Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Doodgebyt deur sy eie ‘kind’

Vir ’n afgetrede luitenant-kolonel in die polisie was sy twee pitbulls soos sy kinders en hulle het selfs “saamgesing” wanneer hy vir hulle konsertina speel, maar toe hy verlede Saterdag met ’n bak vleis struikel, het een hom aan die nek gegryp.

Izak (Sakkie) Kotzé (72) is kort daarna in sy huis op Danger­point in Gansbaai in die Wes-Kaap dood.

Izak Kotzé by sy geliefde pitbulls, Samuel en Mia.

Vroeër dieselfde middag is die 83-jarige Marge Adamson in Meerensee, Richardsbaai, deur haar kinders se twee pitbull-kruisings aangeval. Ook sy is later dood.

Kotzé het by sy huis saam met ’n vriend, Marius Bauermeister (45), gebraai.

Beatrix Smit (68) van Langebaan sê haar broer het blykbaar omstreeks 18:00 opgestaan om ’n bak vleis kombuis toe te dra. Sy voet het aan ’n stoel vasgehaak en hy het gestruikel. Toe gryp sy reun, Samuel, hom. Die hond het blykbaar net ’n klein entjie van Kotzé se stoel af gelê en het moontlik geskrik toe sy eienaar struikel.

Smit sê dit klink asof haar broer gedink het die hond wil speel toe hy hom begin aanval. Bauermeister het ’n paar skote afgevuur en die hond doodgeskiet in ’n poging om Kotzé se lewe te red, maar dié is kort daarna met sy kop op sy vriend se skoot dood.

Smit sê die teef, Mia, was nie deel van die aanval nie, maar was verskriklik getraumatiseer en hulle het haar eerder van kant laat maak.

Kapt. FC van Wyk, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, sê lede van die plaaslike polisiekantoor het Kotzé se lyk op die vloer van die woonvertrek gekry. “Hy het beserings aan sy kop en nek gehad. Die dooie pitbull het reg langs Kotzé se lyk gelê.”

Kotzé, wat nie self kinders gehad het nie, was vir Bauermeister ’n pa-figuur.

Izak Kotzé van Gansbaai is verlede Saterdag dood nadat sy een pitbull hom aangeval het nadat hy gestruikel het. Foto: Facebook
Dié foto van Izak Kotzé se geliefde pitbullreun was sy WhatsApp-profielfoto. Foto: Verskaf
Izak Kotzé se pitbullterriërs, Samuel en Mia.

Smit sê haar broer se dood is vir hulle ’n verskriklike skok. Die baie bloed op die toneel bekommer en ontstel haar. Dit beteken waarskynlik haar broer se hoofslagaar is afgebyt.

“Sy honde was sy kinders. Hulle het elke oggend voor hulle kos gekry het ’n stukkie droëwors gekry.”

Twee uur voordat Kotzé dood is, het Charmaine Botha, ’n konsultant wat oudpolisielede bystaan om hul ongeskiktheidspensioene uitbetaal te kry, nog telefonies met hom gepraat.

“Ons het oor Polmed (die polisie se mediese fonds) gepraat. Ons wou hom instem as ledeverteenwoordiger.”

Botha beskryf hom as iemand wat ander se belange altyd bo sy eie geplaas het.

Smit sê sy en haar drie susters, Jolees Zietsman (76), Rita Bester (75) en Wilna Fargher (70), het vrede in hul harte oor hul broer se dood. “My oudste suster het elke dag vir ons almal by die naam gebid.”

Bauermeister was die afgelope week nog te hartseer en getraumatiseer om oor die voorval te praat.

Adamson was glo voorheen ’n honde-opleier.

’n Familievriend sê sy het in ’n woonstel op haar kinders se erf gewoon en was vertroud met die honde. Sy was alleen tuis toe die twee reuns – een ’n pitbull-staffordshireterriër-kruising en die ander ’n kruising tussen ’n pitbull en Siberiese poolhond (husky) – haar gebyt het.

Dit was omstreeks 16:30.

Shawn Herbst, woordvoerder van Netcare 911, sê sy het ernstige beserings aan haar arms en bene, kop en bolyf opgedoen.

Paramedici het haar op die toneel behandel en gestabiliseer voordat hulle haar na ’n hospitaal geneem het, waar sy later dood is.

“Die hond het stukkies uit haar arm gebyt. Die honde is weggeneem en soos ons dit verstaan, sou die honde van kant gemaak word,” sê Herbst.

Die koerant Zululand Observer berig Adamson se seun het haar op die erf gevind toe hy tuiskom.

Aggressie en vrees kom by telery, sê kundiges

Jeanette Erasmus, president van die Pitbullfederasie van Suid-Afrika (PBFSA), sê pitbulls is nie aggressief teenoor mense nie en is nooit aanvanklik geteel om so te wees nie, maar hulle raak aggressief as teling nie reg gedoen word nie.

“Mense moet ophou om die ras met ’n ander soort hond te teel.”

Volgens haar bly ’n hond steeds net ’n hond. “Al is die honde soos jou kinders, moet jy hulle steeds dissipline leer.”

Sy sê dis seker een uit honderdduisende honde wat sy eienaar byt.

Adam Lax, ’n hondegedragskenner van die organisasie Scar, stem saam. Hy werk met baie pitbulls en hoewel hulle soms aggressief voorkom, sê hy probleme kom by die telery. “Kruistelery kan aggressie veroorsaak. Daar is goeie, gekwalifiseerde pitbulltelers, maar daar is dikwels ’n probleem met die genepoel by agterplaastelers. Goeie, gekwalifiseerde telers kan (slegte eienskappe) uitteel. Vrees en aggressie kan in hul DNS ingeteel word.”

Hy sê daar is mense wat honde met stokke of sambokke slaan wanneer hulle die diere oplei in plaas daarvan om positiewe bevestiging te gebruik. “Hoewel baie mense sê hulle het nog nooit hul honde geslaan nie, het iemand anders hulle dalk al geslaan, of die aggressie raak deel van babahondjies se DNS as hul ouers geslaan is.”

Meer oor:  Izak (Sakkie) Kotzé (72)  |  Marge Adamson  |  Richardsbaai  |  Gansbaai  |  Meerensee  |  Danger­Point  |  Aangeval  |  Dood  |  Hond  |  Pitbull  |  Doodgebyt
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.