko  |  Panyaza Lesufi  |  Skole  |  Lykshuise  |  Leerders  |  Skoolsterftes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.