Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Drankwinkels maak gereed vir stormloop

Ná 65 droë dae vrees drankhandelaars ’n stormloop en tekorte aan voorraad wanneer verbruikers Maandag weer mag drank koop.

Prof. Salim Abdool Karim, die regering se hoofraadgewer oor Covid-19, het juis onlangs gewaarsku twee supermarkte in Kaapstad het vinnig groot brandpunte meegebring en in “superverspreiders” ontaard.

Personeellede van Tops in Adderleystraat, Kaapstad, pak Vrydag voorraad vir verbruikers vir Maandagoggend uit. Foto: Edrea du Toit

Om ’n moontlike stormloop teen te werk het die regering aangekondig alle dranklisensiehouers, wat restaurante, sjebiens en kroeë insluit, mag ook drank verkoop.

“Hierdie besluit sal ver gaan om die risiko te verminder vir kliënte wat na stedelike gebiede sou moes reis en groot handelaars sou oorstroom,” het Winston Hector, president van die Nasionale Drankforum, Vrydag gesê.

Kort ná die aankondiging het Clarke’s Bar and Dining Room in Breestraat, Kaapstad, op sy Facebook-blad aangekondig klante kan solank bestellings plaas om hul gunstelingbier môreoggend saam met hul “koffie en croissants” te kom haal.

Cape Town Fish Market in die Waterfront het ook ’n lys met drankwinskopies gestuur vir vooraf bestellings.

Met Rapport se besoek aan verskeie handelaars oor die naweek was personeel reeds besig om voorsorgmaatreëls te tref.

Staalheinings is selfs buite die Norman Goodfellows-drankwinkel in die Gardens-winkelsentrum in Kaapstad opgerig.

Shoprite Holdings het by navraag gesê hulle maak voorsiening vir bykomende veiligheid by hul drankwinkels. Hoeveel mense ’n winkel mag binnegaan sal afhang van die winkel se grootte, terwyl beperkings op produkte ook kan geld.

Pick n Pay het bevestig elke klant se aankope sal beperk word tot:

* 3 kiste bier;

* 3 kiste sider;

* 6 bottels spiritualieë;

*3 bokse bokswyn.

’n Eienaar van die Overberg-streek, wat op voorwaarde van anonimiteit praat, vrees die beperkte dae en ure wat sy twee winkels nou mag oop wees, sal in ’n “onvermydelike stormloop” ontaard.

“Mense koop nie noodwendig hier aanlyn drank nie, en as jy laer pryse as jou kompetisie aanbied, is dit nie moeite vir iemand om 2 km verder te stap en sy drank goedkoper hier te koop nie.”

Boonop vind sekere van die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) se uitbetalings ook Woensdag en Donderdag plaas.

Om die voetverkeer by winkels te verminder, het Pick n Pay en Shoprite Vrydagoggend gesê klante in die Wes-Kaap en Gauteng mag beperkte hoeveelhede drank vooraf aanlyn bestel.

Ander e-handelaars kan nie voor bly met bestellings nie.

Matthew Leighton, woordvoerder van die e-handelaar OneDayOnly.co.za, het die afgelope week gesê in April is 220% meer bestellings vir drank al geplaas as in Maart.

Getwine, ’n aanlyn handelaar wat in plaaslike wyn spesialiseer, het nie in die inperking opgehou om bestellings te aanvaar nie, met die belofte om aflewerings te doen sodra drankverkope toegelaat word.

Die stigter, Johan Wegner, sê nadat pres. Ramaphosa op 24 Mei aangekondig het drank gaan weer van 1 Junie beskikbaar wees, is Getwine so oorval dat hulle Dinsdag moes ophou bestellings aanvaar om seker te maak hulle kry uit wat bestel is.

“Met die aanbreek van die grendelstaat was aankope aanvanklik traag aangesien die meeste mense hul wyn en drank aangekoop het voordat dit begin het, maar in April het ons 70% gedoen van ons omset in vergelyking met ons April 2019-omset. Met die aankondiging van die grendelstaatverlenging in Mei het verkope skerp gestyg, en ons was op 14 Mei verby ons Mei 2019-omsetsyfers. Met pres. Ramaphosa se aankondiging op 24 Mei het ons daagliks ongekende omsette beleef en is verkope meer as 400% op teenoor Mei 2020 en ons kon nog nie ’n enkele bottel aflewer nie.”

Wegner waarsku egter: “Wat die verbruiker nie besef nie, is dat meeste drankwinkels, en dit sluit ons aanlyn ondernemings in, se voorrade erg uitgeput is in die laaste dae voor inperking, en dat geen aanvullende voorraad intussen ontvang is nie.

“Die vraag is hoe vinnig leweransiers hul produkte op die rakke kan kry om verkope Maandag aan die publiek toe te laat.”

Meer oor:  Salim Abdool Karim  |  Inperking  |  Drankverbod  |  Covid-19  |  Drankverkope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.