Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Dokkie oor Reeva Steenkamp gemaak
Reeva Steenkamp sou Maandag 36 jaar oud geword het. Foto: Argief

Wie was Reeva Steenkamp en wat het regtig gebeur toe sy die aand van 14 Februarie 2013 deur die Paralimpiese atleet Oscar Pistorius doodgeskiet is?

Dit is vrae wat Reeva se ma, June Steenkamp, en haar vriende in ’n nuwe dokumentêr gaan probeer beantwoord.

“Reeva sou op Maandag 19 Augustus haar 36ste verjaardag gevier het. Ons moet haar nie net onthou as ’n regstudent en ’n model nie, maar as ’n individu wat ’n stem gehad het,” lui ’n verklaring deur Uprise.Africa.

Dié skarefinansieringsplatform gaan die dokumentêr My Name is Reeva deur middel van skarefinansiering befonds.

Luidens die verklaring word Reeva se storie deur die oë van haar geliefdes, veral dié van haar ma, vertel.

June het ook ’n boek, Reeva: A Mother’s Story, oor haar dogter geskryf.

“Deur hierdie dokumentêr is ons vasbeslote om Reeva se storie te vertel, om ’n deel van haar te sien wat vrae kan beantwoord oor wie sy was. Sy sou wou gehad het ons moet dit vir haar doen,” sê June in die verklaring.

Die dokumentêr fokus ook op Pistorius se moordverhoor en die impak wat dit op Reeva se geliefdes en goeie vriende gehad het. 

“Dit was die eerste verhoor wat regstreeks uitgesaai is, maar ongelukkig nie baie antwoorde gegee het nie,” lui die verklaring.

Pistorius was die middelpunt van die hofsaak en Reeva is as niks meer as ’n slagoffer uitgebeeld nie. “Dit is niks ongewoons in Suid-Afrika nie, veral in ’n tydperk waarin femicide op sy ergste is en honderde vroue deur hul mans of kêrels vermoor word. Hulle is ook slagoffers met ’n stem. Reeva se geliefdes wil hê hierdie dokumentêr moet dié verskynsel stop deur vir Reeva uit die graf ’n stem te gee,” lui die verklaring.

Tabassum Qadir, uitvoerende hoof van Uprise.Africa, sê hy is trots om by hierdie dokumentêr betrokke te wees, veral in Vrouemaand.

“Ons belegging moet as ’n verjaardaggeskenk vir Reeva gesien word op die dag wat sy 36 jaar oud sou word,” sê Qadir.

Werk aan die dokumentêr sal aan die einde van die jaar begin en dit sal na verwagting in Februarie 2021 uitgereik word.

Warren Batchelor en Tony Miguel is die vervaardigers. Batchelor het ook 204: Getting Away With Murder, ’n dokumentêr oor die mynmagnaat Brett Kebble se moord, geregisseer.

Pistorius dien tronkstraf van 13 jaar vir Reeva se moord uit.

Meer oor:  Reeva Steenkamp  |  Oscar Pistorius  |  Dokumentêr
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.