Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Dosent herbou hutte verniet

Mense woon in plakkerskampe, maar die skuilings hoef nie bouvallig te wees, sê die Matie-dosent Quinton Adams.

Oorstelp van vreugde. Jo-Ann Plaatjies se skuiling is herbou. Foto: Edrea du Toit

Dié dosent in opvoedkundige sielkunde herbou plakkershutte in die Freedom Farm-buurt naby die Kaapstadse Lughawe. Die hutte daar het hoofsaaklik plat dakke en bestaan uit ontvlambare materiaal, motorbande en plastiekseile op die dak. Maar die huise wat Adams oordoen, kry skuins dakke, vensters wat oopmaak vir meer ventilasie, sementvloere, isolasiemateriaal in die plafon en meer ruimte.

Hy het al tien skuilings in die plakkerskamp oorkant Belhar se begraafplaas herbou, alles uit sy sak en met die hulp van familielede en vriende.

Die afgelope 15 jaar doen hy ingrypingsprogramme met Freedom Farm se jeug en families.

As etnografiese navorser bestudeer hy mense in hul leefomgewing. Hy ken die negatiewe impak van die haglike omstandighede op gesinne se prestasie, maar veral gesondheid, alte goed, sê hy.

‘Mnr. Adams is ’n engel wat God gestuur het.’

Wanneer die vliegtuie hier oorverdowend opstyg of land, sien jy selfs die boute en nate in die romp. In die buurt baljaar kinders in die modderpaadjies en seuns ry brandmaer perde bloots of sweep ’n perdekar met skrootmateriaal deur die waterpoele.

In Freedom Farm ruik jy armoede, sê Adams. Die wetenskap van reuk fassineer hom, ook die “nat-sokkie-sindroom” wat te doen het met muf aan die plafonne weens die klammigheid. Dan is daar ook die reuk van rotmis, die rook van die ghêllieblik, en potte met urien.

Wanneer die families help om die bouvallige huisies af te breek en dan te herbou, raak dit ’n belangrike psigologies-terapeutiese proses om hul menswaardigheid te herstel, sê hy.

Adams het dié nuwe huisies met die blink sinkplate aan Rapport gewys.

Volgende teiken. Dié bouvallige skuiling is Quinton Adams se volgende projek.

Hy sê hy het ingegryp nadat die “ergste winterstorm in dekades” Kaapstad verlede jaar getref het. Hy het die skade aan die skuilings gesien, maar veral die gevolge van die ewige klammigheid en bedompigheid in die beknopte vertrekkies. Inwoners het met allerlei siektes gesukkel. Adams is al ontbied toe ’n skuiling gebrand en drie inwoners gesterf het. “Ek is deur hierdie insidente aangegryp, diep getref deur die menslike tragedie,” sê hy. Hy wil lampe wat met sonkrag werk vir inwoners kry.

Eenkant staan Jo-Ann Plaatjies (34), ’n enkelma, se herboude huisie blink in die winterson. Sy huil onbeskaamd oor Adams se filantropiese gebaar. “My twee kinders is nou veiliger, gesonder en die vertrekke eens en vir altyd droog,” sê sy.

Rachel du Preez (57), ’n gemeenskapswerker, se herboude huis gaan 54 m2 groot wees met groot vensters en vertrekke. Sy, haar bondel kinders, pleegkinders en kleinkinders trek in die komende week in. Sy vertel hoe die koppies en lepeltjies soggens klokslag om 06:00 klingel – as die vliegtuig opstyg. “Só jubel my hart. Mnr. Adams is ’n engel wat God gestuur het.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.