Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Drama by SAUK het bygedra tot Suna se dood’
Suna VenterFoto: LUCKY MAIBI

Foeta Krige, een van die sogenaamde SAUK 8-joernaliste, is oortuig daarvan dat die drama by die SAUK bygedra het tot Suna Venter se dood.

Hy het Donderdagmiddag gesê sy is onlangs met stresgeïnduseerde kardiomiopatie, ook bekend as broken heart syndrome gediagnoseer.

“Kardiomiopatie veroorsaak vervorming van die hart en word deur langdurige stres en trauma vererger. Ons kan nog nie met sekerheid sê waaraan Suna dood is nie, maar ek twyfel nie daaraan dat die drama ’n groot rol in haar dood gespeel het nie.”

Venter (32) is Donderdag dood gevind. Haar ouers was met vakansie in die Krugerwildtuin toe hulle die nuus hoor en was Donderdagmiddag op pad terug na Johannesburg.

Dr. Philip Venter, Suna se pa, het gesê: “Ek en Christa, Suna se ma, wil net sê sy was ’n baie dapper mens. Ons is baie trots op haar en het waarlik waardering vir die goeie herinneringe aan haar.”

Die veteraanjoernalis Foeta Krige praat in die botaniese tuin op Stellenbosch oor sy werk en sy lewe. Foto: Edrea du Toit

Volgens Krige, wat as woordvoerder vir die familie optree, word Suna deur haar ouers, haar broer, Willem, en suster, Tessa, oorleef.

Haar lyk is Donderdagoggend in haar woonstel in Fairland ontdek.

Venter en Krige het verlede jaar saam met hul medejoernaliste Jacques Steenkamp, Krivani Pillay, Thandeka Gqubule, Lukhanyo Calata, Busi Ntuli en Vuyo Mvoko opspraak gemaak toe hulle kapsie gemaak het teen omstrede beleid wat Hlaudi Motsoeneng, toe bedryfshoof van die openbare uitsaaier, wou implementeer.

Die arbeidshof het ná hul afdanking Solidariteit en die mediawerkersvakbond Bemawu se aansoeke om sewe van die agt joernaliste weer aan te stel, met koste toegestaan.

Venter is vroeër vanjaar met ’n windbuks in die gesig geskiet kort nadat sy ’n wegneemete by ’n restaurant in Linden gekoop het.

Sy was ’n vegter wat haar ideale uitgeleef het.
Dirk Hermann van Solidariteit

Krige het Donderdag gesê Venter het ’n slagoffer van voortgesette intimidasie, viktimisering en selfs doodsdreigemente gebly.

Volgens Krige het Venter deur die loop van die jaar verskeie dreigemente via SMS ontvang. Daar is telkemale by haar woonstel ingebreek en haar voertuig se remkabels is in ’n stadium gesny. Sy is ook ontvoer en aan ’n boom by Melville-koppies vasgebind, terwyl die gras om haar aan die brand gesteek is en sy is by drie verskillende geleenthede aangerand.

Volgens Krige, wat Venter as ’n passievolle verslaggewer oor nuus en aktuele sake beskryf, glo “diegene wat die naaste aan haar was” haar toestand is deur die afgelope jaar se gebeure vererger of veroorsaak.

Volgens hom was haar hoofdoel die afgelope jaar om te veg vir ’n onafhanklike nuuskantoor vry van redaksionele inmenging.

Ek en Christa, Suna se ma, wil net sê sy was ’n baie dapper mens. Ons is baie trots op haar en het waarlik waardering vir die goeie herinneringe aan haar.
Dr.Philip Venter, Suna se pa

Toe dokters haar aanraai om van haar stresvolle werksomstandighede weg te kom, het sy geantwoord sy kan nie gaan voordat dié stryd gewonne is nie.

Dirk Hermann, Solidariteit se bedryfshoof, het Venter beskryf as ’n vegter wat haar ideale uitgeleef het.

Kaizer Kganyago, SAUK-woordvoerder, het gesê Krige se bewerings is sy eie opinie en hy kan nie daarop reageer nie. Die openbare uitsaaier sou later Donderdag ’n volle verklaring oor Venter se dood uitreik.

Meer oor:  Suna Venter  |  Dood  |  Drama  |  Sauk  |  Aanvalle  |  Afsterwe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.