Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Dr. Willem Laubscher op 91 oorlede
Dr. Willem Laubscher by sy huis in Bettysbaai sowat twee jaar gelede. Foto: Jaco Marais

’n Legende in die mediese wêreld wat onder meer Nelson Mandela, Walter Sisulu, Govan Mbeki asook PW Botha behandel het, is in die ouderdom van 91 oorlede.

Dr. Willem Marthinus Lötter Laubscher is op 19 Januarie in die Vergelegen Mediclinic in Somerset-Wes oorlede.

Positief getoets vir Covid-19

Hy is positief getoets vir Covid-19 en is ’n week gelede na die hospitaal geneem vir suurstofbehandeling.

“Hy was sieklik en het ook die virus gehad, so ons is nie heeltemal seker of hy aan die virus oorlede is nie,” sê ’n familiewoordvoerder.

Laubscher sou op 1 Februarie sy 92ste verjaarsdag vier.

Hy het saam met sy tweede vrou, Susan, op Bettysbaai gewoon.

Gebore in 1929

Prof. Marthinus de Kock het ’n huldeblyk aan sy jarelange vriend en kollega geskryf. Hy sê Laubscher is in 1929 in Observatory in Kaapstad gebore.

Hy was plaaslik sowel as internasionaal beroemd vir sy werk gedurende die apartheidstyd toe hy onder meer Mandela, Sisulu en later Botha geopereer het.

Laubscher het in 1944 aan die Hoërskool Maitland gematrikuleer en het sy doktorsgraad aan die Universiteit van Kaapstad in 1951 verwerf. Hy het sy internskapjaar by die Grey-hospitaal in King William’s Town voltooi en was toe ’n algemene praktisyn in Joubertina.

In 1953 is hy na Brittanje waar hy ’n Fellowship of the Royal Colleges of Surgeons in Edinburg, Skotland, in 1958 bekom het.

Hierna het hy verder aan die Leeds General Infirmary studeer waar sy mentors die bekende Leslie Pyrah en Fred Raper was.

Eerste uroloog in Klerksdorp

In Januarie 1961 is hy as kliniese assistent in die Karl Bremer-hospitaal in Bellville aangestel. Hy het in April 1962 as die eerste uroloog in Klerksdorp in die destydse Wes-Transvaal geregistreer.

In 1967 het hy na Kaapstad verhuis en by Medipark in die hawegebied gewerk. Hy is later na die Louis Leipoldt-hospitaal en het daarna sy loopbaan by die Mediclinic Vergelegen afgesluit.

Ná sy aftrede het hy ’n regsgraad in 2003 bekom.

In Februarie 2020 is sy boek Operation Mandela gepubliseer.

Hy het ook deeltydse werk by die Karl Bremer- en Tygerberg-, Woodstock- en 2 Militêre hospitaal gedoen.

De Kock, wat Laubscher sedert 1970 ken, sê hy het al op ouderdom 29 grys hare gekry wat hom die bynaam “silwer jakkals” besorg het.

“Hy was ’n uitsonderlike onderwyser met wye ervaring, veral ook as chirurg,” sê De Kock.

Laubscher het ’n aktiewe rol in die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging asook die Suid-Afrikaanse Urologiese Vereniging (SAUA) gespeel. Hy was van 1986 tot 1990 president van die SAUA.

Dr. Willem Laubscher saam met Nelson Mandela. Foto: Argief

Die SAUA het ook sy medelye teenoor sy familie betuig. “Ons gedagtes en gebede is met julle in hierdie moeilike tyd.”

Hy was baie lief vir sport en sy kinders en kleinkinders het uitstekende swemmers geword. Hy is later as voorsitter van die WP Swemvereniging verkies.

’n Familiewoordvoerder vertel Laubscher het nooit ’n rugbywedstryd of gala van een van sy kinders misgeloop nie, en het gesorg hy maak altyd tyd vir sy gesin.

Sy eerste vrou, Audrey, woon in Rondebosch. Hulle het vier kinders, drie seuns en ’n dogter, gehad. Die seuns woon almal in Kaapstad, terwyl die dogter na Australië geëmigreer het.

Laubscher en Audrey is sowat 20 jaar gelede geskei, waarna hy met Susan getrou het.

Ses weke voor sy dood het Laubscher steeds die vyf kilometer na die naaste kafee op Bettysbaai gestap om Die Burger te gaan koop.

De Kock sê die fiksste deel van hom was steeds sy verstand, en hy sal baie deur sy familie, vriende en kollegas gemis word.

Begrafnisreëlings moet nog bevestig word.

  • Lees Murry la Vita se profielonderhoud met Laubscher hier.
Meer oor:  Dood  |  Afsterwe  |  Dokter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.