Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Doodskis in perdekoets ‘gepas vir hanteerder’

Dit was gepas dat Nico Ockhuis (27) vir oulaas in ’n perdekoets kon ry voordat hy in ’n begraafplaas op Ceres te ruste gelê is.

Ockhuis en twee ander personeellede van die perdeplaas Moutonshoek naby Piketberg, Karel Skirmaans en Andries Swarts, is ’n week gelede in ’n busongeluk dood.

Nico Ockhuis (27) se doodskis is Saterdag in ’n perdekoets vervoer. Foto: David Storm

Ockhuis was ’n perdehanteerder, Skirmaans was die plaas se perde-bestuurder en Swarts was ook ’n hanteerder.

Hulle was in ’n Greyhound-bus van Johannesburg op pad terug na Worcester nadat hulle ’n perdeveiling bygewoon het.

Die ongeluk het omstreeks 06:00 Sondag 28 April op die N1 tussen Laingsburg en Touwsrivier gebeur. ’n Voertuig het glo langs die N1 onklaar geraak, waarna ’n vragmotor in die voertuig vasgery het. Die Greyhound-bus het toe in die vragmotor vasgery.

Die busbestuurder is ernstig beseer. Nog 51 ander passasiers is ook beseer.

Pieter Johnson, ook ’n Moutonshoek-werknemer, het ’n beenbesering opgedoen en is intussen uit die hospitaal op Worcester ontslaan. Hendrik Saroon, Jaco Kito en Jerome Jakobs van die perdeplaas is ongedeerd.

Ockhuis het sowat anderhalf jaar gelede op die plaas begin werk.

Begrafnisgangers gooi Nico Ockhuis se graf toe.Foto: David Storm

Sowat 150 mense het Saterdag Ockhuis se begrafnis in die gemeenskapsaal in Ceres bygewoon. Past. Herman Niewood het die diens gelei.

“Nico se doodskis is in ’n perdekoets gebring omdat hy met perde gewerk het,” sê Romi Bettison, sy kollega.

Sy sê Hendrik en Maria Saroon het namens die gemeenskap ’n huldeblyk aan Ockhuis gebring.

Hendrik het Ockhuis beskryf as ’n gelukkige mens wat nooit kwaad geword het nie.

“Hy het gesê as Nico kwaad geword het, was dit slegs vir ’n minuut en dan het hy weer gelukkig geword. Hy was ’n gelukkige en liefdevolle mens, wat altyd grappe vertel het,” sê Bettison.

Volgens haar het Ockhuis ’n eenjarige kind saam met sy vriendin, Devine van Rooyen.

Dr. Bennie van der Merwe, een van die eienaars van Moutonshoek, sê gedenkdienste is Donderdag en Sondag op die plaas vir die drie oorledenes gehou.

Hy sê Skirmaans en Swarts se begrafnisreëlings het verander. Skirmaans sal nou Saterdag 11 Mei vanuit die Bella Vista-gemeenskapsaal in Ceres begrawe word. Swarts word die volgende dag, Sondag 12 Mei, op Moutonshoek begrawe.

Dié foto van Moutonshoek se personeel is op Twitter gedeel. Voor van links is Andries Swarts, Jerome Jakobs en Hendrik Saroon. Agter is Romi Bettison, Karel Skirmaans, Jaco Ockhuis, Pieter Johnson, Nico Ockhuis, Oisin O’Raghallaigh en Keeley Mayhew. Karel Skirmaans, Nico Ockhuis en Andries Swarts is in ’n busongeluk dood.Foto: Twitter
Meer oor:  Laingsburg  |  Touwsrivier  |  Begrafnis  |  Busongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.