Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Dr. Wollie, lidmaat rook die vredespyp

Die lidmaat wat ’n klag by die NG Kerk se ring in Bloemfontein teen dr. Wollie Grobler van die Klipkerk wou indien, het besluit om eerder die vredespyp saam met sy leraar te rook.

Deon Bam het laat Woensdagmiddag met Grobler vergader, waarna Grobler gesê het hulle het die saak opgelos, soos dit Christene betaam. “Ons het ’n wonderlike gesprek gehad en Deon wil nie meer ’n klag indien nie.”

Dr. Wollie Grobler in die Klipkerk.Foto: Charl Devenish

Bam het Grobler die oggend gebel en gesê dat hy hom eerder self wil spreek as om hom by die ring aan te kla.

Hy sou Woensdagoggend met die ringvoorsitter vergader om stappe te bespreek om ’n klag oor die kerk se finansiële state in te dien.

Grobler was verheug daaroor dat hulle die saak eerder tussen hulle kon bespreek.

Die een ding wat die kerk hieruit kan leer, sê hy, is om dadelik ’n kwessie te hanteer.

“Praat onmiddellik. Kom na my toe, ek is beskikbaar. Moenie na die leiers toe gaan nie.”

Grobler, wat self op sy dag ’n ringvoorsitter van die NG Kerk was, sê die ring sal gewoonlik besluit of ’n klag “ontvanklik is of nie”.

“Hulle sal ook vra of die kwessie self met die leraar bespreek is.”

Grobler het kort voor die vergadering met Bam gesê hy sal nie teruggaan op sy vroeëre standpunt, dat die konsep van ’n Sabbatdag slegs aan die Ou Testament behoort nie.

“Ek het nou die dag gehoor iemand sê as jy op ’n Sondag ’n lig aanskakel of ’n kraan oopdraai, dryf jy handel.”

Hy sê oor die kerk se finansiële state dat hy vroeër ’n dokument aan die kerk voorgelê het wat die verliese en uitgawes blootlê.

Grobler sê hy word oorval met positiewe boodskappe nadat Bam Sondag uit sy diens gestap het.

“Baie sê Wollie, gaan stig vir jou ’n kerk. Dan sê ek nee, ek gaan nêrens!”

Hy het bygevoeg hy wil nie Bam as gemeentelid verloor nie. En Bam self het ná die vergadering gesê: “Sondag is ek terug in die kerk.”

27 jaar van omstredenheid

Lidmate wat uitstap lank voordat die seën uitgespreek word, is geen nuwigheid vir Grobler nie.

* Toe hy 27 jaar gelede sy eerste preke gelewer het, het kerkgangers al ongemaklik in die kerkbanke rondgeskuif, veral toe hy en ’n lidmaat die Halleluja-liedere met kitaarspel begin afwissel het.

* Daar was ook ontevredenheid oor vroue wat as ouderlinge aangestel is.

* Dan was daar die keer wat drie ouderlinge gelyk bedank het oor Grobler se omstredenheid. “Ná tien jaar bedank hulle en sê hulle is gatvol vir my.”

* Elf jaar gelede, toe ds. Johann Els saam met Grobler leraar by die Klipkerk was, het hy die kerk vermaan om Grobler meer genadig te wees toe dié weens ’n hartkwaal in die hospitaal was. “Hy het gesê dis oor júlle wat Wollie siek is. Een ou staan toe op, wys na Johann, sê: ‘nee, dis jy!’ en stap daar uit.”

Grobler sê die kwessie met Bam is een van die makliker probleme waardeur hy al in die gesig gestaar was.

“Ons is al deur hel, dié is niks!”

Meer oor:  Ng Kerk  |  Bloemfontein  |  Kerk  |  Versoening  |  Godsdiens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.