Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Dominee van haatspraak aangekla oor pedofilie-uitsprake

Die Menseregtekommissie (MRK) gaan 'n klag van haatspraak teen dr. Chris van Wyk, NG predikant, by die gelykheidshof indien.

Die NG Kerk (NGK) het Sondag met sy 17de vergadering van die Algemene Sinode (AS) in Benoni aan die Oos-Rand begin.

Die vergadering duur tot Vrydag.

Dr. Chris van Wyk, lid van die moderatuur van die NG Kerk se Algemene Sinode sedert 2015. Foto: Argief

Van Wyk, wat lid van die AS se moderatuur was totdat die 17de vergadering gekonstitueer het, het in 2018 in 'n Facebook-kommentaar homoseksualiteit met pedofilie vergelyk.

Die beweging, Queers without Borders (QWB), en n besoeker by die 17de vergadering, het Van Wyk aanvanklik by die MRK verkla.

Die beweging, wat in 2017 gestig is, is ’n maatskaplike drukgroep wat die samelewing bewus maak van hoofsaaklik LGBTIQ-kwessies.

In die e-pos van adv. Loyiso Mpondo van die MRK in die Oos-Kaap se regsafdeling, wat Netwerk24 gesien het, sê Mpondo aan die QWB dat die MRK nié tevrede was met Van Wyk se vertoë op die QWB se klag nie en het “sedertdien besluit om gelykheidshofverrigtinge teen hom by die landdroshof in Port Elizabeth in te stel”.

In sy kommentaar op die Kerkbode se Facebook-blad het Van Wyk geskryf indien seksuele oriëntasie ’n gawe van God is, “sal jy pedofilie – seksuele aangetrokkenheid tot kinders – ook op soortgelyke wyse moet aanvaar”. 

Hy het gereageer op die bekentenis van ds. Nelis Janse van Rensburg, nuutverkose moderator, dat sy persoonlike oortuigings nie strook met die kerk se standpunt oor selfdegeslagverhoudings nie. 

Janse van Rensburg het in 2018 onder meer geskryf:

“Ek is oortuig daarvan dat seksuele oriëntasie ’n goeie gawe uit God se hand is wat ons met dankbaarheid mag ontvang en met sorg moet koester.”

Van Wyk het in sy repliek aan die MRK ontken dat hy die vergelyking getref het.

“Ek het nie ‘n vergelyking tussen selfdegeslagverhoudings en pedofilie getref nie. Ek het gesê indien alle seksuele oriëntasies ‘n geskenk van God is, soos ds. Nelis Janse van Rensburg volhou, hy alle seksuele oriëntasies, soos pedofilie, moes insluit om konsekwent in sy argument te wees.

"Ek het slegs sy foutiewe logika uitgewys. Dis duidelik uit my brief dat ek nie na homoseksuele oriëntasie as sodanig verwys het nie.”

Van Wyk was Sondagaand nog nie bewus van die nuwe stappe teen hom nie.

“Dis 'n jaar later. Hoe is dit dat ek eerste in die media daarvan hoor of lees?”

Hy wou nie kommentaar op die klag lewer voordat hy nie self in kennis gestel is nie.

* Van Wyk is die predikant by die NG kerk Somerstrand in Port Elizabeth en ook voormalige moderator van die Oos-Kaapse sinode.

Meer oor:  Mrk  |  Homoseksualiteit  |  Chris Van Wyk  |  Pedofilie  |  Gelykheidshof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.