Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Drank: ‘Bly kalm, geen verbod kom’

Drankwinkels bly oop, al sê die polisieminister, Bheki Cele, en twee premiers dat hulle ten gunste daarvan is dat ’n alkoholverbod weer ingestel word.

Alkohol is sedert 1 Junie weer tussen Maandae en Donderdae te koop.

Phumla Williams, die kabinetswoordvoerder, het gister die versekering gegee dat Cele en ander se opinie “hul eie is” en nie die mening van die meerderheid kabinetslede weerspieël nie.

31%: Volgens Bheki Cele die persentasie Suid-Afrikaners wat alkohol drink.

“Volgens die kabinet is Suid-Afrika tans in vlak 3 van die inperkingsregulasies en daarvolgens is dit wettig om binne die voorgeskrewe tye alkohol te koop en verkoop,” sê Williams.

Drinkers moet asseblief kalm bly.

“Ons maan die publiek om asseblief tog nie nou die winkels in paniek te bestorm nie.”

Ook die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, en sy eweknie in die Oos-Kaap, Oscar Mabuyane, was onder diegene wat die afgelope tyd hul steun vir ’n nuwe alkoholverbod uitgespreek het.

Cele het Dinsdag, tydens ’n besoek in KwaZulu-Natal aan die familie van twee Durban-metropolisielede wat doodgeskiet is, gesê as dit van hom afhang, is alkohol weer verbied.

“Ek het al baie gesê as ek die kwessie moes bestuur en die geleentheid sou kry om self oor die saak te besluit, sal my eerste prys wees om alkohol te verbied.”

Hy het verduidelik dat dit nie van hom afhang nie, maar dat hy “seker (is) die saak sal by die bevelsraad en in die kabinet bespreek word”.

Volgens Cele is ’n beduidende meerderheid Suid-Afrikaners nie alkoholgebruikers nie.

“Volgens ons syfers is dit net 31% van Suid-Afrika wat alkohol gebruik.

“Sowat 69% drink nie, maar met al die moeilikheid gaan jy dink en glo almal is dronk. Van daardie mense is maar 15 jaar oud,” sê Cele.

Prof. Salim Abdool Karim, die regering se hoofraadgewer oor Covid-19, het die afgelope week in ’n onderhoud met eNCA gesê hy is nie vir of teen die herinstel van die verbod op alkoholverkope gekant nie, maar as hospitale onder druk kom sal die regering daarna moet kyk om oordeelkundig die een of ander beperking daarop te plaas.

“Met alles in ag genome is dit ’n probleem,” het hy gesê.

“Vir my is die groot kwessie dat sodra groot getalle Covid-19-pasiënte by ongevalle begin instroom, loop elke ander pasiënt wat vir ander redes hospitaal toe gaan die risiko om aangesteek te word.”

Hy het gesê daar is ander belangrike kwessies ook.

“Noodsaaklike beddens en dienste word deur pasiënte met alkoholverwante beserings en mediese probleme in gebruik geneem, in plaas van om reg te wees vir moontlike Covid-19-gevalle.”

Meer oor:  Salim Abdool Karim  |  Oscar Mabuyane  |  Bheki Cele  |  Alan Winde  |  Drankverkope  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.