Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Dood van 7 van sani2c ‘sink nou in’

“Dit voel asof my hart uit my borskas geskeur het.”

So het ’n gebroke Glen Haw, stigter van die KAP sani2c-bergfietsren wat jaarliks in KwaZulu-Natal aangebied word, sy gemoedstoestand Dinsdag aan Netwerk24 beskryf nadat sewe van sy personeellede Saterdagaand in ’n motorongeluk dood is.

Nkosinathi Innocent Ndwalane, Bongani Mntambo, Steven John Radebe, Simon Mdluli, Sphiwesethu Madonda en Mboniswa Jabulani Madonda is dood toe die Toyota Land Cruiser waarin hulle gery het omstreeks 18:45 in ’n tromp-op botsing met ’n Mazda Sting op die R612-pad naby Umzinto was. Nog een van Haw se personeellede, Siyanda Lenton Ngcobo, is later in die G.J. Crookes-hospitaal in Scottburgh dood.

Wat my vir ewig sal bybly, is dat hulle almal hier weg is in ’n ligte luim en met sulke breë glimlagte op hul gesig omdat almal die fietsren so geniet en alles seepglad afgeloop het.

Volgens Robert McKenzie, woordvoerder van die provinsiale nooddienste, het vyf ander mense in die Toyota Land Cruiser en vyf mense in die Mazda Sting ligte beserings opgedoen. Die oorsaak van die ongeluk word ondersoek, het McKenzie gesê.

“Ons ry gewoonlik Sondag terug na ons huise, maar van die ouer personeellede wat al jare saam met my werk, het Saterdagaand ná die bergfietsren gevra om vroeër huis toe te gaan want hulle wou tyd met hul gesinne deurbring,” het Haw gesê.

Die mans help Haw al die afgelope 15 jaar om die gewilde drie dae lange bergfietsren, wat oor 265 km van Himeville in die suidelike Drakensberg tot Scottburgh aan die KwaZulu-Natalse suidkus strek, aan te bied.

“Wat my vir ewig sal bybly, is dat hulle almal hier weg is in ’n ligte luim en met sulke breë glimlagte op hul gesig omdat almal die fietsren so geniet en alles seepglad afgeloop het. Hul dood is nie net ’n ontsettende verlies vir hul families en vriende nie, maar ook vir ’n ieder en ’n elk by sani2c,” het Haw, ’n melkboer in die Ixopo-omgewing, gesê.

’n Fondsinsamelingsprojek is intussen begin om die oorledenes se geliefdes met die begrafnisreëlings by te staan.

“Ek het die afgelope twee dae elkeen se gesin gaan besoek om my medelye persoonlik aan hulle oor te dra. Van die mans is soos familie en het vir jare op my plaas gewoon en gewerk. Die meeste kom van piepklein plekkies tussen Underberg en Umkomaas. Ek is oorweldig deur al die ondersteuning van deelnemers aan die sani2c. Een van die fietsryers, ’n forensiese ondersoeker, het selfs die ongelukstoneel besoek en is besig om ’n volledige verslag op te stel wat met die ondersoek kan help. Dankie aan almal vir hul liefde en onderskraging in dié moeilike tyd. “Die realiteit dat hulle weg is, het eers vanoggend werklik by my ingesink toe ek werk toe gaan en hulle nie daar is nie,” het Haw gesê.

Volgens kol. Thembeka Mbele, polisiewoordvoerder, is die bestuurder van die Mazda Sting op die toneel in hegtenis geneem. “Die man word van strafbare manslag en dronkbestuur aangekla,” het Mbele gesê.

Meer oor:  Sani2c  |  Motorongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.