Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Dogter (21) skielik dood ná bergfiets-rit saam met pa
Andrew Desmet en sy dogter Rebecca (21) wat Sondag dood is toe hulle gaan bergfietsry het.Foto: WhatsApp-profielfoto/Andrew Desmet

“Ons weet nie waarom sy van ons af weggeneem is nie, maar ons berus daarin dat sy op ’n beter plek is.”

Só sê Andrew Desmet, ’n veldwagter van die Letaba-gebied in die Krugerwildtuin, ná die skielike dood van sy oudste kind en dogter, Rebecca (21).

Pa en dogter het Sondag gaan bergfietsry by die Northern Farm MTB Park naby Lanseria. Desmet moes die volgende dag vir werk in Pretoria wees en het ’n dag vroeër deurgery om tyd saam met Rebecca deur te bring.

Becca, soos haar pa haar genoem het, was ’n mediese student in haar derde jaar aan die Universiteit van die Witwatersrand. Sy het gestudeer om ’n traumadokter te word.

Dié besluit het gekom nadat hy in 2013 ernstig gewond is toe hy ’n paar keer met ’n hoë kaliber aanvalsgeweer raakgeskiet is tydens ’n teenstropingsoperasie, sê Desmet.

Hulle het omstreeks 06:40 die roete van 34 km aangedurf.

In ’n stadium het Desmet ’n klein entjie vooruitgery en vir Becca gewag. Hulle het toe reeds sowat 25 km getrap.

Hy het gewag, maar Becca het nie gekom nie. Hy het besluit om met die paadjie terug te loop en dit is toe dat hy op haar afkom waar ’n ander fietsryer haar bygestaan het.

“Becca het flou geword en van haar fiets afgeval. Sy het nie regtig gereageer nie,” sê Desmet.

Sy het uiteindelik haar bewussyn herwin, geglimlag en regop gesit, sê Desmet.

Intussen is die park gebel om ’n voertuig te stuur om Becca te kom haal. Sy het egter goed genoeg gevoel en sy en haar pa het verder gestap.

Rebecca DesmetFoto: Facebook/Andrew Desmet

“Soos ons gestap het, het sy weer duiselig gevoel en ek het vir haar gesê om my skouers vas te hou. Ek het haar by ’n boom neergesit toe sy weer flou word en omval,” sê Desmet.

Hy het weer die park gebel om ’n voertuig te stuur en dié keer het hy ook Netcare911 gebel.

Terwyl hulle onder die boom gewag het, Becca steeds bewusteloos, het ’n trekker met ’n klein sleepwa verbygery. Die pa en dogter is toe agterop die sleepwa, wat hulle na die hek geneem het.

Toe hulle by die hek kom, het die paramedici van Netcare911 hulle ingewag. Hulle het dadelik gevoel of Becca ’n pols het, maar niks gekry nie.

Vriende en familie het op 23 September haar 21ste verjaardag gevier.

“Becca was ’n lieflike dogter – enig in haar soort.”

Desmet en sy vrou, Linda, het nog twee dogters, Rachel (10) en Cailin (19).

Becca se begrafnisdiens is Vrydag om 14:00 in die Gracepoint Church in Midrand.

’n Gedenkdiens sal ook Dinsdag om 14:00 plaasvind in die New Life Baptist Church in Phalaborwa, Limpopo.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.