Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Balju dwing dokter, kollegas om praktyk te verlaat

’n Dokter in Potchefstroom is ontsteld en voel baie verneder nadat hy en van sy kollegas se kontrakte ná 23 jaar by die Medicross beëindig en hulle gedwing is om hul eie gebou te verlaat.

“Ons is daardie dag soos misdadigers hier uitgelei en voel verskriklik jammer dat van die pasiënte wat reeds afsprake gehad het, nie meer gehelp kon word nie,” het dr. Corrie Kroon Woensdag gesê.

“Ons het nooit voorsien dat ons op hierdie manier uit ons eie gebou gesit sou word nie.”

Die balju en Charel Hanekom van die Netcare-groep, waaronder Medicross val, het verlede Vrydag net voor 12:00 by die praktyk opgedaag en personeel wat rekenaars by ontvangs beman, beveel om die gebou te verlaat.

Dr. Corrie Kroon Foto: Susan Cilliers

“Hulle het gesê ek en een van die ander dokters wat toe by die praktyk was, kon nog tot 16:00 werk voordat ons ook die gebou moes verlaat,” sê Kroon.

“Dit was egter onmoontlik om sonder ontvangs- en ondersteunende personeel verder te werk.”

Op plaaslike sosialemediagroepe het dit behoorlik gegons oor wat by die praktyk aangaan.

Kroon sê hy en van die ander dokters se kontrak met Medicross is in Oktober beëindig nadat hulle nie ’n nuwe kontrak wou onderteken nie.

“Die groep het gesê ons mag tot 31 Desember (2020) in die gebou wees. Ons het sedert Oktober tot Vrydag voortgegaan om pasiënte sonder vergoeding te sien omdat ons steeds ’n diens wou lewer.”

Intussen het die dokters die hof genader om te probeer voorkom dat hulle uit hul eie gebou gesit word, maar hulle het dié hofgeding vandeesmaand verloor.

Die Medicross in Potchefstroom. Foto: Susan Cilliers

“Hoewel die gebou aan van ons dokters en tandartse behoort, het Medicross, wat dit by ons huur, volgens hom blykbaar die laaste sê oor wie in die gebou mag wees,” verduidelik Kroon.

Hy is teleurgesteld omdat hy en van sy kollegas nie ’n ooreenkoms met die Netcare-groep kon bereik oor die nuwe kontrak nie.

Volgens hom stipuleer hul eerste kontrak dat Medicross die administrasie van die praktyk behartig en toesien dat dit kostedoeltreffend bestuur word. Medicross betaal ook al die ondersteunende personeel soos verpleegsters en administratiewe werkers.

“Ons dokters het op ’n kontrakbasis vir hulle gewerk en is vergoed op grond van die insette wat ons in die praktyk lewer,” sê Kroon.

Die praktyk was volgens Kroon tot 2016 “winsgewend”, maar sedertdien het dit volgens Medicross verliese begin ly.

Kroon sê Medicross wou sedert 2019 hê die dokters moet ’n nuwe, sogenaamde “hibriede kontrak” aanvaar. Daarvolgens sou hulle onder meer finansiële state van sover terug as 2011 moes onderteken en gevolglik aanspreeklik wees vir skuld van daardie jaar af.

Kroon en van sy kollegas wou dit nie doen nie.

Volgens hom het die stof hierna ’n bietjie gaan lê weens die impak van die Covid-19-pandemie en die dokters het soos altyd aangegaan met werk.

“Intussen het ons ouditeur ons in Junie 2020 afgeraai om die state terugwerkend te onderteken,” sê Kroon.

“Medicross het in September verlede jaar ’n ultimatum gestel dat ons kontrakte beëindig sou word indien ons nie die hibriede kontrak aanvaar en die state onderteken nie. Ons wou nie en toe beëindig hulle ons kontrak.”

Kroon sê hulle het in Oktober weer probeer om met Medicross te onderhandel oor die besnoeiing van koste en die aanvaarding van die nuwe kontrak, onder sekere voorwaardes. “Hulle wou nie daaraan byt nie.”

Theunis Liebenberg, Kroon en Vennote Ingelyf se prokureur, sê daar is landwyd nog sowat sewe ander soortgelyke geskille tussen Medicross en dokterspraktyke wat deur hom geadministreer word.

Salome Liebenberg, hoofbedryfsbestuurder by Medicross, sê die groep kan nie kommentaar lewer nie omdat die kwessie nog nie heeltemal afgehandel is nie.

Kroon en die drie ander dokters wie se kontrakte beëindig is, het reeds kort ná hul afdanking die EXP-groep aangestel om hul administrasie te behartig.

Meer oor:  Potchefstroom  |  Medicross  |  Balju  |  Dokters
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.