Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Dogter vra vir 2de wonderwerk ná aanval op pa

Dit is ’n wonderwerk dat haar pa die vyf skote oorleef het wat rowers op hom geskiet het. Nou vra Marle van Heerden dat mense vanoor die land bid vir ’n tweede wonderwerk: Dat haar pa, Kallie (62), sal herstel.

Thelma en Kallie van Heerden. Foto: Verskaf

Van Heerden sr. was Woensdag nog in ’n ernstige toestand en onder verdowing in die Life Anncron-hospitaal in Klerksdorp se hoësorgeenheid, sê Pieter du Preez, AfriForum se takvoorsitter in Stilfontein.

Drie rowers het Van Heerden Maandagmiddag by die stoor op sy plaas Rooikuil naby Hartbeesfontein, Noordwes, oorval. Hulle het hom vyf keer geskiet terwyl hulle hom in die plaashuis ingedwing en die kluis se sleutel van hom geëis het. Van Heerden het verbete teruggeveg. Hy is in die regterhand, elmboog, pols, en twee keer in sy borskas geskiet.

Een koeël het in sy long vasgesteek, en dit sal voorlopig nie verwyder word nie. Die skade aan sy hand en arm sal eers herstel kan word sodra hy sterk genoeg is vir ’n operasie, sê Du Preez.

Die swaar gewonde Van Heerden het self hulp op die burgerbandradio ontbied nadat die rowers hom in ’n kamer toegesluit en vuurwapens gebuit het. Sy buurman was eerste op die toneel en het nog hulp ontbied. Die gebeurlikheidsplan van die Hartbeesfontein Landbouvereniging se veiligheidskomitee het dadelik in werking getree. Hulle het ’n voertuig na die toneel gestuur, die polisie en ambulans ontbied en die omgewing begin fynkam, sê Jaco Maré, voorsitter van die vereniging.

Du Preez sê AfriForum se skoonmaakdiens het Dinsdag die plaashuis gaan skoonmaak sodat Van Heerden se vrou, Thelma, en hul dogters dit nie hoef te gedoen het nie.

“Daar was baie bloed waar Kallie geskiet is. Ons het ook die diefwering herstel wat die buurman moes afknip om by Kallie uit te kom.”

Sy en hul drie dogters was geskok en emosioneel, maar hulle put krag uit hul geloof.

Du Preez sê Thelma het gevra om deur die plaashuis te loop voordat hulle die toneel opruim, omdat “sy wou sien wat gebeur het en sy wou vrede maak met die toneel”.

“Thelma wou ook nagklere vir Kallie kry. Sy en hul drie dogters was geskok en emosioneel, maar hulle put krag uit hul geloof. Dit was swaar om daar saam met hulle te wees.”

Van Heerden was alleen op die plaas toe hy aangeval is. Thelma was op die dorp.

Kapt. Aafje Botma, polisiewoordvoerder in Noordwes, sê niemand is nog in hegtenis geneem nie. Die polisie ondersoek sake van huisroof en poging tot moord.

Meer oor:  Kallie Van Heerden  |  Klerksdorp  |  Aanval  |  Skiet  |  Wonderwerk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.