Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Dodetal van plaaswerkers in gru-ongeluk styg

Nege plaaswerkers van Touwsriver is Dinsdag dood en baie ander beseer in ’n gru-ongeluk tussen twee vragmotors op die N1 naby De Doorns.

Paramedici op die ongelukstoneel op die N1-snelweg, waarin nege plaaswerkers dood is. Foto: Verskaf

Die sterftes het skokgolwe deur die Wes-Kaapse landbougemeenskap gestuur met minstens 12 ander plaaswerkers wat met ernstige beserings in hospitale in Worcester en Kaapstad opgeneem is.

Die werkers was almal op pad na ’n plaas in De Doorns waar hulle ’n noodsaaklike diens tydens die Covid-19-inperkingstydperk gelewer het.

Ivan Meyer, die Wes-Kaapse LUR vir landbou, sê die aanvanklike dodetal was ses, maar drie plaaswerkers het in die hospitaal aan hul beserings beswyk.

“Ek het personeel van die Wes-Kaapse departement van landbou na die toneel gestuur waar hulle onmiddellik berading vir die families van die oorledenes en beseerdes gereël het. Hulle sal ook bepaal in watter mate die departement kan help met begrafnisreëlings en verdere ondersteuning,” sê Meyer.

Hy sê landbouwerkers speel ’n kritieke rol in voedselproduksie en die ekonomie van die Wes-Kaap.

“Hierdie slagoffers is helde, want hulle het uitgegaan om kos aan ons te voorsien, in ’n tyd wanneer die res van ons in ’n staat van inperking is. Ek wens die beseerdes ’n vinnige herstel toe en betuig my innige meegevoel met die familie en vriende van die oorledenes.”

Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, sê die lewensverlies van mense wat tydens die inperking voortgegaan het om ’n noodsaaklike diens te lewer, is ’n geweldige skok vir die landbougemeenskap.

Agri Wes-Kaap het ook sy meegevoel betuig en die beseerdes ’n vinnige en volkome herstel toegewens.

Strydom sê dit is tragies dat so ’n gru-ongeluk tydens die inperking gebeur “wanneer daar veronderstel word dat paaie veiliger as normaalweg is”.

Kenny Africa, Wes-Kaapse verkeershoof, sê daar was omstreeks 07:00 ’n botsing reg van voor op die N1-snelweg tussen Touwsrivier en die Hexrivierpas, naby die Montagu-afrit.

Volgens Africa was daar sowat 28 plaaswerkers agterop die een vragmotor.

Deanna Bessick, woordvoerder van die Wes-Kaapse mediese noodhulpdienste (EMS), sê hul eerste ambulans het om 07:06 op die toneel opgedaag.

“Elf pasiënte het ernstige beserings opgedoen, 12 pasiënte ligte beserings en een van die pasiënte was vasgekeer en is per helikopter na ’n hospitaal vervoer.”

Bessick sê 13 EMS-voertuie was op die toneel.

“Die meerderheid pasiënte is na die Worcester-hospitaal en die Mediclinic Worcester vervoer, terwyl nog ’n pasiënt na die Tygerberg-hospitaal geneem is.”

Ons gebede gaan uit na die slagoffers se naasbestaandes en diegene wat beseer is en ons hoop dat hulle spoedig sal herstel.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, sê toe hulle paramedici op die toneel aankom, het verskeie beseerdes verspreid oor die pad gelê. “Minstens 18 mense het geringe tot kritieke beserings in die ongeluk opgedoen.”

Pat Marran, ANC-lid van die provinsiale wetgewer en kiesafdelingshoof vir De Doorns wat op die toneel was, het bevestig dat die plaaswerkers almal van Touwsrivier afkomstig was en op pad was na ’n bekende plaas in De Doorns waar hulle gewerk het.

Marran sê die gemeenskap is geskok. “Ons gebede gaan uit na die slagoffers se naasbestaandes en diegene wat beseer is en ons hoop dat hulle spoedig sal herstel.”

Die oorsaak van die ongeluk word nog ondersoek, maar daar word vermoed dat een van die bestuurders moontlik agter die stuurwiel aan die slaap geraak het.

Die polisie ondersoek die saak.

Meer oor:  Ivan Meyer  |  Plaaswerkers  |  Motorongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.