Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Dokter ondersoek nadat lykskouing geen maas in vrou vind

’n Dokter van die Vaaldriehoek in Gauteng word deur die Raad op Gesondheidsberoepe (RGB) ondersoek weens onprofessionele gedrag nadat hy glo aan ’n kliënt gesê het hy het maas in sy vrou se buik gedurende ’n operasie gebruik, maar ’n lykskouing toe toon dat daar geen maas was nie.

Dié dokter het ook die kliënt meer as R10 000 ekstra laat betaal vir hierdie maas.

Leon Rossouw (71) van Vanderbijlpark het sy oorlede vrou se dokter by die RGB van moord en bedrog aangekla omdat hy meen sy het onnodige behandeling ontvang toe hulle geweet het sy is terminaal siek.

Anna Elizabeth Rossouw (70) is op 31 Maart 2020 aan kolonkanker dood.

Anna het in Februarie 2019 vir ’n roetineondersoek gegaan en ’n sonar is van haar maag geneem. ’n Gewas is in haar buik waargeneem in ’n deel waar daar voorheen geopereer is.

Haar dokter het gesê hulle moet weer opereer en hy sal maas van R7 000 aanbring om die maagwand te beskerm. Rossouw moes dit betaal, asook ’n bykomende R3 500.

Ná die operasie het dié dokter egter gesê hy het haar net “oop- en toegemaak” en dat hy niks verder vir haar kon doen nie. Rossouw het verstaan die dokter bedoel die kanker het versprei en dat daar geen nut sou wees om dit te verwyder nie.

Hierna het ’n dispuut oor die betaling van die maas ontstaan. Luidens die dokter se faktuur het hy ’n operasie vir ’n buikbreuk gedoen en die maas gebruik.

Die dokter het ’n terugbetaling gedoen, maar Rossouw sê nie alles is terugbetaal nie, hangende ’n lykskouing.

Die dokter het sy vrou se toestand in ’n brief beskryf en genoem dat hy die maas gebruik het, maar uit die lykskouing, waar Rossouw teenwoordig was, het dit geblyk dat maas nie gebruik is nie. Volgens Rossouw het die dokter ’n wanvoorstelling gedoen en dat dit op bedrog neerkom.

Rossouw het in Junie 2020 die klag by die RGB ingedien, maar eers nadat hieroor in die media berig is en navrae aan die RGB gerig is, het hulle aandag aan die klag begin gee. Rossouw is versoek om weer die klag in te dien, wat hy gedoen het. Hy het ook ’n vergadering met die RGB gehad.

Priscilla Sekhonyana, kommunikasiehoof van die RGB, het bevestig die saak is by die raad geregistreer en word nou amptelik ondersoek.

In ’n skrewe van die RGB aan Rossouw sê die raad die ondersoek kan sowat 120 dae neem.

Die dokter sal, indien hy skuldig bevind word aan onprofessionele gedrag, van die volgende strawwe kan ontvang:

• Waarskuwing en straf;

• Skorsing vir ’n sekere tydperk;

• Naam van die mediese rol geskrap;

• Boete;

• Verpligte tydperk van werk soos bepaal deur die RGB; of

• Betaling van die koste van die verrigtinge of ’n terugbetaling of albei.

Netwerk24 het die dokter om kommentaar genader.

Die dokter het ontvangs van die kennisgewing van die raad bevestig, maar wou geen verdere kommentaar lewer nie.

Vanessa Gouws, die dokter se regsverteenwoordiger, het per e-pos gereageer en gesê haar kliënt behou alle regte en ontken enige aantygings wat gemaak is.

Meer oor:  Leon Rossouw  |  Gauteng  |  Wanvoorstelling  |  Bedrog  |  Lykskouing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.