Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Donkie se steekhaar-vriend nou ernstig siek

Die steekhaarfoksterriër wat vandeesweek die voorblaaie gehaal het met ’n foto van hom en ’n eenjarige donkie wat saam waatlemoen op ’n kleinhoewe buite Bloemfontein bedel, het vermoedelik ’n immuunsiekte opgedoen en is ernstig siek.

Lisa Nel van Groenvlei sê Rusty (3), nog altyd ’n fors en fikse brak, het verlede week sy balans begin verloor. Sy toestand het mettertyd verswak en hy kan nou skaars loop of enigsins op sy bene staan.

“Ek het aanvanklik gedink dit is net ’n ruggraatprobleem, en hom veearts toe geneem waar hy ingeënt is en anti-inflammatoriese medisyne gekry het.”

Rasberry, die donkie, hou ’n wakende oog oor Rusty (3) wat ernstig siek is. ’n Spesialis meen dit kan ’n outo-immuunsiekte wees. Foto: Lisa Nel

Daar was ook die moontlikheid dat Rasberry, die donkie, per ongeluk op hom getrap het, maar die veearts het dit uitgeskakel.

Hierna, kort nadat Volksblad haar gekontak het om oor die foto berig te doen, het sy toestand ernstig verswak.

Die foto van hom en Rasberry wat by die huis se deur inloer en waatlemoen bedel, is sowat twee weke gelede geneem en dit het duisende harte op sosiale media vermurwe toe Nel dit op Facebook-groepe soos Donkies make me happy en Wire haired foxterriers Suider Afrika geplaas het.

Ná ’n week van anti-inflammatoriese medisyne en toe twee dae by die veearts vir X-strale, bloedtoetse en kortisoon-inspuitings weet hulle steeds nie wat fout is nie.

Die foto van Rasberry en Rusty wat Maandag harte vermurwe het toe dit op die voorblad van Netwerk24 se dagblaaie soos Volksblad en Beeld verskyn het. Foto: Lisa Nel
Rasberry en Rusty in gesonder tye voordat laasgenoemde ernstig siek geraak het. Foto: Lisa Nel

Nel het ’n spesialis in Johannesburg gekontak, wat voorgestel het hy laat doen daar ’n MRI-skandering en nog toetse.

“Met die hoë veearts-rekeninge tot dusver en ’n baie duur kwotasie van die spesialis sonder ’n waarborg van ’n prognose, kan ons egter nie bekostig om verder ondersoek in te stel nie.”

Die spesialis vermoed wel dit kan poliradikuloneuritis wees. Dit is ’n tipe inflammasie wat skielik ontwikkel wanneer die liggaam se immuunstelsel die senuwees aanval.

Nel sê sy het “hul seun” ’n goeie bad gegee, hy het goed geëet en gedrink en het nie pyn nie.

“Hy is nou stabiel en kan eet. Ons hou sy vordering dop, ek dink hy sal dit maak.”

Sy sê met hul huidige geldelike situasie weens Covid-19 is dit moeilik om die R20 000-uitgawe aan die spesialis te regverdig.

’n Besorgde Rasberry hou ’n wakende oog oor Rusty, haar beste vriend. Foto: Lisa Nel
Rusty liefkoos Philip, sy mensepa Foto: Verskaf
Lisa en haar Rusty voordat hy siek geword het. Foto: Verskaf
Rusty se pootjies. Foto: Verskaf

Nel en haar man, Philip, is aangeraai om gebruik te maak van skarefinansiering sodat belangstellendes geld kan skenk. Sy meen egter dit is in hierdie stadium onnodig.

“Mense moet eerder geld aan dieresorgverenigings skenk.”

Die sosialemediagroepe is baie ondersteunend, sê sy, en mense deel hul diere se simptome met haar om hul empatie te toon.

“Daar is ’n wonderlike gevoel van samehorigheid. Dit is goed om te sien hoe ons in ’n tyd van afstand en isolasie vir mekaar omgee.”

Meer oor:  Lisa Nel  |  Steekhaarfoksterriër  |  Rusty  |  Bloemfontein  |  Ernstig Siek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.